Breek weg met die gesin na Waenhuiskrans

Waenhuiskrans se strand met Kassiesbaai (Foto verskaf)

Met die somervakansie om die draai is talle gesinne op soek na ʼn blaaskans, ʼn geleentheid om bietjie weg te breek en die jaar op ʼn plesierige wyse af te sluit.

Skaars twee en ʼn half ure se ry buite Kaapstad lê die mooie Waenhuiskrans (of Arniston, soos hierdie kusdorp in Engels bekendstaan). Cape Country Routes se luukse vierster- Arniston Spa Hotel is geleë op ʼn besonderse ligging in die Wes-Kaap.

Met die ou, unieke vissersdorp Kassiesbaai net langsaan en omring deur ongerepte strande en natuurreservate, is Waenhuiskrans jou antwoord vir ʼn baie spesiale gesinswegbreek.

Ons is die Vrydagoggend vroeg uit Kaapstad en het by Peregrine-padstal stilgehou vir ʼn vinnige ontbyt voor ons die pad verder na Waenhuiskrans aangepak het. Hou gerus op pad stil in die verskeie klein dorpies soos Caledon, Napier en Bredasdorp – mens se reis begin mos die oomblik wat jy in die motor klim, nie wanneer jy eers by jou bestemming opdaag nie.

Ek het die middag deur Kassiesbaai gaan stap en geselsies aangeknoop met die inwoners wat in die sonnetjie buite hul huise sit en ontspan het. Die eenvoud en ongekunsteldheid van dié besonderse dorp het my aangegryp.

Kassiesbaai is een van die laaste werkende vissersdorpe in Suid-Afrika en is Waenhuiskrans se grootste geskiedkundige toeristebestemming. Die naam Kassiesbaai is afgelei van die houtkratte of paraffienkassies wat van skeepswrakke uitgespoel het. Dit is gereeld deur vroeë vissermanne gebruik as boumateriaal vir hul huise. Die dorp is in 1984 as ʼn erfenisterrein verklaar sodat dit vir toekomstige generasies behoue kan bly.

Doen gerus ook navraag oor die drie restaurante in Kassiesbaai waar plaaslike inwoners jou gaan bederf.

Arniston Spa Hotel se luukse 60 en suite-kamers spog met asemrowende uitsigte oor die see of hotelswembad en het al die geriewe wat jy vir ʼn seevakansie benodig.

Sommige van die kamers het selfs kaggels en die deluxe-seefrontkamers het privaat balkonne met ʼn panoramiese uitsig oor die oseaan. Die patio-kamers bied toegang tot die tuin en verhitte swembad.

Uitsig vanaf die see (Foto verskaf)

Swembad by Arniston Spa Hotel (Foto verskaf)

Ons het ons verlustig in die heerlike etes wat die hotel se twee restaurante bied en seker gemaak ons smul aan die lipaflek-lekker plaaslike seekos.

As jy nie genoeg in die warm seewater ontspan nie, kan jy gerus ook ʼn afspraak maak by die spa wat deur die Ginkgo Spa & Wellness Group bedryf word – gerieflik sommer in die hotel geleë. Die personeel het ons verwelkom met ʼn heerlike koppie kaneel-chai voor masseurs ons moeë stadslywe en spanning in ons nek- en skouerspiere beetgekry het. Ek kan hierdie spa beslis aanbeveel.

Waenhuiskrans of Arniston?

Ons het die Saterdagoggend die bekende Waenhuiskransgrot gaan verken. Dit is ʼn baie besonderse ervaring om in dié grot rond te stap en ek het my vergaap aan die uitsig wat mens slegs met laagwater oor die see kry.

Dis boonop waar Waenhuiskrans aan sy naam kom: dit is ʼn verwysing na die grot wat só groot is, dat jy ʼn wa met osse daar binne sou kon omdraai (as jy natuurlik die wa en osse in die grot kon kry!)

