Watter bril dra jou kind?

kind_lees_bril.jpg

Argieffoto (Foto: Visionbeyond2020)

Deur Charlotte Fourie

Die doel van ʼn bril is eenvoudig: Dit moet die draer help om sy sig te verbeter, sodat hy die wêreld rondom hom duidelik en mooi kan sien. Hier praat ons natuurlik van ʼn normale bril en nie van die sogenaamde virtuele realiteit-brille, wat die draer daarvan ʼn heel ander wêreld wil laat sien en beslis nie die wêreld, soos dit is, weerspieël nie. Alhoewel nie almal van ons nodig het om ʼn bril vir beter sig te dra nie, kyk elkeen van ons tog met ons eie “bril” na die wêreld rondom ons, soos dr. Wikus Buys, die uitvoerende direkteur van Begrond, tereg opmerk: “Geen mens kan totaal neutraal en waardevry wees nie. Trouens, alle aspekte van die lewe word beïnvloed en vloei voort uit hoe die lewe en wêreld gesien word. Lewens- en wêreldbeskouing is die brille waarmee mense na die werklikheid kyk.”

Die opvoeder as oogkundige

Dr. Buys skryf in sy boek Eerstelinge van God: Onderwys vanuit die Verbond van Christelike opvoeding as ʼn verpligte ewigheidswerk aan God se kinders. Christelike opvoeding is nie alleen die taak van die ouer nie, maar ook die van die Christelike onderwyser in die Christelike skool. Nes ʼn oogkundige in sy praktyk, moet die onderwyser in die klas vir kinders die regte bril opsit – nie sodat kinders iets anders as die werklikheid kan sien nie, maar sodat hulle die werklikheid beter kan sien. Hierdie “hoe-ek-na-die-wêreld-kyk-bril” moet natuurlik ook ooreenstem met die bril wat die gesin dra.

In die skoolomgewing is onderwysers egter nie die enigste “oogkundiges” wat probeer om vir kinders ʼn “regte” bril op te sit nie. Die opstellers van ʼn kurrikulum doen dit ook, want geen onderwys is neutraal nie. Maar wat doen jy as twee oogkundiges se “voorskrifte” vir ʼn bril nie ooreenstem nie?

Die kurrikulum as oogkundige

In wese is “kurrikulum” dit wat die skool probeer onderrig, wat sosiale gedrag sowel as inhoud- en denkvaardighede kan insluit.

In die geskrewe kurrikulum word daar van onderwysers vereis om byvoorbeeld die struktuur van die atoom of die geskiedenis van die Afrikaner te onderrig (die openbare kurrikulum is op die internet beskikbaar). Die skrywers van hierdie kurrikulum gebruik egter die inhoud om ʼn baie spesifieke “bril” vir kinders te ontwerp. Dit kan beskryf word as ʼn wêreldse en sekulêre bril of ʼn bril wat gefokus is op die laagste gemene deler.

ʼn Skool en die inhoud van die kurrikulum vorm nie alleen ʼn kind se denke nie. Die impak wat ʼn skool op die hart van ʼn kind het, moet nie geringgeskat word nie. Alle skole en die liggame waaraan hulle moet rapporteer, het ʼn visie vir die soort persoon wat hulle wil hê hul leerlinge in moet ontwikkel. Met ander woorde, skole onderrig nie net vakkennis nie, maar poog ook om die emosies van die kind op te voed en sy lewensaksies te beïnvloed. Die krag wat ʼn skool het om ʼn sekere wêreldbeskouing by ʼn jongeling te vestig, is groot.

Die “staatsbril” is ʼn bril vir virtuele realiteit

Charlotte Fourie. (Foto verskaf)

Suid-Afrika is ʼn smeltkroes van kulture en tale en die politieke landskap is net so wyd en divers soos die land en sy bevolking. As die “politieke ouer” wil die staat van al sy skoolkinders (7 tot 18 jaar) goeie burgers maak. Die voormalige staatshoof, Thabo Mbeki, praat hiervan as die kweek van ʼn “nuwe patriotisme”.

Ná die eerste demokratiese verkiesing in 1994, moes die skoolkurrikulum natuurlik ook verander om groter klem op kwessies soos gelykheid, menseregte en inklusiwiteit te plaas. Die nuwe geslag moes juis nou so opgevoed word, sodat hulle bestaande lewensbeskouings krities kan beoordeel ten einde vir hulself te kan besluit oor kwessies soos geloof, gesin en werk – leerlinge hoef dus nou nie meer ʼn spesifieke bril te dra nie.

