Waarom bly skooltoelatings jaarliks ’n tameletjie in Gauteng

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum. (Foto: Reint Dykema)

Deur Melanie Buys

Op Donderdag 15 Junie gaan duisende ouers van voornemende gr. 1- en 8-leerders in Gauteng aansoek doen om in 2024 plek vir hul kinders in goeie skole te probeer verseker.

Die meeste skole se opedae is reeds verby, maar ongeag hoe proaktief ouers (en skole) probeer optree, moet hulle elke jaar benoud wag om sekerheid te kry waar hul kind volgende jaar sal skoolgaan. Alles hang van Gauteng se onderwysdepartement af wat die laaste groen lig hiervoor moet gee. Dit, ten spyte van die Skolewet van 1996 wat skoolbeheerliggame die reg gee om die toelatingsbeleid te bepaal én toe te pas.

Die einste Skolewet wat elke skoolbeheerliggaam die reg gee om toelatingsbeleid te bepaal en toe te pas, gee die provinsie se LUR van onderwys die verantwoordelikheid om te verseker dat daar genoeg skole is om aan die provinsie se onderwysbehoefte te voldoen. En, wat gebeur in Gauteng?

Sedert 2012 het die leerdertal in Gauteng gegroei tot meer as 600 000. Die LUR van onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, se voortvarende voorganger, Panyaza Lesufi, het honderde nuwe (broodnodige) skole belowe, maar daar is vandag slegs 25 meer openbare skole as in 2012.

Afrikaanse skole het dieselfde uitdaging: die Solidariteit Navorsingsinstituut wys ʼn groot toename aan Afrikaanssprekendes in Gauteng, maar sedert 2012 is daar 69 minder Afrikaanse skole in die provinsie. Teen 2022 het die gemiddelde getal leerders in die oorblywende 246 Afrikaanse openbare skole gevolglik vanaf 590 leerders per skool tot 970 leerders per skool gestyg. Daar is wel ook ʼn groot styging in die aantal onafhanklike skole in Gauteng, maar onderrig in hierdie skole is hoofsaaklik in Engels. Dit lei daartoe dat daar tans 36 000 minder leerders as 10 jaar gelede is wat in Afrikaans kan skoolgaan, ten spyte van veel meer Afrikaanse mense in Gauteng! Dít sorg vir ’n groot tekort aan Afrikaanse skole in die provinsie.

Die ANC se pogings om goeie Afrikaanse skole te kaap, kan gefnuik word deur toegewyde ouers wat aansoek doen sodra die aanlyn registrasiestelsel open. As skole binne die eerste dag of twee reeds vol is met Afrikaanse aansoeke, is dit nie nodig om hulself te verdedig teen die aandrang om Engelse klasse in te neem nie. “Wat is een Engelse klassie nou as ons vier Afrikaanse klasse het?”, vra baie mense. Ongelukkig wys syfers die afgelope 10 jaar daarop dat dit selde by een klasgroep bly en dat parallelmedium skole dikwels binne ʼn paar jaar heeltemal verengels. Konflik ontstaan as gevolg van ʼn gebrek aan hulpbronne.

Gehalte-onderwys is ʼn onmisbare hulpbron wat ʼn gemeenskap se toekoms kan verseker. Eerste in reg, eerste in plek – first come first served – is gelukkig steeds ʼn erkende regsbeginsel. Die flinke registrasie van gr. 1’s en 8’s is die eenvoudigste manier om Afrikaanse skole Afrikaans te hou, en gehalte-onderwys daardeur vir jou kind te verseker.

Môre (Donderdag 15 Junie) is D-dag, ouers moet gereed staan!

Lees meer: https://skole.co.za/gauteng-toelatings-2024/

  • Melanie Buys is hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Matmiet ·

Jy kan doen wat jy wil, ons ervaring met die aanlyn stelsels was nie dat die wat eerste aansoek doen, eerste plasing kry nie, jy is ook nie versekenr van jou plek in n skool waarvan jy in die opvangsgebied bly nie. Daar word amper uitluitlik op adresse gewerk.

De Bok ·

Hoe werk dit as ek my kind by ‘n onafhanklike skool wil inskryf? Werk ek dan direk deur die skool? Of moet ek nogsteeds deur die departement se nonsens-sisteem werk?

Ek dink elke skool moet self verantwoordelik wees vir inskrywings en plasings. Onafhanklik of nie. Hierdie sentrale sisteem is net ‘n mags-vergryping van die departement.

annie ·

Jy hoop op wonderwerke? Afrika en veral die Nuutse SA, verstaan net Afrika-ritme en denke. Al is Engels hul geselstaal, is die konsep ‘reg’ nie in hul handleiding vir werksetiek omgesit nie. Julle doen en ons vat is die naaste vertaling.

mattk ·

‘n Stelsel word geskep waar jy ‘n aanwas van ongeveer 2000 nuwe boorlinge per dag moet inpas by ‘n infrastruktuur wat agteruit gaan en geen nuwe skole gebou word nie. By ons word kinders 20km ver vanaf ‘n woongebied met busse aangery om in die voorheen Afrikaanse skole onderrig te word. Daar is in 1989 laas ‘n skool gebou in ‘n omgewing van 50km radius terwyl die volks aanwas byne verdubbel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.