Boesmanhartland van die halfwoestyn: Kgalagadi

(Foto verskaf)

Hierdie is deel 2 van ʼn reisreeks oor die halfwoestyne van ons land deur Carina Stander. Lees deel 1. – Red

Die Kgalagadi-vredespark of -oosgrenspark is ʼn uitgestrekte wildernis- en bewaringsgebied van 38 000 km² wat grootliks in die suidelike Kalahariwoestyn lê. Al was daar nog nooit ʼn grensdraad tussen die destydse Gemsbokparke van Suid-Afrika en Botswana nie en al kon die wild nog altyd vrylik tussen die twee nasionale parke rondbeweeg, is die ekologiese eenheid in 1999 bevestig met die stigting van die Kgalagadi-oosgrenspark, die eerste van Afrika se vredesparke.

Kalahari kom van ʼn Tswanawoord, kgala, wat “groot dors” of “waterlose plek” beteken; Kgalagadi beteken “plek van dors”. Hier lek-lek die wind oor die geelgrys gras en rooi sandduine en geharde plante oorleef in die droë rivierbeddings van die Nossob- en Auobriviere wat glo net een keer per eeu behoorlik vloei. Die park het geen standhoudende grondwater nie. Ondergrondse strome hou die kameeldoringbome en bossies aan die lewe en boorgatwater word gesink vir drinkwater. Reën is maar skaars in die geweste, met ʼn jaarlikse reënval van ongeveer 120 mm. Die Kalahari is egter nie woestynagtig weens die lae reënval nie, maar omdat die los sand die water vinnig laat wegsyfer. Dis daarom ʼn sygwoestyn, nie ʼn klimaatwoestyn soos die Namib nie.

Teen twee uur op ʼn wintermiddag ry ek saam met my man, Gerrit, en ons twee seuns (vyftien en twaalf jaar oud) deur die hoofhek by Twee Riviere. Die ontvangsplek is netjies en die geriewe fluitskoon – SanParke mag maar trots voel. Ons blaas die wiele ʼn bietjie af soos ʼn mens gevra word om te doen ter wille van die sinkplaatpad. Die pad is egter in ʼn baie goeie toestand, die sandbeddings is ferm en ons 2×4-Fortuner, Karjakker, rits sonder probleme. Vanaf Twee Riviere ry ons Noord-Wes al langs die Auobrivier verby Houmoed, Monro, Kamfersboom en Gemsbokplein. Skaars trek ons weg, of ʼn trop gemsbokke verskyn hier langs die kar. Hulle skop stofwolke op, spieshorings omhoog in ʼn speelse geveg. Onder ʼn doringboom vol voëlneste wei die volstruise. ʼn Grondeekhoring skarrel oor die pad en ʼn familie meerkaaie peul nuuskierig uit die grond. Woerts! loer twee steenbokkies uit die gras. ʼn Rooijakkals (wat ook ʼn mooier naam, silwerrugjakkals, het) drink dorstig water. ʼn Ent verder drafstap ʼn ander jakkals sy-aan-sy langs ʼn ratel! Almal kyk toe – selfs die bokke se koppe draai behoorlik na die rateltaai, kwaai karnallie. Die ratel skrop-skrop onder die boom en die jakkals wag ewe respekvol agter hom. Eerste keer ooit dat ons dié vreemde vriendskap aanskou! Later het ons hulle weer so saam-saam sien jag terwyl ʼn bleeksingvalk die spulletjie van bo betrag.

Die hartlike !Xaus

By Kamqua se piekniekplek ontmoet ons die mense van !Xaus Lodge (uitgespreek as “kaus”). Met hulle oop 4×4-voertuig ry ons vanaf die Auobrivierpad oor negentig duine. Op die een-en-negentigste duin is die ekovriendelik !Xaus – sekerlik een van die mees afgeleë blyplekke in die land. Die gesellige sitkamer het ʼn kaggel en klein biblioteek. Die twaalf huisies (chalets) is op stelte bo die sandduine gebou en aan mekaar verbind met ʼn plankpaadjie. Elke huisie het ʼn stoepie met ʼn wye uitsig waar jy bedags na die soutpan en saans na die sterre kan kyk. !Xaus beteken “hart” in die Namataal en verwys juis na die hartvormige soutpan hier reg voor ons.

