Op die spektrum, maar wat beteken dit?

Deur Lourindi Nel

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Ek onthou hoe ek as grasgroen, pas-gegradueerde kleuterskooljuffrou (meer as 20 jaar gelede) in my onskuld een dag vir die mamma van ʼn oulike, maar absoluut onhebbelike seuntjie, aangebied het om hom op te pas sou sy ooit iemand nodig hê om haar te help. Hy was nie in my klas nie, maar die onmisbare intensiteit van sy menswees het my oog gevang en my hart gesteel.

Groot was my verbasing daardie naweek toe sy mamma sak-en-pak met hom by my huis vir ʼn oorslaap-naweek opdaag. Miskien was dit die ywer in my eie hart of dalk die moedelose, desperaatheid op die enkelmamma se gesig wat gemaak het dat ek “ja” sê vir die vreemde versoek en saam met hom op die stoep agtergebly het terwyl sy mamma haastig teen die trap af draf. Min het ek geweet dat dit my heel eerste ontmoeting sou wees met die sorg van ʼn neurodivergente kind – ʼn hiperaktiewe mensie met erge sensoriese en prosesserings-uitvalle, ʼn lyfie wat nooit afskakel nie en glad nie slaap as ʼn mens hom nie sus nie, wat sukkel om te luister en in sy kleuterskoolklas lank reeds as ‘stout’ en ‘baie aggressief’ gebrandmerk is.

Dit was ʼn moeilike naweek, maar ek was nog nooit iemand wat terug gestaan het vir ʼn uitdaging nie!

Dit was die begin van my passie om maniere te kry om hom te verstaan en te help, om deur die loop van die jare ander kinders te verstaan en te help en meer as ʼn dekade later ook my eie kind.

Outisme is ʼn groot woord om te hoor uit die mond van ʼn dokter wanneer hy oor jou kind praat. Dit is ʼn mediese term wat in dit vashou ʼn wêreld van anders dink, anders kommunikeer, anders na gewone dinge soos sosiale geleenthede, skool en maats kyk. Dit is dikwels die begin van groot besluite wat ʼn mens nie gedink het jy ooit sal hoef te maak nie, soos of jy jou kind op medikasie wil sit of nie, of jy kans sien om nog iemand in die ondersteuningspan toe te laat en of die terapie wat skynbaar groot sukses vir ander kinders het, wel vir jou kind werk.

Dit is ʼn woord wat ʼn mens dwing om dieper ondersoek in te stel na wat presies jy sien as sukses en hoe jy waarde bepaal. Dis ook ʼn woord wat ʼn mamma-hart valideer, omdat sy lankal geweet het dat iets anders is en dat die liefkind wat so dikwels in die moeilikheid kom en soms so swaar kry om dinge te doen wat ander kinders oënskynlik met die grootste gemak doen, inderdaad nie net meer dissipline nodig het nie.

April is Outisme-bewustheidsmaand en so is dit dus op my hart om met ons heel eerste artikel in hierdie reeks rubrieke nie net bewustheid te skep van wat outisme is en hoe ʼn mens dit kan identifiseer nie, maar ook om dalk vir ʼn oomblik erkenning te gee aan ouers wat die dikwels klipperige pad van ouer wees vir ʼn kind op die spektrum loop. Outisme is selde op die oog af sigbaar vir mense wat nie bewus is van kenmerkende eienskappe nie. Uit die aard van die saak beteken dit dus dat mense dikwels dieselfde sosiale verwagtings het van hierdie kinders en hulle ouers as van neurotipiese gesinne.

Outisme is ʼn neuro-tipe wat gekenmerk word deur onder meer uitdagings in sosiale interaksie, kommunikasie en gedrag. Dit kom voor op ʼn spektrum, wat beteken dat dit individue op verskeie maniere beïnvloed, en dat die impak kan wissel van lig tot ernstig in terme van die vermoë tot onafhanklike funksionering. Merkers wat kan dui op die nodigheid om verdere ondersoek in te stel sluit die volgende in:

Sosiale en emosionele uitdagings: Kinders op die spektrum vind dit dikwels moeilik om sosiale verhoudings te vorm en te handhaaf. Hierdie onvermoë hou onder meer verband met die moeite wat ervaar word in die raaksien en prosessering van nieverbale kommunikasie en onuitgesproke sosiale reëls soos byvoorbeeld die belangrikheid van oogkontak wanneer ʼn mens met iemand praat. Bydraend sukkel hulle ook dikwels met emosionele regulasie en verandering, selfs soos met oorgange tussen daaglikse aktiwiteite en sensoriese integrasie.

