Al meer SA’ners wil gaan ski

’n Skiër vind sy weg deur die dorpie Val d’Isère in die Franse Alpe om te gaan ski. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Te midde van die rand se wipwarit-wisselkoers teen ander geldeenhede, die stygende koste van vlugkaartjies en kommer oor klimaatsverandering, het Club Med daarin geslaag om die verkope van hul vakansies te verdubbel in die jongste seisoen sedert hulle een van hul beste jare in 2019 ervaar het.

Club Med het vroeër in Januarie sy Suid-Afrikaanse ski-verslag vir die 2023‑’24-seisoen by sy plaaslike hoofkantoor in Johannesburg bekendgestel, wat reisverwagtinge, neigings en besprekingsprofiele vir die plaaslike mark ontleed. Die verslag toon dat alhoewel Suid-Afrika ʼn relatiewe nuwe mark vir ski-vakansiegangers het, daar al meer tekens van stewig groei in die marksegment is.

Volgens ʼn opname wat die maatskappy by 755 respondente, van wie 45% in Gauteng woon, gedoen het, smag 80% van Suid-Afrikaners na gesinsvakansies en ʼn verdere 17% het aangedui hulle wil avontuurlustige vakansies saam met vriende aanpak. Dit verduidelik waarom ʼn ski-vakansie as ʼn aanloklike opsie vir veral die 36 tot 45 ouderdomsgroep is.

Interessant genoeg het 93,2% van die respondente aangedui dat hulle reeds internasionaal na die pandemie gereis het en volgens Club Med se verslag was dit beslis nie net vir sake nie, maar vir vakansies ook. Verder het die verslag uitgewys wat Suid-Afrikaners se gunstelingaktiwiteite tydens ʼn skivakansie is, wanneer hulle verkies om te gaan ski en hoeveel keer hulle in ʼn week sal ski.

Die verslag het ook gekyk na die faktore wat reisigers se besluitnemingsproses beïnvloed, soos die pret van groepreise, die hunkering na outentieke kulturele ervarings by bestemmings, die begeerte om verskeie stede in een reis te besoek en ʼn onwrikbare verbintenis tot volhoubaarheid. Hierdie sneeubesoekers het ook die gemak en vreugde van Club Med se allesinsluitende avonture waardeer.

Wat die tyd van bespreking betref, het respondente verskeie voorkeure aangedui, met 11,3% wat meer as ’n jaar vooruit bespreek, 39,5% bespreek 6-11 maande voor die tyd, 35% doen hul bespreking 3-6 maande vooraf, 12,6% bespreek 1-3 maande vooraf, en 1,3% bespreking minder as ’n maand voor hul sneeuvakansie.

Plaaslike skiërs was dit eens dat die Franse Alpe hul gunstelingbestemming vir ʼn skivakansie is en bly. Daarna was Switserland (62,1%), Italië (60,7%) en Oostenryk (56,8%) respondente se voorkeurbestemmings, gevolg deur ander bestemmings (7,2%) wat lande soos die VSA, Kanada, Japan en Oos-Europa insluit.

Christophe Carraud, Club Med se bergoord-reiskenner wat self ʼn boorling van die Franse Alpe is, meen dit is die streek se eksotiese en magiese natuurskoon wat mense keer op keer daarheen teruglok.

“Club Med se oorde in die streek, veral Val d’Isère en Tignes, bly gewild omdat dit ʼn toevlugsoord in die berge bied wat ideaal is vir gesinne wat op soek is na avontuur en asemrowende uitsigte.

“Buiten die gerieflikheid om al jou topgehalte ski-toerusting vooraf te bespreek, kan jy ook direk by die oord in en uit ski. Vakansiegangers kan by elkeen van ons oorde hul ski-lesse direk bespreek by geakkrediteerde instrukteurs,” verduidelik Carraud.

As ski of sneeuplankry nie vir ʼn vakansieganger aanloklik genoeg klink nie, bied die berghotelle ook ʼn rits van ander aktiwiteite in die ongerepte landskappe soos sneeuskoen-staptogte, sneeufietsry, ʼn rit met ʼn hondeslee of selfs ysduike. Daar is ook nog jogasessies by elke oord en spoggerige spageriewe wat van Clarins se My Blend-produkte gebruik maak.

