Bly en werk in Barbados vir 12 maande

‘n Sonskyn dag op ‘n strand in Barbados met die tropiese paradys se wit sand en kristalhelder water. (Foto:
Anthony Ingham/Unsplash.)

Die Karibiese eiland van Barbados wil munt slaan uit werknemers wat sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie besef het hulle hoef nie meer in ʼn kantoor vasgekluister te wees om hulle werk te doen nie.

Mia Amor Mottley, eerste minister van Barbados, het verlede week gesê dié land beplan om ʼn 12 maande lange permit in te stel wat hulle ʼn Barbados Welcome Stamp noem. Dit sal besoekers toestemming gee om tot ʼn jaar lank op die eiland te bly en oor ʼn afstand vir ander maatskappye en organisasies te werk.

“Die permit sal persone van die buiteland toelaat om na ons te kom en digitaal van hier af te werk. Jy hoef nie meer in die VSA, Suid-Amerika of Europa te bly nie, jy kan hier kom werk vir ʼn paar maande, teruggaan en weer hiernatoe kom,” het Mottley gesê. Bykomende inligting oor die permit is egter nog skaars.

Die Insider.com berig ʼn verteenwoordiger van Barbados Tourism Marketing het gesê die regering moet nog die inligting oor die visum finaliseer.

Dit lyk of die idee daarop gegrond is dat reise vir eers al hoe moeiliker sal word, met baie administrasie, langer rye en talle gesondheidsondersoeke. ʼn Permit wat vir 12 maande se verblyf geldig is, sal so ʼn reis egter die moeite werd maak, reken dié regering

Bote op ‘n strand van Paynesbaai in Barbados. (Foto: Anthony Ingham/Unsplash.)

Volgens Forbes is lande soos Barbados in ʼn moeilike posisie. Hulle moet ʼn balans probeer vind tussen die risiko om Covid-19-gevalle van die buiteland in te voer en die verliese wat hulle ekonomie weens verminderde toerisme ly. Toerisme in Barbados is 40% van die land se BBP en verskaf soveel as 30% van al die werksgeleenthede op die eiland. ʼn Permit soos hierdie kan broodnodige toeriste en ʼn inkomste na die eiland bring.

Mottley het op 26 Junie gesê Barbados beplan om op Sondag 12 Julie weer vir toerisme te heropen, en vlugte na en van die eiland sal dan na verwagting ook weer hervat word.

Sy het bygevoeg dat die land sal voortgaan om ʼn risikogebaseerde benadering te volg om hul land, mense en besoekers teen Covid-19 te beskerm.

Tog is daar talle lande wat steeds internasionale reise belet of heeltemal ontmoedig, veral in die VSA.

In ʼn onlangse verklaring het Barbados Tourism Marketing besoekers uit lande met ʼn hoë risiko (meer as 10 000 nuwe gevalle in die afgelope sewe dae) van Covid-19 aangemoedig om hulle toets binne 72 uur van hul vertrek na die eiland af te lê. Reisigers van plekke met ʼn lae risiko (met minder as 100 gevalle in die afgelope week) kan die toets tot ʼn week voor vertrek aflê.

Reisigers wat nie vir Covid-19 getoets is voor hulle aankoms nie, sal getoets moet word wanneer hulle land en dan op hul eie koste in kwarantyn moet bly tot hulle hul uitslae ontvang het. Dit kan tot twee dae duur. As ʼn reisiger positief toets, sal hulle in isolasie geplaas word waar hulle sorg sal ontvang van die land se departement van gesondheid en welstand.

Enterprise strand is een van die rustigste swemstrande in Barbados. Hierdie strand met sy wit sand en turkoois see is een van die mees idilliese strande in die Karibiese Eilande. (Foto: Anthony Ingham/Unsplash.)

Besoekers sal ook ʼn aanlyn aankoms- en vertrekvorm moet invul wat verband hou met hul gesondheid en temperatuurkontroles op die lughawe.

Volgens die Johns Hopkins Universiteit se data het Barbados 98 bevestigde Covid-19-gevalle en sewe sterftes.

Alhoewel dit nog onduidelik is wanneer die permit inwerking sal tree, het Mottley gesê die regering is verbind tot die bevordering van nuwe konsepte soos dié permit. “Ons wil ons grense oopstel vir persone wat reis en die land so gasvry soos altyd vir almal maak.”

Barbados is egter nie die enigste land wat planne moet maak om toeriste terug te lok nie. Die New York Post berig dat Italië en Griekeland ook afslag op vlugte bied in die hoop om toeriste terug te bring, terwyl Mexiko gratis hotelverblyf en motorverhuring bied, asook afslag op besoeke aan sekere toerismeaantreklikhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mallie ·

Ek sal ook daar gaan werk. Dit kan net beter wees as hier.

Johannes ·

Bron van misdaad is ongelukkig dieselfde as in SA:
Barbados serious crime wave sparks warning to tourists. Holidaymakers are being warned of a risk of armed robbery, sexual assaults and gang-related shootings in Barbados following a rise in the murder rate this year. … Tourists are also advised to avoid isolated areas, including beaches, particularly at night.Mar 25, 2019

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.