Die naam Arniston kom van die Arniston Transport wat op ʼn stormagtige aand in Mei 1815 gestrand het. Die skip het van Point de Gall in Ceylon met meer as 350 passasiers aan boord vertrek, meeste van hulle soldate van die 73ste regiment op pad huis toe na Portsmouth ná hulle gewond is in die Kandiese oorloë naby dit wat ons vandag as Sri Lanka ken.

Naby aan die suidelike punt van Afrika het die weer vererger. Op 26 Mei 1815 is die seile deur stormsterkte wind uitmekaar geskeur. Sterk oseaanstrome en swak sigbaarheid het beteken dat die kaptein nie met akkuraatheid die lengtegraad kon bepaal nie. Geen sterre was sigbaar nie. Op die oggend van 29 Mei het ʼn matroos uit die kraaines geroep: hy kan land sien. Kaptein Simpson was oortuig dit is Kaap die Goeie Hoop. Die skip het wes gevaar en laat die volgende middag noord gedraai in die rigting van Sint Helena in die suidelike Atlantiese Oseaan.

Die land wat hulle gesien het, was egter nie Kaap die Goeie Hoop nie.

Die skip het onkeerbaar voortgebeur, onbewus van die gevaar wat voorlê. Niks kon gedoen word toe rotse skielik in die rowwe see verskyn het nie. Die Arniston Transport het op die rotse gestrand.

Slegs ses mans het die kuslyn lewend gehaal.

Die nagedagtenis aan dié skip leef voort in die dorpie genaamd Arniston.

Terloops: Waenhuiskrans/Arniston is die enigste dorp in Suid-Afrika met twee amptelike name.

Boto by Waenhuiskrans-hawe (Foto verskaf)

ʼn Verkyker in jou tas

Onthou om jou verkyker in te pak! Terwyl jy op die strand staan (of uit jou hotelkamer oor die oseaan tuur), loer gerus of jy ʼn walvis en haar kalfie opmerk wat vrolik baljaar in die warm water van die Mosambiekstroom. Walvisse besoek Waenhuiskrans tussen Mei en November elke jaar, alhoewel dit tussen Julie en September die beste tyd is om die suidelike noorkappers te sien.

Daar is ook verskeie ander toeristebestemmings in die omgewing: pak gerus ʼn piekniekmandjie en gaan span uit by De Mond-natuurreservaat of De Hoop-natuurreservaat. Loer gerus ook in by Struisbaai – net noordoos van Kaap Agulhas, die suidelikste punt van Afrika.

Gaan maak gerus ook keel nat by Black Ostercatcher Wines, Strandveld Vineyards, Berrio Vineyards of Zoetendal Vineyards.

Bespreek jou vakansie

Arniston Spa Hotel (Foto verskaf)

Ek kan Waenhuiskrans en die Arniston Spa Hotel van harte aanbeveel. Bespreek sommer nou reeds julle volgende gesinsvakansie en gaan verken self dié spesiale bestemming.

Besoek die webwerf: www.arnistonhotel.com of klik hier vir meer inligting.

Stuur ʼn e-pos aan [email protected] en doen gerus navraag oor enige spesiale aanbiedinge.

Oor Cape Country Routes

Cape Country Routes is ʼn groep akkommodasie- en aktiwiteitsondernemings wat deur die eienaars bedryf en bestuur word. Meer as 20 hotelle, lodges, gastehuise en aktiwiteite in privaat besit – is geleë op skilderagtige en geskiedkundige roetes in die Wes-Kaap en Oos-Kaap. Elkeen is sorgvuldig uitgesoek vir hul karakter, sjarme en romanse, en hulle bied die beste akkommodasie- en aktiwiteitsopsies om by elke smaak en begroting te pas.

Cape Country Routes bied ook ʼn lojaliteitsprogram: Lojaliteit-lidmaatskapsopsies is beskikbaar vir individue/egpare (R200 per jaar) of gesinne (R500 per jaar) en bied groot afslag en waarde-toevoegings saam met deelnemende akkommodasie- en aktiwiteitsverskaffers. Sluit gerus hier aan en klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.