Ons word verwelkom deur Anthony en Suzi Manley wat al sedert 2015 die bestuurspaar is en permanent hier woon saam met hulle oulike kleindogter, Coleen. Anthony was ʼn elektroniese ingenieur en rekenaarprogrammeerder in Pretoria voordat hy en Suzi die enorme skuif na die Kalahari gemaak het. Hy gesels lekker vlot in Afrikaans. Hy vertel in 2002 het die ‡Khomani San (Boesman) en die Mier-gemeenskappe ʼn ooreenkoms met SanParke bereik toe 50 000 hektaar grond binne die Kgalagadi-vredespark teruggegee is aan die mense wat voorheen hier gewoon het. Volgens die !Ae!Hai Kalahari Erfenisparkooreenkoms verhuur die gemeenskap die grond aan SanParke. !Xaus val binne die grens en die ‡Khomani San en Mier is die eienaars wat maandelikse huurgeld uit die opbrengs van die oord verdien.

Ná ʼn heerlike aandete van varkmagie en groente is dit tyd vir die nagrit. Die geroep van insekte, uile en jakkalse klink uit die donker op. ʼn Vaalboskat (wat ook ʼn groukat genoem word) en ʼn witwanguil beloer ons vanuit ʼn boom. Twee steenbokkies skrik op langs die pad. Ek is in drie lae klere aangetrek met ʼn mus, handskoene en al, maar ek vrek amper van die koue op die oop voertuig. Want ʼn wintersnag in die woestyn het mos die manier om jou te bekruip soos ʼn man met ʼn spies in die hand – daardie skielike, skokkende koue stekie. Terug by die kamer is ek sommer baie dankbaar vir die elektriese kombers en snoesige bed!

Voor sonop stap ons saam met die Boesmanspoorsnyer, Castro, oor die duine. Castro se Boesmannaam is Tullu Maliti. Hy glimlag altyd. Áltyd! Hy sê sowat 3 500 van sy mense praat nog die mooie kliktaal, die Boesmantaal, en dis ook wat hy by die huis praat, maar hier met ons gesels hy in die allerpragtigste Afrikaans. Castro kén van spore lees. Hy lees vir jou ʼn hele speurverhaal of liefdestoneel deur net na die sand te kyk. Hier het ʼn nagmuis eers getrippel en toe hoog gespring, die jakkals agter hom. En sien hierdie groot vierkantige spoor? ʼn Wyfiespinnekop het laasnag vir haar mannetjie gedans. Kan ons raai waar haar strik is? Ons maak kruisies in die sand en Castro blaas die sand weg: ʼn versteekte valdeurtjie met ʼn tonneltjie verskyn onder die sand! Gelukkig kon die mannetjie vinnig spore maak, anders was dit ʼn passiemoord.

Castro wys ook ʼn klomp roofdierspore in die paadjie uit – luiperd, leeu, hiëna. Maar hy is net bewapen met ʼn knopkierie. “Nou hoe gemaak as ʼn leeu op ons afstorm?” vra iemand ʼn bietjie benoud. “Vir ʼn leeu moet jy net skaam staar,” sê Castro. Doodernstig.

Hy leer ons van witgatboom, besembos, wilde lusern, suurgras, langbeenboesmangras. Die gras se sirkelspoor verklap die windrigting van die vorige nag. “Dis onse boskompas,” sê hy met ʼn breë glimlag. Twee peule van ʼn kameeldoringboom langs mekaar lyk soos die vorm van ʼn kameelperd se spoor. Die tsamma (Citrullus lanatus) of wildewaatlemoen is ʼn kruidagtige rankplant wat in die duin groei. Sy ronde, gladde vrugte is vol vog en ʼn goeie sonskerm. Die stekelrige gemsbokkomkommer (Acanthosicyos naudinianus) is ʼn ander lewensredder vir die dorstiges van die woestyn.

Terug by die oord is ontbyt die lekkerste, vullendste omelet wat ek al ooit gehad het met basil pesto, kaas, spek, wors, ham, salami, avokado – alles in een.

Laatoggend stap ons saam met Castro na die “craft village” waar drie Boesmans om ʼn vuurtjie by die dekrietskerm sit. Hulle woon nie permanent hier nie, maar verskillende groepies wissel mekaar elke maand of meer af om by die “craft village” te wees en van die ou gebruike aan toeriste te demonstreer.

