Foto’s: Hope te sien, eet en drink in mooie Parys

Ag, hoe romanties om so op ʼn brug oor die Seine te kan stap. (Foto: Clifford Roberts)

Wanneer begin jou Franse kos-en-wyn-en-reis-avontuur nou eintlik, wonder Maryke Roberts ná 25 dae in dié land.

Is dit wanneer jy teen die ongoddelike uur van 00:35 op jou Air France-vlug na Parys klim en die vlugkelner met “aandete” in sy swaar Franse aksent vra watter wyn jy saam met jou hoendergereg wil hê?

Is die botteltjie Madame De Sainte-Hélenè Cabernet Sauvignon die begin; of is dit die sagte, skulpvormige Madelaine in die middernagtelike ure met vlugtee wat die ervaring waarlik afskop?

Hoe dit ook al sy, die reis was een van verskeie eerstes: nuwe hotelle waarvan die verf nog plek-plek droog word, nuwe kos-ervarings, nuwe wyne en ook: my eerste ware ervaring met verskillende Franse sjampanjes.

Ons reis is opgedeel: ses dae in Parys, nege dae in die suide in Dordogne, dan terug vir 10 in die hoofstad. Vir ons terugkeer na Parys bly ons in die Latynse distrik aan die voete van Notre Dame.

Die eerste ses bly ons oor in drie verskillende boetiekhotelle in dieselfde groep: Château des Fleurs, Norman Hôtel en Saint James Paris. Almal so ʼn blok of drie van die Avenue des Champs-Élysées af –  deur menige as die mooiste laan in die wêreld beskryf: dis 1.9 km lank, 70 m breed en met bome omsoom. Dit strek tussen die Place de la Concorde in die ooste en Place Charles de Gaulle in die weste waar die Arc de Triomphe geleë is.

Al het jy dalk nog nooit daar gestap nie, was jy al in gees daar: dis waar die gewilde Tour de France-fietstoer eindig wat deur miljoene mense op televisie gevolg word; dis die plek waar die Bastilledag-militêre parade deurmasjeer en dis ook hier waar vuurwerke elke nuwe jaar inlui en oor alle tydsones aanlyn meegemaak word.

Die naam is Frans vir die Elysian-velde in die Griekse mitologie: die plek waar dooie helde woon. Dis dus heel gepas dat die vlam vir alle onbekende gestorwe soldate en helde sedert 1920 in die koepelmaag van die Arc de Triomphe brand.

Ons is vroegmiddag by die eerste hotel, tasse uitgepak, vars gestort en twee sterk koffies (petit cafe) agter die blad.

Château des Fleurs is ʼn nuwe boetiekhotel in ʼn 1910-gebou en bring hulde aan Belle Époque (“die pragtige era” – Europa se goue era van 1871 tot 1914). Die Nuwe-Art Nouveau-dekor is pragtig tot uiting gebring in 37 suites en kamers. Ons kamer is oor twee vlakke en bo is ʼn pragtige pootjiesbad onder ʼn dakvenster. Meer Parys-sjiek kan jy seker nie vra nie!

Die min slaap op die vlug is vergete. Handgemaakte noedels (lamen) lok ons na Oh My Noodle in Rue du Colisée.

Voor in die venster kan jy staan en kyk hoe die noedeldeeg gerol, gevou en gedraai word tot dit die regte digtheid vir elke dis het. Dis organiese deeg, verduidelik die Chinese kelner in Frans en ek is dankbaar my lewensmaat het as kind hier gewoon en is die taal magtig.

Dis koud buite; die warm noedels en been-aftreksel is vertroostend en vullend. Ek eet gerookte eend in myne; my geliefde eet varklies.

Terug by die hotel, is ons beddens berei vir die aand; daar is sjokolade op ons kussings en ʼn yskoue bottel Charles Heidsieck-sjampanje op ys. Soos dit wafferse Franse betaam, het ons ʼn klein tradisionele baguette en wiggie President-camembert in ʼn papierdun houtboksie op pad hotel toe gekoop en sit ons langbeen op die mat met ons spyse en dranke.

Miskien is dit waar die avontuur nou eintlik begin – alhoewel ʼn Chinese kelner wat jou in Frans bedien seker ook deel daarvan is.

