Berlynse paleis ná jare en talle struikelblokke voltooi

Foto: Stefanie Loos/AFP

Na ʼn boutydperk van sewe jaar is die Berliner Schloss (Berlynse paleis) geopen. Weens die koronaviruspandemie moes die opening digitaal plaasvind, en daar sal in 2021, wanneer alles binne ook gereed is, ’n tweede opening wees, maar die gebou is nou voltooi.

Weens die ontwrigtings van 2020 het die voltooiing ’n jaar langer geduur as beplan, maar vir Berlyn, wat onlangs sy nuwe lughawe na ʼn boutydperk van 14 jaar geopen het, is dit al ’n sukses. Daardeur het Berlyn weer sy historiese hart teruggekry.

Die Berlynse paleis het ʼn lang geskiedenis en het na totale vernietiging soos ’n feniks uit die as herrys. Die heel oorspronklike gebou is reeds van 1443 tot 1451 as setel van die vorste van Brandenburg-Pruise in die styl van die Renaissance gebou. Dit het verskeie aanbouings en veranderings ondergaan. In sy finale vorm is die paleis in die pragtige styl van die barok deur die argitek Andreas Schlüter in 1713 voltooi. Dit was ook die voorbeeld vir die huidige herboude paleis met die kenmerkende koepel bo die hooffront. Die paleis was, met al sy veranderinge, egter deurentyd (tot in 1918) die woonplek van die Hohenzollern-dinastie in Berlyn, eers vorste van Brandenburg, later konings van Pruise en sedert 1871 ook keisers van die Duitse Ryk.

Na die afdanking en vlug van keiser Wilhelm II in 1918 is die paleis geplunder en het in die besit van die staat oorgegaan en ’n museum geword. In die Tweede Wêreldoorlog is dit erg deur vliegtuigbomme beskadig en het die binnekant met sy pronkvertrekke feitlik uitgebrand. Die buitemure het egter staande gebly en dit sou, soos talle ander historiese geboue orals in Duitsland, weer herstel kon word. Die Oos-Duitse bewind (wat ook die helfte van Berlyn, insluitend die middestad, beheer het) met sy leier Walter Ulbricht het in 1950 die ruïnes van die paleis laat opblaas en verwyder, om die spore van die gehate feudalisme dood te vee. Die besluit is wyd gekritiseer, selfs deur gesagsdraers in Oos-Duitsland.

Die oop spasie waar die paleis eens gestaan het, is deur die kommuniste tot Marx-Engels-plein hernoem en is as sentrale opmarsplek vir amptelike funksies gebruik. Van 1973-’76 het die kommuniste daar hulle eie pronkgebou opgerig, die Paleis van die Republiek, uit glas, staal, beton en asbes. Na die verwydering van die kommunistiese bewind in 1990 is die Paleis van die Republiek weens die toksiese en verbode asbes gesluit en uiteindelik tussen 2006 en 2008 afgebreek nadat alle asbes verwyder is.

Foto: Tobias Schwarz/AFP

Reeds voor die afbreek daarvan het die idee om die oorspronklike koningspaleis in die plek daarvan te herbou al meer aanhangers gevind. Verskeie verenigings en stigtings is in die lewe geroep om die idee te bevorder. In 1993 het ondersteuners van die herbouing met ʼn simulasie uit foeliepanele in die presiese afmeting op die oorspronklike plek aan mense ʼn idee gegee hoe die paleis gelyk het en hoe dit sou inpas in die moderne Berlyn, iets wat die verbeelding aangegryp het.

Daar was egter ook weerstand teen die herbou omdat dit in sekere kringe te veel na monargistiese nostalgie geruik het. Na ondersoeke en aanbevelings deur deskundiges het die Bundestag (nasionale parlement) in 2002 in beginsel op die herbou van die paleis en sy benutting as veeldoelige kulturele ruimte besluit. Na talle voorondersoeke, fondsinsamelings, debatte en argiteksvoorstelle is in 2013 met die bouproses begin.

Die paleis se amptelike naam is Humboldt Forum, vernoem na die ontdekker en botanikus Alexander von Humboldt, en die gebou sal hoofsaaklik ʼn groot uitstallingsruimte wees, wat veral die volkekundige versamelings van ander museums in een gebou huisves. Daar is ook ruimte vir onthale en ’n biblioteek. Dit is nie ʼn presiese herbouing van die oorspronklike paleis nie (anders as byvoorbeeld met die getroue herstel van die Frauenkirche in Dresden) en daar is ook moderne elemente ingebou. Drie kante en dele van die binnehof is wel in die oorspronklike vorm herstel.

Foto: Tobias Schwarz/AFP

Die linksgesinde Berlynse stadsregering, waarvan die eertydse Oos-Duitse Kommunistiese Party SED, nou onder die naam “die Linke“ deel is, was altyd koel tot vyandig teenoor die idee om die hoofsetel van die gehate keiserryk in die middelpunt van die stad te laat herleef. ʼn Polemiek het ook ontstaan oor die kruis op die koepel van die paleis, omdat dit kamstig aanstoot aan nie-Christene sou gee. Die donateur van die koepel het egter voet by stuk gehou dat die koepel gebou word soos wat dit oorspronklik gelyk het, ook met die inskripsie ter verheerlikking van Christus.

Vir die gesamentlike boukoste van amper €600 miljoen was daar net geringe finansiële ondersteuning deur die stad/deelstaat Berlyn, maar die federale regering het wel ʼn groot gedeelte bygedra, en die res, wat veral vir die kunstige versierings van die fronte gegaan het, is te danke aan private donasies. Veral die hoofdonateur en inisieerder van die hele projek, die Hamburgse ondernemer Wilhelm von Boddien, verdien lof vir sy toewyding en groot bydrae dat die paleis ten spyte van al die weerstand vandag voltooi is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.