Ons koop ʼn mooi halssnoer van ystervarkpen, kameeldoring-skudsade en springbokhoring. Die een man gebruik ʼn handgemaakte boortjie om gaatjies in die volstruiskrale te maak; die ander een vyl ʼn pylpunt. In toeka se tyd moes ʼn man eers kon vuurmaak met stokkies, ʼn bul jag en ʼn sterk skuiling bou voordat hy mag trou. Laggend vertel Cartro hoe die jongmanne toentertyd die meisies gevra het om te trou deur met ʼn klein bogie ʼn stomp pyltjie op haar boud te skiet. As sy die pyl optel en teen haar hart vashou, was dit ʼn ja; as sy die pyltjie optel en breek, moes hy maar elders geluk vind. “Vandag is Airtime onse pyl en boog,” lag hy.

Op pad terug wys Castro nog veldgeheime uit. Kyk, die muisskedels op die grond verraai waar die nonnetjiesuil slaap. En hier by die gevlekte hiëna (spikkelwolf) se spoor het ʼn gemsbok in sy spore gerem. Die Kgalagadi-park het sowat sestig spesies soogdiere, insluitend roofdiere soos die wildehond, jagluiperd, strandjutwolf, en natuurlik die Swartmaanhaar Kalaharileeu – ʼn karnallie van ʼn ander kleur. “Ons het gehoor hoe vakansiemense uit Pretoria vir mekaar vertel van leeus wat saans die voertuie se bande stukkend kou. Kan dit wees?”, vra ons eenkant vir Castro. “Heeltemal!”, sê hy. “Dis die astrante jong leeutjies wat so lekker speel.” ʼn Stuk of sewe voertuie in Kgalagadi het die laaste ruk deurgeloop! Een voertuig moes al vier bande vervang, flenters gekou. Die manne by die garage sal ook die storie beaam.

Die middag lees ons storieboeke wat ons saamgebring het op die sonnige dek. Luilekker en louwarm. Alles ruik na middagson. Wanneer ons opkyk, streep drie jakkalse oor die hartvormige soutpan. Teen skemer ry ons weer ʼn ent, maar sien net voëls. Versamelvoëls wat fluks nes bou. Baardmannetjies. ʼn Slangarend. ʼn Korhaan roep en sy maat antwoord. By die ander soutpanne is ook volop dierespore. Hiert, steek ʼn steenbokkie se ore bo die gras. Dit was ʼn goeie reënjaar en die Kalahari is geil. Op ʼn rooibruin, ysterverrykte duin met ʼn uitsig oor die soutpan, kyk ons hoe die horisonlyn van pienk na oranje verkleur en die silhoeët van die bome verswart.

Toe die Aandster vonkel, smul ons aan ʼn aandete van volstruis-stroganoff, pampoen en vanielje-poeding. Ons kruip vroeg in die kooi.

Wanneer ons vroegdag terugry vanaf !Xaus na Kamqua, is die geel kanarie ʼn ligflits in die droë landskap. ʼn Vet vaalboskat lê bo-op ʼn doringboom op die verdiepingnes van versamelvoëls. Hoog in sy noppies met ʼn sluwe grynslaggie en al.

Hoe ry die boere sit-sit-so

Naby Gemsbokplein wei ʼn trop van dertig kameelperde met vullens aan die kameeldoringbome – die wortels diep vervleg in die onderwaterstroom. Maar die pad noord na Vaalpan is vandag so stil soos tjoep: baie sand, min bossies en selfs minder diere. Net hier en daar steek ʼn pompou kop-uit. Of ʼn steenbokkie. Of ʼn alleenloper-gemsbok. Ons ry verby Eland tot by Dikbaardskolk en dan aan die oostelike grens van die park langs die Nossob, ʼn fossielrivier. Langs dié droë rivierloop is struike en rosyntjiebosse, driedorings en swartdorings. Dis die middaguur, die son is kras en al hoe meer diere skuil in die skaars koelte. By Kameelsleep verkyk ons ons aan ʼn groot trop gemsbokke – die prinslike gemsbok bly darem ʼn pragtig dier! So ry ons ook na Jan se Draai, Kransbrak, Gunong, Melkrivier, Kij, Rooiputs en sien baie springbokke, rooihartbeeste, koedoes. ʼn Woestynhabitat vir die plantvreters. Tussen Leeuwdril en Samevloeiing kyk ons vir lank hoe ʼn ratel ongestoord reg langs die pad rondsnuffel, op ʼn missie.

