Dubbelreënboog in die halfwoestyn: Augrabies

(Foto verskaf)

Toeka se tyd het die Korana Khoi-Khoi (Khoekhoe) dié magtige waterval Aukurabis of Ankoerebis gedoop: “die water wat donder” of “plek van groot geraas”. Vandaar het die trekboere die naam Augrabies verkry. Die aand voordat ons die drie-dag-Klipspringerstaproete by die Augrabies Nasionale Park begin, kyk ons teen skemertyd hoe die waterval vir 56 m die dieptes in stort. Dié loodregte waterval is nie die hoogste in ons land nie, maar by verre die grootste in terme van volume. In vloed oorskry dit selfs die volume van die Victoria-waterval. Diamante word wyd langs die Oranjerivier aangetref en volgens legende is die grootste fortuin van spoeldiamant ter wêreld in die kolkgat aan die voet van die donderende waterval. Die draaikolk is ook glo die skuilplek van ʼn addermonster, Grootslang, wat tjop-tjop klaarspeel met enige rampokker wat sy blink klippies probeer steel.

Vanaf die waterval kronkel die Benede-Oranjerivier vir 18 km deur ʼn lieflike ravyn. Vir eeue het die water en wind in die graniet-gneisrots in gekerf, ʼn uitstekende voorbeeld van verwering. Dit is dié dramatiese rivierkloof wat ons op die Klipspringerstaproete gaan beleef.

Wanneer ons elf dapper stappers mekaar die aand voor die stap vir melkskommel en ʼn glas wyn by die Quiver Tree-restaurant in die park ontmoet, beloer ʼn muskeljaatkat ons vanuit die takke. Saam met my, Gerrit en ons twee seuns, is sy suster Elsabé (ons seuns se peetma) met haar oudste kinders, asook twee boesemvriende uit my universiteitsdae, Ingrid en haar man Gerhard, met hulle kinders. Ons gesin het byna 1 000 km vanaf die Tuinroete tot by Augrabies in die Noord-Kaap gereis en die res van die stapgeselskap kom uit Kaapstad, 730 km ver. Nou is ons almal hier tesame vir ʼn natuuravontuur, lekker lang geselse en om Gerrit se verjaarsdag op die middelste stapdag te vier.

(Foto verskaf)

Dag 1: Die ruskamp tot Visarendhut (14,4 km)

 Vroegdag volg ons die aanwysings na Tweelingvalle, vanwaar die roete in die rivierkloof in swenk. ʼn Klipspringer hou ons stip dop met daardie amperse glimlaggie wat klipspringers maar het. ʼn Augrabiesplatakkedis (Platysaurus broadleyi) bak in die son – sy turkoois kop, oranje sye en inkblou keel is ekstra kleurvol teen die grys graniet. ʼn Dikkedensie van ʼn dassie skarrel oor die rotse. Bo in die bloue lug sirkel ʼn arend. Die swaeltjies swiep-swiep verby. Ek wens die swaeltjies wil eerder klaarspeel met die muggies wat al om ons gesigte swerm. Niemand van ons het onthou om insekweerder in te pak nie, maar Ingrid kry die blink plan om die pestilensies af te skrik deur hand-saniteermiddel op ons sonhoede en hande te spuit, en siedaar. Later neem ek ʼn foto van Ingrid se lang blonde hare wat dieselfde kleur as die gras is. Dis die sewende multidagroete wat ons in ʼn vriendskap van drie dekades saamstap. Langpadlopers, gewis!

Die klippe is pragtig. Swart en groen. Grys riffelrotse. Pienk kwarts. Dis Junie en teen die middag is dit 30 °C. Kortmouweer, ʼn koeltesoekdag. As dit midsomer was, sou ons hik en snik van die hitte. Ons voel ʼn bietjie moeg, maar sjoe, die uitsigte! Vandag se pad sorg byna heeltyd vir uitsigte oor die ravyn – goudbruin klipmure, 250 m diep, wat oor miljoene eeue gekerf is deur die natuur. Ná ure op die voete bereik ons die berg Ararat. ʼn Paar kilometer verder is die oornagplek, Visarendhut. Die hut lyk soos ʼn klein klipfort met dik mure. Dis sonder storte of elektrisiteit, maar met ʼn oudtydse soort sjarme wat jou laat voel asof jy ʼn stapavonturier uit ʼn vorige generasie is.

Die kinders is baie vrolik. Hulle pak klippe in torinkies en probeer dit van ʼn afstand af omklits. Gerhard en Ingrid braai wors vir aandete en Elsabé sorg vir lekker peuselgoed en poeding. Ons kuier om die kampvuur onder die sterre. Weerlig flits in die verte. Die lug gloei van energie.

Dag 2: Visarendhut tot Berghut (13 km)

Vandag is Gerrit se verjaarsdag. Ons wens hom vroeg-vroeg geluk met ʼn gesing, mini-kolwyntjies, verjaarsdagkersies en geskenke.

