Beaverlac is Porterville se buitelug-paradys

Biljoene sterre, ʼn braaivleisvuur en die stilte van die nag wat oor jou spoel – ʼn mens kan nie vir veel meer vra nie. (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Die Winterhoekberge bied ʼn eersteklas-wildernisbestemming in die ruwe pieke wat hoog bokant Porterville teen die hemele troon, en die beste van alles is dié stukkie buitelug-paradys in die Bergrivier-streek is slegs twee-en- ʼn-half-uur buite Kaapstad geleë.

Die bestemming

Ek stel voor dat jy enige besoek aan Beaverlac ten minste ʼn langnaweek-affêre maak, want ʼn mens kan nie net ʼn aand of twee in hierdie varslug-wonderwêreld spandeer nie. En ja, die helfte van die avontuur is net om daar te kom.

Dié spiekeries kampeerplek lê verskuil in ʼn vallei daar vêr bokant die Bergrivier in die Sandveldvlaktes. Jy moet heel eerste Dasklip se pas baasraak, maar dit is nie ʼn probleem nie, want daar is min wegbreekplekkies wat met soveel spasie soos Beaverlac kan spog.

Beaverlac se bergfietsroete bied ʼn puik panorama oor Winterhoek se uitdagende pieke. (Foto: Jacques Marais)

Dit is geen wonder dat duisende avonturiers gereeld hier kom tent opslaan nie, want daar is 5 000 ha se fynbos en sandsteen wat op jou wag hier waar die Ratel- en Olifantsriviere saamvloei. Oor die millennia het die strome en wind die rotsbodem vervorm om pragtige poele, watervalle en grotte te skep. Hier kan jy kom speel tot jou tong uithang

Besoek www.beaverlac.co.za vir meer inligting.

Die roetes

Hier is hope plekke om fiets te trap of te voet die berge in te vaar, en jy kan sommer in Porterville opsaal indien jy lus is vir ʼn ‘Koning van die Berge’-soort trap teen Dasklippas se s-draaie uit. Dit is nou wel plek-plek lekker steil, maar die asemrowende uitsigte oor die Sandveld na die weste toe maak die stewige 7 km klim die moeite werd.

Daar is ook 22 Watervalle-kampplek se roete, waar ʼn mens lekker op die fiets kan gaan speel. Besoek www.22waterfalls.co.za vir meer inligting. (Foto: Jacques Marais)

Kyk uit vir die Beaverlac-teken waar die grondpad begin, en gee dan gas al met die 4 km afdraande langs tot by die kampeerterrein. Die wildernisgebied self spog met verskeie bergfietsroetes; kies dus koers oor die Ratelrivier se laagwaterbruggie, en volg die ‘Yellowfish/ Flatrock’-teken links verby ʼn groot skuur.

Dit is tyd om luidkeels te hoera, want hier betree jy die wilde hart van die Winterhoek. Trap met ʼn vinnige gruispad langs deur die asemrowende kliptempel-landskap, verby ‘Africa Cottage’ (7 km) en tot by die grenshek sowat 1,5 km verder. Daar is heelwat ander tweespoorpaadjies en roetes om te gaan verken, so maak seker jy pak genoeg padkos in.

Besoek www.bergriviertourism.co.za vir meer inligting.

Porterville is wyd en suid bekend vir sy beeldskone watervalle, skaars disa-spesies en ongelooflike gasvryheid. (Foto: Jacques Marais)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nici ·

Ek is seker die enigste persoon wat nie hou van Beaverlac nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.