Hier is 260 voëlspesies in Kgalagadi, waarvan veertig soorte roofvoëls, en ons gewaar ʼn hele paar dwergvalkies en breeksingvalke, ʼn breekoparend en stompstertarend. Dis moeilik om die volstruise, sekretarisvoëls en volop gompoue (Afrika se swaarste vlieënde voël) mis te kyk. En natuurlik ook die bome, kwetterend en swaar van die neste van versamelvoëls. Wanneer ek in die truspieëltjie terugkyk lyk die strak, swart kameeldoringbome soos volstruise wat dans. Voor ons is die rooiborslaksman ʼn helderkleurige wonderwerkie tussen die dorings en dorheid.

Reisraad:

  • Die Kgalagadi-oosgrenspark loop aan die grens tussen Suid-Afrika en Botswana en bestaan uit twee aangrensende nasionale parke wat saamgesmelt het: die Kalahari-Gemsbok Nasionale Park in Suid-Afrika en die Gemsbok Nasionale Park in Botswana. Sowat driekwart van die park is in Botswana en ʼn kwart in Suid-Afrika.
  • Kgalagadi se Suid-Afrikaanse hoofkamp is by Twee Rivieren, ongeveer 270 km vanaf Upington, 950 km vanaf Pretoria, 1 076 km vanaf Kaapstad en 1 463 km vanaf Durban.
  • Pak reg in vir die seisoen: Op ʼn somersdag is dit dikwels bo 40 °C, terwyl die winternagte vêr onder vriespunt kan daal. Ekstreme temperature van 45 °C en -10°C en is al aangeteken.
  • Die hoofroetes in die park ry heel maklik, ons het goed reggekom met ʼn 2×4-Fortuner. Maak betyds seker watter roetes net geskik vir 4×4-voertuie. Daar is altesaam nege 4×4-roetes in die Suid-Afrikaanse gedeelte van die park: Leeuwdril (13 km), Nossob Ekoroete (214 km), Bitterpan (120 km, slegs vir oornagbesoekers), Mabuasehube (155 km, eenrigting), Mabua Kaa (tweerigting), Polentswa (257 km, eenrigting), Ghragab (61 km, eenrigting), Kaa Wildkykroete (191 km, tweerigting) en !Xaus (58 km, slegs vir oornagbesoekers).
  • !Xaus Lodge, in die hartjie van die Kgalagadi-vredespark, is ongeveer 350 km vanaf Upington en een van die mees afgeleë verblyfplekke in die land. Dit bestaan uit twaalf vrystaande huisies (chalets) waarin twee mense elk kan slaap en ʼn familie-chalet vir vier. Die verblyf is baie gerieflik ingerig. Dis ʼn besonderse ekovriendelike oord waar jy die geleentheid kry om saam met die Boesmans spoor te sny op die rooi duine en jou kan verkyk aan die lewe rondom die soutpanne. Alle etes en wildritte is ingesluit. By !Xaus Lodge geniet jy ʼn tegnovrye vakansie in die Kalahariwildernis sonder selfoonopvangs of Wi-Fi. Die satelietfoon is vir noodgevalle en die kragopwekker is aan van tussen 7-10 vm en 5-10 nm. Skakel: 054 561 0900 of 021 701 7860. Vonkpos: [email protected] Webwerf: www.xauslodge.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmarie ·

Ek geniet hierdie reeks vreeslik! Ons was Feb vanjaar die eerste keer Kgalagadi toe en ons plekke is klaar bespreek vir volgende jaar. Die Kalahari dóén iets aan mens. Dis nie soos KNP waar plantegroei groen en dig is en diere om elke hoek en draai nie. Ons het met min verwagtinge gegaan (om baie diere te sien) maar is elke liewe dag beloon met die mees fantastiese “sightings”. Hul sê mos as jy eenkeer Kalahari sand tussen jou tone gevoel het gaan jy áltyd weer terug!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.