Stygende werkloosheid en die prys wat gesinne betaal

(Foto: Steve Knutsen/Unsplash)

“Ekonomiese verwoesting wat die bestaande lyne van werkloosheid, armoede en ongelykheid versterk het.” Só beskryf prof. Raymond Parsons van NWU se Besigheidskool die afgelope 18 maande in Suid-Afrika.

Skokkende statistieke toon dat daar tans 7,2 miljoen werkloses in ons land is – net in die laaste termyn van 2020 is nóg 701 000 by die syfer gevoeg. Van die 682 000 mense wat vroeg in die grendeltyd hul werk verloor het, is net 92 000 weer in diens geneem.

“Ons hoef maar net om ons rond te kyk en sien hoeveel hotelle toegemaak het – in ʼn 5 km-radius in Centurion tel ons drie – om te weet die prentjie gaan nie gou verander nie. Ons maatskaplike werkers sien reeds lankal die impak van werkloosheid op gesinne – en dit gaan oor veel meer as kospakkies uitdeel,” verduidelik Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos.

“’n Gesin wat finansieel afgetakel word, se struktuur kan begin verkrummel. Onderlinge verhoudings begin deurloop, stres buig menige mense se rûe – en kinders kan die spanning aanvoel. Nie net omdat geld skraps is nie, maar oor wat onsekerheid aan mense se menswees doen. Ouers en kinders kan na gewoontevormende middels draai om hul probleme te probeer verdoof, en so word ons taak soveel moeiliker.

“Sommige kinders moet eenvoudig uit omstandighede wat vir hulle gevaarlik is, verwyder word. Dit is egter nie ons doel nie. Ons probeer in alle gevalle gesinne binne-in hul unieke omstandighede bystaan, ondersteun en toerus om self die mas op te kom. Ons het programme in al ons areas wat daarop gemik is om daadwerklike aandag aan ʼn wye reeks probleme te gee.

“Dit bly waar dat ʼn kind se grootste behoeftes liefde, koestering en beskerming is. ʼn Gesin waar albei ouers werkloos is, ly seker die ergste. Jong kinders word gekonfronteer met honger. Hierdie getalle groei en dit lyk nie asof ons gou ʼn ommekeer hierin gaan sien nie.”

Van der Merwe sê die impak van 2020 begin nou die letsels toon. Verlede jaar was mense nog ingeperk, maar nou kom dinge na vore wat tydens die inperking wortel geskiet het.

“Veral kinderverwaarlosing het toegeneem. Ons sien kinders wat nooit gekookte kos sien nie – party kan nie eens met mes en vurk eet nie, omdat hulle op brood en worsies grootgemaak word. Ander kom uit omstandighede waar hul nie eens weet van elektrisiteit nie. Sommige situasies is benard. Maar dit is juis hier waar ons maatskaplike dienste die verskil kan maak.

“Ons lewe in ʼn tydvak waar mense nie langer agter hul mure kan bly nie. Ons moet mekaar ondersteun (al kan ons nie hande vat nie) en mekaar se behoeftes probeer raaksien, en help waar ons kan. Onbetrokkenheid kan oorkom word. Daar sal altyd behoeftes wees wat nooit aandag kry nie en wat die maatskaplike gesondheid van ons samelewing in maatskaplike gewondheid verander het. Maar élkeen van ons kan help,” sluit van der Merwe af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dirk Mostert ·

Normaalweg is daar 3 hoof-faktore wat ekonomiese ontwikkeling en werkskepping belemmer: Vakunies, oordrewe arbeidswetgewing en omgewingaktiviste. Die beplande pandemie met gepaardgaande inperkingsregulasies het ‘n reeds wankelende ekonomie verder geknou. Die owerhede se prioriteite is agterstevoorom.

Groen Ghoen ·

Volgens die jongste ”Ranking of happiness 2018-2020” verslag is Suid-Afrika 103e van die 149 lande op die lys. Werkloosheid is onteenseglik die land se grootste probleem – vir hoe lank nog kan die belastingbetalers die massiewe en stygende maatskaplike toelaes en die ander ANC sosialiste drome befonds? In Biden se Amerika loop die inflasiespook en dit gaan almal se sakke raak. Wat gaan dan met S.A. gebeur?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.