Onderwys was nog altyd blootgestel aan allerlei onskrif­tuurlike, ideologiese waanbeelde. Vanaf ateïsme tot ongesonde nasionalisme, liberalisme, sosialisme en deesdae veral humanisme.

Dink byvoorbeeld aan die omstrede voorgestelde omvattende seksualiteitsonderrig (ook bekend as Comprehensive Sexuality Education of CSE) wat ʼn paar jaar gelede opslae gemaak het? In ʼn media-inligtingsessie in Augustus 2021, het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, belanghebbendes en gemeenskappe aangemoedig om te mobiliseer en te verenig. “Die tyd het aangebreek om ons verskille met die godsdienssektor en ouers te begrawe…,” het sy gesê. Sy is vasbeslote om hierdie onderrig so gou as moontlik in alle publieke skole te implementeer.

Die bril van die regering is nie ons bril nie. “Die Christene bely egter dat Christus, die vleesgeworde Woord, die bril is waardeur ons na die werklikheid wil en moet kyk.”

Wanneer die staat toegelaat word om op outoritêre wyse die kurrikulum se inhoud en standaarde te bepaal, word gelowige ouers en die Christelike gemeenskap die reg ontsê om hul verantwoordelikheid teenoor God ten opsigte van die onderrig van hul kinders na te kom.

Alle waarheid lê in God. Hy is immers die God van waarheid (vgl. Psalm. 119:160), die Heilige Gees is die Gees van waarheid (vgl. Johannes. 14:16-17) en Jesus is die waarheid (vgl. Johannes. 14:6). God se geopenbaarde Woord is die beginpunt van alle kennis, dit is die waarheid en om hierdie rede kan dit wat in konflik met die Skrif kom, nooit die waarheid wees nie. Daarom is dit so belangrik dat die Bybel die kern van die skool se kurrikulum vorm. Die Bybel is nie alleen die belangrikste vak nie, maar ook die bron wat al die ander vakinhoude bepaal, asook hoe dit aangebied word.

Kies jou oogkundige baie versigtig

ʼn Bril laat jou nie net die wêreld beter sien nie – dit beskerm jou oë ook teen skadelike omgewingsfaktore. Daarom moet die oogkundige wat jou kinders se brilvoorskrif saamstel, jou kinders se Christelike etos voor oë hou.

Onderwys en die beheer daaroor, kan nie neutraal wees nie. Ideologieë wil hulself voortplant en in mense se harte indwing – en die bril wat die staat deur die onderwys gebruik, is die kragtigste instrument om dit te doen. Die tyd het dus aangebreek om ons kinders se oogkundiges en hulle brilvoorskrifte te meet aan die enigste en ware brilvoorskrif – dié een wat die Here sy kinders in die Bybel gee.

Die volgende artikel het eerste in die Mei 2022-uitgawe van “Die Boodskapper” verskyn. Lees dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Petrus Albertus ·

Die antwoord lê daarin om alle skole te privatiseer – heeltemal weg te doen met openbare skole, soos in Nederland. Dan kan elke ouer kies met watter ideologie hulle kinders opgevoed word en EEN ideologie word in niemad se keel afgedruk nie. Daar is een sentrale eksamen vir universiteitstoelating en alle leerders, uit alle skole, skryf daardie eksamen, wat dan wel vakwetenskaplike kennis toets sonder om noodwendig ‘n ideologie te bevorder. Alle geakkrediteerde skole – en daardie akkreditasie moet ook deur ‘n onafhanklike liggaam behartig word, nie die staat nie – kan ‘n mate van staatsbefondsing ontvang. Onthou maar net, ware bekering is ook nie breinspoeling nie. Ons as gelowiges moet gereed wees om aan elkeen ‘n antwoord te verskaf oor die hoop wat in ons leef MAAR, soos die apologete van ouds, met die volle kennis van waar die geloofsoortuiging en die oortuiging buite die geloof verskil.

piet ·

Dit staan enige bevolkingsgroep vry om sy eie privaatskool te stig en sy waardes daar uit te leef. Akademia is ‘n voorbeeld van ‘n Afrikaanse instelling. Die vraag is hoe maak jy dit bekostigbaar vir mense om hul kind na ‘n privaatskool van hul keuse te stuur. Dis onbekostigbaar vir die meeste mense.

Petrus Albertus ·

Dit is waarom ek sê daar moet NET privaatskole wees en dat ALLE wettige skole dan kan aanspraak maak op staatsbefondsing – dan word dit onmiddelik bekostigbaar. Dit dwing ook die gemeenskap om verantwoordelikheid te neem vir skole en nie net daardie grootse taak aan die staat te abdikeer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.