Foto’s: Fietstrap, Weskus-lekkernye in Doringbaai

ʼn Seemeeu se uitkykpunt oor Doringbaai se kaai. (Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Sonskyn, samesyn en goeie wyn gaan hand aan hand hier teen die Weskus, veral as jy tydens die jaarlikse Perlemoenfees by Doringbaai en Strandfontein kom kuier. Hier ontvang die mense jou met ope arms en kan jy net nie help om lekker saam te kuier nie.

Daar is natuurlik ook hope avontuur wat op ʼn mens wag hier teen die Namakwa-Weskus, en daar is min plekke waar dinge beide binne en buite so lekker kan raak. Dit is hier waar die Olifantsrivier tot in die Atlantiese Oseaan vloei, en dit vorm ʼn reuse-strandmeer wat ʼn ware paradys vir voëlkykers, vissermanne en entoesiaste van enige soort watersport is.

Die jaarlikse Perlemoenfees word elke jaar vroeg aangebied, so beplan vooruit en hou sommer nou al jou kalender oop. Dit is ʼn malkop makietie vir al wat leef en beef in dié geweste. Namaqua Weskus Toerisme span, saam met die Doringbaai Perlemoen-maatskappy, die plaaslike gemeenskap se Jetty-restaurant en ook die puik Fryer’s Cove-wynmakery om pret te verskaf wat jy nie wil misloop nie.

Lees meer hieroor by www.visitnwc.co.za.

Wat kan dan nou lekkerder wees as ʼn Weskus-strandbraai? (Foto: Jacques Marais)

Die fees

Die fees self is sommer lekker informeel. Tafels word gedek op Doringbaai se kaai en gaste smul aan perlemoen, kreef en hope ander lekkernye soos snoekbiltong, roosterkoek en snoekpatee. Die wins word alles aan die Jetty-restaurant bemaak en word dan direk terug in Doringbaai se gemeenskap geploeg.

‘Rooi spinnekoppe’ vars uit die Atlantiese Oseaan! (Foto: Jacques Marais)

Die roetes

Diegene wat graag wil draf, stap of trap terwyl hulle in Doringbaai kuier moenie die Viswater-bergfietsroete misloop nie. Vars briese en puik panoramas wag op die buitelugbrigade op die sowat 30 km se voetslaanpaadjie tussen Doringbaai en Papendorp, en die meeste van die tyd stap of ry jy reg op die randjie van die asemrowende seekranse. Maak seker jy is braaf genoeg vir die enkelspoor, veral tot by Strandfontein en Bloupunt. Daarna is dit tyd om te ontspan met ʼn koue bier of ʼn glasie puik sauvignon blanc by Fryer’s Cove Vineyards .

Besoek die wynmakery se webwerf by www.fryerscove.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.