Die roete begin berg-op, voordat dit in ʼn smal vallei in die kloof in swenk. Gou is ons aan die oewer van die Oranjerivier waar ons die meeste van vandag sal deurbring. ʼn Mens klouter oor groot rotse en stap oor riviersand, heeltyd langs die waters. Hier is heelwat dierespore in die sand – ons herken die otter s’n – en op ʼn steil krans tel ons sommer drie roofvoëlneste. Die bobbejane se geroep eggo en die seuns boggom terug. Later hou die nefies rietgevegte op ʼn sandduin. Groot wit blomme groei aan die oewer, daar is struike met bloeisels wat soos rooi voëltjies lyk en plante met wilde boskasies wat lyk of dit eintlik onder die see tuishoort. Die bome is skaars, behalwe vir die kleinblaarkarooboerbone en witgatbome.

Gerrit is oë is baie sensitief vir lig en hy is sommer vies vir homself toe hy besef hy het die sonbril wat hy vir sy verjaarsdag gekry het by die vorige hut vergeet. Die sonlig in die geweste is regtig vlymskerp, al is dit bewolk. Ons brou moerkoffie langs die pad op gasstofies en wanneer ons ʼn middageteblaaskans vat, spring ʼn paar dapperes al bibberend in die vlak water, net ter wille van die herinnering. Gelukkig is die Oranjerivier tans vredig, ʼn mens kan dit nie aldag waag om daar te swem nie. Die paadjie draai uit tot bo by die fotogeniese Eco Corner wat sy naam gestand toe – jou stem klink asof dit van doer ver af kom.

Hierna loop ons in ʼn droë rivierloop met hoë kranse aan weerskante. Die moddervlokke lyk soos kameelperdvel, dit kraak onder ons voete. By Berghut gekom wag ʼn lekker verrassing op Gerrit, so reg op sy verjaarsdag: Die skoonmakers het sy splinternuwe sonbril by die vorige hut opgetel en vir hom gebring. So iets herstel sommer ʼn mens se geloof in die goedheid en getrouheid van die mensdom.

Vanaand is dit ons gesin se kosmaakbeurt en ons maak pasta met salami, langleweroom, gebraaide ui, knoffel en parmesaankaas. Skoonsus sorg vir goeie sjokolade en neute vir nagereg. Knus kuier ons onder die sterre langs die vuur. Die kinders hang die string feetjieligte wat ek vir ʼn verjaarsdagversiering saamgebring het in hulle slaapkamer op – feestelikheid in die vreemde.

Dag 3: Berghut tot by die ruskamp (12,5 km)

 Vandag word ons wakker met ʼn reënboog, nee, ʼn dubbelreënboog in die halfwoestyn. Koffiebekers en beskuit in die hand klim die kinders die koppie bo Berghut uit en bekyk die verskynsel. ʼn Bont brug tussen wêrelde. Die lug is lila en appelkoos. Alles glinster wanneer die son deur die wolke breek.

Dis ʼn koue, nat oggend. Dit reën hard genoeg dat ons reënjasse moet aantrek. Ons talm nie juis by die koffievuurtjie nie, maar kom gou aan die gang. ʼn Uil vlieg langs die paadjie op. Ons stap deur stuifreën teen die klipperige Swartrante op. Bo gekom bewonder ons die blommende kokerboom, tot ʼn swetterjoel voëltjies skielik daar uit swerm en ons almal laat wip van die skrik.

Onder op die vlakte is rooskwarts, groen en wit kwartsiet – kleurvol soos blomme, ʼn kristalvlakte. Die rotsformasies en granietkoepels op die pad is iets uit ʼn ander planeet, ʼn maanlandskap. Dit inspireer die seuns sommer om oor Star Wars te gesels. Ons vat ʼn neute-en-biltong-breuk op Maanrots: ʼn afskilferingskoepel van 700 m by 100 m en 30 m hoog. Die uitsigte is wyd. Dis koel wanneer ʼn mens stilsit en ons beur voort en vat voetbruggies oor die rivier en biesies. Die laaste paar kilometer kruis die pad met die Dassieroete. Teen twee uur die middag sit ons die rugsakke by die ruskamp neer. Sielstevrede en ʼn stinkgelukkig.

Oornag en rondrits in Augrabiespark

Die eerste stort in drie dae is sowaar ʼn salige storie. Die familie-kothuisie waar ons oornag is uiters gerieflik met ʼn lekker warm stort en bad, twee slaapkamers en ʼn oopplan sitkamer-en-kombuis wat uitstekend toegerus is vir selfsorg. Alles is fluitskoon en ruim. Die waterval is skaars ʼn minuut se stap vanaf die kothuisie en die ruisende watermassa weerklink tot in die sitkamer. Ons kuier met koffie en koekies terwyl die kinders ʼn bordspeletjie speel. Aandete is burgers en melkskommel by Quiver Tree-restaurant, ʼn gesellige afskeid op die einde van ʼn spesiale staproete.