Ontbyte by al drie hotelle is te goed om oor te vertel: ons sit eers met koffie in die bed; dan na die ontbytkamers vir nog koffie met louwarm croissants en Pain au chocolat; geposjeerde eiers met salm en Hollandaisesous en ʼn klein kaas-en-vleisbordjie vir agterna.

Dit maak middagete onnodig en ons verken die stad op die Big Bus Paris wat voor die Arc de Triomphe stop, en as jy bly sit meer as twee ure deur die stad ry terwyl jy na kommentaar oor die klein oorfoontjies luister.

Jy kan bly sit solank jy wil of heeldag op- en afklim en besienswaardighede van nader gaan bekyk.

Ons leer onder meer dat Frankryk die derde grootste diplomatiese netwerk naas China en die VSA het, dat Alma die breedste brug oor Seine is en daar 37 brûe oor die rivier is. Die vlam wat by die tonnel waar sy dood is opgerig is, is ʼn replika van die Statue of Liberty in New York en die Eiffeltoring kry jaarliks sewe miljoen besoekers. Dit moes net vir 20 jaar staan, maar is noodsaaklik in die stad se radio-kommunikasie. Dis die hoogste struktuur in Parys en toring 324 m die hemele in. As jy lus is vir trappe klim, is daar 669 trappe tot by die tweede vloer.

Die Louvre is die galery met die meeste besoekers jaarliks (7,5 miljoen) en het ʼn halfmiljoen kunswerke. Die Nortre Dame het 12 miljoen besoekers per jaar akkommodeer en is sedert 2019 gesluit nadat dit erg beskadig is in ʼn brand en open weer op 1 Desember. Toe ons ʼn draai langs die Seine gooi, sien ons boekverkopers wat se houtkaste bo-op die sement vasgebout is en die kommentaar sê Parys is die enigste stad in die wêreld wat tussen twee boekrakke lê.

Ek het twee croissants met beleë kaas by ontbyt ingepak en teen 15:00 gaan sit ons met wegneemkoffies op die oewer van die rivier en laat die klanke en geure van die stad oor ons spoel.

Dis op die tweede middag van ons verblyf by Château des Fleurs wat ons vir middagete in die Koreaans-Franse restaurant, OMA, aansit. Die Koreaans-gebore Ji-Haye Park is al meer as 25 jaar in Parys en sy is legendaries vir OMA, wat voorheen elders in die stad sake gedoen het. Sy is deur die hotel genader om met hul opening in September haar restaurant na Château des Fleurs te skuif. Die kos is huiskos – haar grootwordkos, vertel sy. “Die disse wat my heimwee na my kinderdae gee.”

Ons smul aan kammossels en bamboes-aftreksel met saggestowe beesvleis en sitroen-en-sjokolade-soetgoed wat Roald Dahl se Charlie Bucket en die eksentrieke Willy Wonka van Charlie and the Chocolate Factory se tone sou laat omkrul.

In Norman Hôtel, ook splinternuut en aan die oorkant van die Champs-Élysées, is die dekor ʼn ode aan Parys van die sestigs. Grafiese kuns van die Amerikaanse kunstenaar, Norman Ives, dien as dekor-inspirasie en die kuns teen die mure. Hy het lettervorm as primêre onderwerpe vir sy ontwerpe gebruik. Selfs die ysblokkie in ons skemerkelkies is ʼn pragtige, vet “N” soos hy dit sou gebruik. Ons tweede dag daar sluit af in die Franse-Thai-restaurant, onder leiding van die Thai-sjef, Apiradee Thirakomen, meer bekend as sjef Thiou. Haar disse is kontemporêr en geurig, met ʼn sweempie Thai-verleiding in elkeen.

Elke keer as ons by die volgende hotel laataand by ons kamer instap, is daar ʼn bottel yskoue sjampanje op ys. So ontdek ons ook Barons de Rothschild en Tattinger. Oral speel ons Franse musiek oor die hotel se Bluetooth-luidsprekers, bad soos konings in marmerbaddens met sysagte badolies, vou ons lywe in dik japonne toe en drink sjampanje in die bed, terwyl ons aan luukse hotelsjokolade suig.