“Gastronomie by Club Med kraai behoorlik koning en daarom het elke oord minstens twee restaurante wat die heerlikste plaaslike en internasionale spyskaarte bied. Daar is ook Club Med se warm en feestelike atmosfeer waar ons elke dag se skisessies met ʼn heerlike partytjie en ʼn glas sjampanje afsluit.”

Olivier Perillat-Piratoine, die besturende direkteur van Club Med Suid-Afrika, meen Maart en April bied die beste waarde vir geld vir Suid-Afrikaanse gesinne in die Franse Alpe mits hulle nie klaar besluit het ʼn wit Kersfees is die droomvakansie nie.

“Tariewe vir besprekings is dan veel goedkoper omdat dit op die randjie van die ski-seisoen val. Die dae is ook langer en ʼn bietjie warmer, en dit pas ons plaaslike skoolvakansies natuurlik beter.”

Perillat-Piratoine sê hy is verheug om te sien hoe Suid-Afrikaners skivakansies omarm saam met Club Med. Hy is oortuig dit is veral die maatskappy se waarde wat die alles-insluitende vakansiepakkette bied, wat die deurslaggewende faktor vir prysbewuste plaaslike vakansiegangers is. Club Med roem hom daarop dat hy die leier op dié soort pakkette is.

“Ons vakansiepakkette sluit akkommodasie, kos, drankies, vermaak, ski-lesse, toerusting en ski-passe in. Alles kan vooraf bespreek word saam met jou vakansiebespreking aanlyn sodat jy net kan ontspan die oomblik wat jy op die vliegtuig klim.

“Jy kan natuurlik al hierdie items afsonderlik self bespreek, maar ons navorsing het al keer op keer bewys die doen-dit-self-model is nie noodwendig altyd goedkoper nie, boonop is dit tydrowend en vir ʼn eerstekeerreisiger kan dit sommer net oorweldigend wees.”

Die Club Med bandjie gee jou toegang na al die oord se geriewe en jou skipas word ook vir die tyd van jou verblyf uitgereik. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Hoekom sal Perillat-Piratoine aanbeveel dat Suid-Afrika se strand- en sonliefhebbers ʼn wegbreek in die sneeu oorweeg?

“ʼn Vakansie in die sneeubedekte berge is nou maar net ʼn heeltemal ander ervaring as ʼn eilandvakansie – iets wat jy net een keer in ʼn leeftyd moet beleef. Die ski en sneeuplankry is ideaal vir adrenalienverslaafdes en sportentoesiaste. Ander vakansiegangers geniet die atmosfeer, knusheid en verskeidenheid van aktiwiteite wat ʼn sneeubergvakansie bied.

Die verslag het verder ook lig gewerp op Club Med se deurlopende verbintenis tot verantwoordelike toerisme, wat duidelik is uit sy Happy to Care-program. Plastiek wat net een keer gebruik word, is uitgeskakel by al die ski-oorde en alle oorde beskik ook oor Green Globe-sertifisering.

Die Club Med Tignes-oord, wat in Desember 2022 ingewy is, staan as die eerste berghotel in Frankryk bekend met ʼn “baie goeie” BREEAM-sertifiseringsgradering, wat die handelsmerk se toewyding aan volhoubare praktyke illustreer. Dit is ook hier waar jy in die buitekroeg die sonpanele se meter kan dophou, terwyl dit die elektrisiteit meet wat die panele vir die hele hotel opwek, het Carraud gesê.

Verder word ʼn omgewingsbewuste benadering tot opknappingspraktyke gevolg, waar opgraderings bo nuwe konstruksies by alle Club Med-oorde verkies word.

Perillat-Piratoine het gesê terwyl die 2022‑’23‑ski-seisoen kommerwekkende hoeveelheid sneeuval gehad het, het 2023‑’24 tot dusver uitstekende neerslag beleef.

“Tog is klimaatsverandering ʼn bekommernis vir die toerismebedryf en word talle van ons aktiwiteite direk hierdeur beïnvloed. Dit is waarom Club Med ʼn sneeuwaarborg het. As die sneeuval nie na wense is nie, kan ons jou vakansie herskeduleer of jou bespreking na ʼn ander oord in die groep skuif met beter sneeuval. Op die wyse word jou kans op die beste skivakansie in die Alpe verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.