Rachelle Best: Só help sy om kinders aanlyn veilig te hou

Rachelle Best wil haar passie vir tegnologie en ‘n veilige omgewing aanlyn met die wêreld deel. (Foto verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Rachelle Best, entrepreneur en tegnologievraat, is veral bekend vir haar app, FYI play it safe, wat ouers help om hul kinders aanlyn te beveilig. Dit is beskikbaar op Google Play Store.

Rachelle is die trotse ma van ʼn 16-jarige dogter en woon saam met haar lewensmaat in die skilderagtige Kaapstad. Sy vertel dat sy al vir so lank as wat sy kan onthou in tegnologie belangstel. “Op twaalf het ek my eerste rekenaar gekoop, met sakgeld wat ek gespaar, en begin om eenvoudige programme te skryf om probleme op te los. Ek het altyd ʼn sakebrein gehad en toe ek besef dat geoktrooieerde rekenmeesters ʼn tegnologie-roete kan volg, was dit vir my die beslissende faktor om dié beroep te kies.”

Sy het besef dat sy ʼn kwalifikasie gevind het wat haar die sakevernuf en -vaardighede sou gee wat sy nodig gehad het om ʼn loopbaan in lyn met haar belangstelling in tegnologie te kon volg. Ná matriek het Rachelle deeltyds deur Unisa studeer terwyl sy voltyds gewerk het. “Dit was moeilik, maar dit het my soveel lesse geleer oor veerkragtigheid, deursettingsvermoë en die najaag van drome. Met genoeg harde werk, talle vroeë oggende en laat nagte, en die ondersteuning van my familie, het ek gekwalifiseer as geoktrooieerde rekenmeester. Ek is vandag dankbaar dat my pad presies só uitgewerk het. Die lesse wat ek geleer het en die mense wat ek ontmoet het, is deel van die mens wat ek vandag is.”

Rachelle is self ‘n ouer en daarom weet sy van die geleenthede en gevare wat tegnologie bied. (Foto verskaf)

Terwyl sy deeltyds studeer het om ʼn geoktrooieerde rekenmeester te word, het sy by een van die grootste vier maatskappye aangesluit as ʼn voorgraadse student in hul tegnologie-risikospan, waar sy haar studies voltooi en as ʼn geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer het.

Haar reis het haar gelei om ʼn sakekonsultant te word en komplekse probleme vir sakeondernemings op te los. ʼn Probleem in haar persoonlike rol as ma het egter tot ʼn heel nuwe pad gelei. “Toe ek ʼn probleem in my persoonlike en ouerskaplewe teëgekom het waarvoor ek nie onmiddellik ʼn antwoord gehad het nie, moes ek die oplossing self ontwikkel, wat ek trots kan sê nou FYI play it safe genoem word.” Rachelle sê dit is eenvoudig om ʼn uitdaging te identifiseer, maar minder maklik om ʼn doeltreffende oplossing te vind. “Die mees uitdagende aspek van probleemoplossing is egter om tyd en moeite te belê om ʼn idee ʼn werklikheid te maak. In my strewe om ʼn beter ouer te wees, het ek hierdie pad met volharding betree.”

Rachelle het die uitdagings van ouerskap in ʼn digitale wêreld uit eie ondervinding verstaan. Haar dogter is die primêre rede waarom hul besluit het om die FYI play it safe-app te ontwikkel. “Toe ek oorweeg het om vir my dogter ʼn selfoon te gee, het ek deeglike navorsing gedoen oor enige programme wat kon help om haar veilig te hou in die aanlyn omgewing. Ek kon nie ʼn enkele oplossing vind wat volkome bevredigend was nie. Daar was ook geen beskikbare hulpmiddel wat my in staat sou stel om regtig te weet wat aangaan nie, en my sou waarsku as sy aan enige skadelike inhoud of situasies blootgestel word nie.” Terselfdertyd wou Rachelle hê dat haar dogter moet voel dat sy haar privaatheid respekteer en dat sy haar vertrou. Daarom was programme wat haar volle toegang tot haar boodskappe sou gee buite die kwessie.

Statistieke toon dat kinders deesdae op al hoe jonger ouderdomme selfone en tablette kry. Navorsing van 2021 dui daarop dat die gemiddelde kind, van tussen 8 en 12 jaar oud, ongeveer vyf en ʼn half uur per dag voor ʼn skerm deurbring. Dié tyd sluit alle skerms in, insluitend televisie. Alhoewel dit dalk nie na báie tyd mag klink nie, is dit tog gelykstaande aan die werksweek van ʼn volwassene, dus 40 ure. Dieselfde navorsing toon ook dat ons kinders reeds op ʼn vroeë ouderdom blootgestel word aan inhoud wat nie gepas is vir hul ouderdom nie.

Rachelle Best het die FYI play it safe app ontwerp om ouers te ondersteun. (Foto verskaf)

“In onlangse onderhoude vir die podsendingsreeks, Sip the Tea, het ek openhartige gesprekke met kinders gehad oor hul ervarings in die aanlyn wêreld. Elkeen met wie ek gepraat het, het ʼn unieke storie om te deel, of dit nou gaan oor hul deurleefde ervaringe met aanlyn boelies, vroeë blootstelling aan pornografie, of die aanskou van verontrustende inhoud wat aanleiding gegee het tot nagmerries en slapelose nagte. Dit is duidelik dat ons kinders in ʼn uitdagende wêreld leef en ons moet hulle help om ʼn veilige en gebalanseerde pad in hierdie digitale landskap te vind.”

Rachelle sê tegnologie bied ongetwyfeld geweldig baie geleenthede aan kinders en dat dit nie ʼn opsie is om hulle daarvan te weerhou nie. “Ons verantwoordelikheid lê daarin om hulle te leer om dit veilig en doeltreffend te gebruik. Dit behels die opbou van ʼn vertrouensverhouding met ons kinders, waarin hulle weet dat hulle met ons kan praat, hulle kommer kan deel, en hulle vrae kan vra. Deur hierdie verbintenis te skep, kan ons hulle toerus met die nodige vaardighede en bewustheid om verstandige keuses te maak, hul privaatheid te beskerm en hulle digitale welstand te bewaak.”

Die doel van FYI play it safe is om ouers te ondersteun deur veiligheid vir kinders in die aanlyn omgewing te bevorder, terwyl die privaatheid van hul gesprekke op die nodige wyse geëerbiedig word.

Hierdie gebruikersvriendelike app, wat nou ook beskikbaar is op Google Play, monitor die inhoud van kinders se aanlyn kommunikasie en ander aanlyn aktiwiteite en verskaf waarskuwings aan ouers oor moontlike tekens van kuberboeliery, depressie, selfskade, selfmoord, of jou kind geteiken word en of wanneer hulle betrokke raak by volwasse inhoud.

Rachelle deel haar insig in die vorm van praatjies by verskeie skole, veral gerig op ouers, waar sy die werklikheid van wat kinders in die aanlyn wêreld ervaar aan ouers oordra. Sy deel ook haar persoonlike ervaring oor wat sy geleer het uit gesprekke met kinders tydens die Sip the Tea-onderhoude. “My droom is om my passie vir tegnologie en die aanlyn veiligheid van kinders te deel, en sodoende ander in Suid-Afrika te inspireer om saam te werk om ons kinders veilig te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.