Die volgende oggend ry ons gesin alleen deur die park. Die Augrabiespark is 88 000 hektaar en ons rits ure aaneen aan 45 km. Ons 2×4 Fortuner, Karjakker, vat die grondpad heel maklik. Hier is langer en rowwer paaie om te verken, maar ons tyd is ʼn bietjie knap. Die plantegroei is eie aan Boesmanland met katdoring, kameeldoring en karee. Wildlewe in die park is volop met 46 soogdier- en 186 voëlspesies. By Swartrante se drinkgat is kameelperde met ʼn vulletjie – hulle blokkievelle skakeer in by die klippe. Die Hartmann se bergkwagga, wat spesiaal aangepas is vir die gebied en slegs in die Noord-Kaap en Suid-Namibië voorkom, is ook te siene. Klipspringers is gewoonlik alleenlopers, maar ʼn troppie van drie knibbel-knibbel aan die veldblomme langs ons voertuig. Rustig kyk hulle op, nuuskierig, byna vreesloos, sodat ons hulle mooi kan bekyk: die donker kliere aan die binnehoeke van hulle oë, die hoefies wat lyk asof hulle trippel. By Volstruiswater lê ʼn gemsbok onder ʼn kokerboom. Dié reuse-aalwyn is besonder tuis in die woestynagtige struikveld, word tot 5 m hoog en kry sy naam van die Boesmans wat die sagte takke gebruik het om kokers vir hulle pyle te maak. In die winter lok die kokerbome se soet nektar die bobbejane en voëls. Ons is gelukkig om die heldergeel blomme in seisoen te beleef, swaar van die neste van versamelvoëls.

ʼn Dwergvalk stiljag vanaf ʼn tak; die sandpatrysies laat skater uit die pad. Ons klim uit Karjakker vir ʼn laaste foto. In die verte lyk die klipkoppies soos die mynhope van reuse, soos die drupkastele wat reuskinders uit swart lawa gemaak het.

Reisraad

(Foto verskaf)

  • Die Klipspringerstaproete is deur SanParke gegradeer as moeilik. Dis ʼn drie dae stap-, twee nagte oorslaap-roete. Dag een is jy die langste op voet en dis tegnies ook die moeilikste, maar met die mooiste uitsigte oor die rivierkloof. Dag twee is effe makliker terrein, al klouter jy oor groot rotse langs die Oranjerivier. Dag drie is die maklikste van die drie stapdae. ʼn Mens stap ongeveer ses tot sewe ure per dag. Die totale afstand is 39,5 km.
  • Die Klipspringer is een van die mees bekostigbare multidagstaproetes in die land. Dis R340 per persoon vir die hele roete, mits jy ʼn Wild-kaart het. Met die Wild-kaart is die bewaringsfooi en toegang by die hek ingesluit.
  • Weens die felle hitte kan die roete slegs vanaf 1 April tot 14 Oktober gestap word.
  • Minimum stappers: twee. Maksimum stappers: twaalf. Ouderdom: vanaf twaalf jaar.
  • Die stappershutte het stapelbeddens, drie bo-op mekaar, so sorg vir ʼn hupse siel in jou span wat heel bo kan slaap. Goeie matrasse, vuurhout, ʼn braairooster, koffiepot, een swaarboompot en groot houers met drinkwater word voorsien. Dié is ʼn regte, egte oudwêreldse roete sonder storte of elektrisiteit by die hutte. Daar is darem ʼn buitehuisie (toilet) en ʼn tenk met water vir gesigwas, tandeborsel en skottelgoed.
  • Geen drinkbare water is op die stappaadjie beskikbaar nie, slegs by die oorslaaphutte. Jy sal dus genoeg drinkwater vir die dag moet saamdra.
  • Maak die ervaring nog meer plesierig deur die aand voor en ná die staptog binne die Augrabiespark te oornag. Op dié manier kan jy vroeg wegspring op die eerste stapdag en lekker slenter op die laaste dag. Dit gee jou ook tyd om in jou voertuig te spring en die pragtige selfritroetes in die park te verken. Die verblyf in die park is skoon, goed toegerus en wissel van chalets tot kothuisies en kampering. Verblyf word apart van die staproete bespreek en betaal.
  • Bederf jouself ná die staproete met ʼn lekker gesellige ete by Quiver Tree-restaurant in die Augrabiespark. Skakel 054 451 5031 vir besprekings.
  • Bespreek die Klipspringerstaproete by SanParke: 012 428 9111. Skakel Augrabiespark: 054 452 9205. Laurinda, Genevieve en Angela was gaaf tydens die bespreking. Besoek die webwerf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmarie ·

Hoe lus kry ek nou vir dié! Ons was Feb hierdie jaar eerste keer by Augrabies op pad na Kgalagadi(ook eerste maar beslis nié laaste keer!) en ongelukkig weens die erge vloede kon ons nie in die park self rondry nie. Maar wat ‘n belewenis was die besoek nie, ons het reeds bespreek vir April vlg jaar voor ons wéér Kgalagadi besoek. Ons absolute gunsteling plekke nou! Dalk moet ons langer by Augrabies bly en die staproete doen! Dankie vir al die inligting oor die staproete van iemand wat dit self gedoen het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.