The Saint James Paris se slagspreuk dat dit meer as ʼn eksklusiewe hotel is, maar eerder ʼn ervaring, is voorwaar in die kol. Dis gedeeltelik chateau, gedeeltelik familie-tuinhuis, maar aan luuksheid en styl is daar geen tekort nie. Die keurige dekor is deur Laura Gonzalez behartig en die 50 ruim suites en kamers is elkeen só mooi, dit hoort in ʼn kunsgalery meen my maat.

Ons lees met die windjie wat die sagte gordyne liggies laat bol; drink tee uit fyn porselein en swem in die verhitte binnenshuise swembad voor ons uitgaan vir aandete in ʼn klein straatkafee in Victor Hugolaan.

Ontbyt is ʼn groot gedoente en jy kyk uit oor die pragtuin, terwyl kelners amper geruisloos tussen gaste beweeg.

Ek wil nie weer huis toe gaan nie, besluit ek op ons laaste oggend in die donker biblioteek van dié hotel. Ons sit en lees in die hoekie en mense hou vergaderings, eet ontbyt of drink koffie terwyl hulle op iPads woel.

Drie hotelle met sulke uiteenlopende style; maar die fyn draadjie van bederf deur alles geweef.

Ons terugkeer na die stad is minder luuks. Ons woonstelletjie is drie styl verdiepings op; die kombuisie piepklein, maar ons koop elke dag alles vars by straatmarkte: driehoeke kaas wat deur iemand net vir ons afgesny is en in fyn waspapier toegedraai en geweeg is; fyn vleis uit die platteland; knoffelslakke wat jou mond vollê; brood van ʼn boulangerie (bakkery) en Franse wyn van Bordeaux.

Ons soek op forums vir raad oor die beste Crocque Monsieurs; die beste steak frites (biefstuk en dun skyfies) en die beste Franse uiesop. Laataand beloon ons ons moeë lywe, na 20 km se stap, met besoeke aan wynkroegies en teug aan wyn; piksag, vlesige olywe uit bakkies en laat die loomte oor ons spoel.

Af en toe stop ons op oop stadsvierkante vir koffie en ʼn Nutella-pannekoekie; af en toe neem my geliefde se heimwee na sy pa hom na ʼn man wat oor ʼn primitiewe braaidrom in ʼn inkopiewaentjie marrons chauds (warm kastaiings) rooster.

Andersins eet ons op parkbankies Saucisson (gerookte varkworsie soortgelyk aan salami), kaas en handevol tamaties uit Italië. Jy breek vars baguette met jou hande en laat die wintersonnetjie op jou rug bak.

Een oggend by ʼn vismark, waar jou oë kwalik kan glo watter vars verskeidenheid voor jou lê, wink ʼn vrou ons nader en maak ʼn vars oester vir ons elkeen los. Die souterigheid lê op my tong vir ʼn paar sekondes. Dis pure see.

Toe ek haar wil betaal, druk sy my hand weg met ʼn kopskud en breë glimlag.

Ek dink aan Emile Joubert se beskrywing in sy boek, Krummels in my koffer, van oesters saam met sy pa in Parys, toe hy nog ʼn kind was.

Hy wou dit vinnig wegsluk, vertel hy. “Maar toe die oester my mond binnegaan, is dit asof ek ʼn brander insluk, die skreeu van seemeeue hoor, onder die oppervlak van diep rotspoele induik en ʼn ander wêreld betree… Dit is nie net kos vir kou en eet nie. Dit is ʼn ervaring soos nog nooit tevore nie… Asof hierdie enkele oester die volle mag van die see aan my sintuie gebied het.”

Ons sluit ons kuier af met ʼn ete by Les Marchands de Vins, ʼn plek waar plaaslike inwoners eet. Die kos is eg tradisioneel en ons smul aan lekkernye soos beeswange met mosterd en kabeljou met parmesaan en neute en teug aan heerlike Franse wyn, wat per glas met elke dis gepaar word. Dis verfrissend om net Frans om jou te hoor en geen ander toeriste te sien nie.

Parys was toe die avontuur waarop ons gehoop het. Ons het die lekkerste kos en wyn geproe. Op ons dagvlug huis toe, kom die vlugkelner verby met sjampanje. In ʼn papierglasie maak die vloeistof borreltjies teen die kant. Ek sit my oorfone op, luister na die lugredery se Franse musiek op die vermaakstelsel en laat elke slukkie op my tong talm.

Dis sekerlik hier waar die avontuur dan eindig?

Kitsfeite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.