Uitdagings rondom kommunikasie: Variërende kommunikasiepatrone kan ʼn vroeë teken van outisme wees en sluit taalontwikkelingsvariasies, vertraagde spraak, of herhalende taalgebruik soos byvoorbeeld egolalia in. In ekstreme gevalle kan dit gebeur dat kinders glad nie of baie selektief praat en ook min belangstelling toon in gesprekskommunikasie. Daar is dikwels uitdagings rondom die nieverbale of geïnsinueerde elemente van kommunikasie sodat sarkasme, humor en kontekstuele afleidings algemeen agterweë bly. Weens die wyse waarop inligting geprosesseer word, is dit dikwels ook vir hierdie kinders moeilik om inligting akkuraat te prioritiseer.

Uitdagings met gedrag: Sensoriese sensitiwiteit in die vorm van sterk reaksies op omgewingsstimuli soos klank, lig en beweging, aanraking en teksture, reuke en selfs smake kom algemeen voor. Kinders op die spektrum is dikwels sensories vermydend of soekend en sukkel om die vloed van inligting waarmee ons breine in enige gegewe oomblik gebombardeer word, toepaslik te filter. Die uitvloeisel hiervan is dikwels intense emosies en frustrasie. Herhalende gedrag, soos handfladder, draai, of ander vorme van stimulasie is dikwels teenwoordig as ʼn poging om te self-reguleer deur die omgewingsaanslag. Obsessiewe belangstelling in spesifieke voorwerpe, soos speelgoed of selfs onderwerpe, is ook kenmerkend. Voeg hierby impulsiwiteit, probleme met selfregulasie, uitdagings met uitvoerende funksies soos self-organisasie, beplanning en tydbestuur en onvoldoende propriosepsie en dit lyk sonder veel moeite (maar verkeerdelik) asof ʼn kind moedswillig, ongeskik en ‘moeilik’ is.

Bydraend tot die ouerskapskompleksiteit van kinders op die spektrum is die feit dat geen twee neurodiverse kinders presies dieselfde profiele het nie. Daar is ʼn breë kategorie van eienskappe waarvan almal of net sommiges, intens of net ligweg, altyd of net met tye teenwoordig kan wees. Net in hierdie een aspek, die feit dat kinders met outisme een dag kapasiteit het vir ʼn sekere aktiwiteit of ervaring en die volgende dag dalk glad nie, lê ʼn magdom ervarings wat moeilik met ʼn pen beskryf kan word. Dit skep dikwels die illusie dat ʼn kind iets kan doen, maar net nie wil saamwerk nie.

Lourindi Nel (Foto verskaf)

Wat het ons ouers van neurodivergente kinders meer nodig as enigiets anders? ʼn Gemeenskap wat verstaan dat anders nie ʼn sinoniem vir minderwaardig is nie, dat inklusiwiteit meer is as blote toleransie en dat dit ʼn duisend maal oor die moeite werd is om die moeite te doen om insig te kry voordat ʼn oordeel gevel word.

Hiermee dan Viva vir al ons ouers wat met deernis en liefde maniere vind om hulle kosbare kind op die spektrum emosioneel heel en met regverdige geleenthede in ʼn neurotipiese wêreld te help oorleef!

  • Hierdie is die eerste in ‘n reeks artikels oor ouerskap en die volgende artikel sal op 2 Mei verskyn. Lourindi is reeds vir die afgelope 20 jaar ʼn kinder- en volwasse-berader in Centurion. Sy is gelukkig getroud en die trotse ma van vier kinders – ʼn 17-jarige, ʼn 9-jarige, en ʼn tweeling van 5. Haar passie is om gesinne te bemagtig deur ouerleiding, ouerskapswerkswinkels en enige ander moontlike manier om gesond en gelukkig te funksioneer. Volg haar op Facebook of Instagram, of skakel haar op 062 374 2847.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.