Europese lugdiensgroep vier talle Suid-Afrikaanse mylpale

Air France en KLM het in 2004 saamgesmelt. (Foto: Jeffrey Groenewegan/AFP)

Vanjaar is ’n mylpaaljaar vir die multinasionale lugdiensgroep Air France-KLM.

Nie net vier KLM vanjaar sy 85ste en Air France sy 70ste jaar van Suid-Afrikaanse bedrywighede nie, maar dié lugdiensgroep span ook ʼn paar ekstra vlerke in om te verseker dat soveel moontlik Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers die Springbokke in aksie tydens die 2023 Rugbywêreldbeker in Frankryk kan sien.

Dié sportgeleentheid vind vanjaar van 8 September tot 28 Oktober plaas in die land, wat nie net bekend is vir sy rugby nie, maar ook vir goeie wyn en die viering van liefde.

Die Air France-KLM-groep is in 2004 gestig uit die samesmelting van dié twee lugrederye. Dit was tot op hede een van die grootste samesmeltings van twee lugrederye in lugvaartgeskiedenis.

Wilson Tauro, bestuurder van Air France-KLM in Suider Afrika. (Foto: KLM South Africa/Facebook)

KLM is eerste gestig en is na bewering die oudste lugredery ter wêreld, en vandag werk hulle en Air France steeds onder hul afsonderlike handelsmerke.

Air France het in Maartmaand ook ʼn spoggerige nuwe sakeklaskajuit met skuifdeure op vlugte tussen Parys en Johannesburg bygevoeg.

Wilson Tauro, bestuurder van Air France-KLM in Suider Afrika, het onlangs tydens ‘n mediageleentheid in Johannesburg aangekondig dat drie vlugte tussen Johannesburg en Parys regdeur die Rugbywêreldbeker bygevoeg sal word.

Dít beteken dat daar op sekere dae nagenoeg 1 000 passasiers tussen Johannesburg en Parys vervoer kan word.

“Die Wêreldbeker is ’n reusesportgebeurtenis wêreldwyd, selfs meer so vir Suid-Afrika as die verdedigende kampioene. Natuurlik het ons verwag dat die aanvraag gedurende hierdie tydperk sou toeneem,” sê Tauro.

“Ons is baie bly dat ons bykomende vlugte tans goed presteer en ons sien uit daarna om al die Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners aan boord te verwelkom.”

Hoewel hul een van die enigste lugrederygroepe was wat tydens die Covid-19-pandemie tussen Europa en Suid-Afrika gevlieg het, is hul toekoms ook weens die virus vir ʼn geruime tyd in die weegskaal gewees.

“Die herstelproses na die Covid-19-pandemie was nie maklik nie, maar ons is uiteindelik weer op ʼn punt waar ons vlugaanbiedinge terug op 2019 se getalle is. Ons is toegewyd aan Suid-Afrika en ons kan sien dat ons Suid-Afrikaanse passasiers ook toegewyd is aan ons,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.