Foto’s: Lekker doen-dinge in Stellenbosch

(Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Die buitelug-brigade is dit eens dat Stellenbosch een van ons land se prima fietsry- en avontuurbestemmings is. Hierdie lekker Afrikaanse studentedorp spog ook met wêreldklas wyne, puik koffie en fynproewer-cuisine, so waarvoor wag jy?

Die plek

Ou maat, daai pieke darem! Gaan staan gerus enige plek in Stellenbosch en jy sal hulle nie mis waar hulle breed en bonkig bokant die horison rys nie. Dié ruwe berge roep elke keer wanneer ek in die historiese dorp gaan kuier, en dis altyd lekker om spore daar te gaan gooi.

Daar is egter hope dinge om hier in die Bosch te doen voor jy die heuwels invaar. Jy is in Suid-Afrika se tweede oudste dorp, met die wêreldbekende Universiteit Stellenbosch wat ʼn jeugdige energie aan die rustige strate verleen. Klassieke Kaap-Hollandse argitektuur, statige eikebome en wingerde wat teen die Wynlande se heuwels lappieskombers, maak dit asemrowend mooi.

Sedert die vroeë negentigs het Stellenbosch ʼn bergfiets-oplewing ondergaan, tot so ʼn mate dat die dorp deesdae ʼn mekka is vir internasionale atlete wat hier kom oefen. Net soos Moab in die VSA, of Whistler in Kanada, is dit nou ʼn argetipiese fietsdorp, met avontuurtoerisme wat ʼn groot deel van die plaaslike ekonomie dryf.

Die beste van alles: daar is dosyne bergfietsroetes wat op jou en jou ysterperd wag. Stellenbosch Trail Fund befonds gratis roetes bokant Coetzenburg wat oop is vir die publiek, met ikoniese gedeeltes waar jy jou kneukels wit gaan klem van die opwinding.

(Foto: Jacques Marais)

Verder is daar ook legendariese roetes soos Boschendal, Dwarsrivier, Banhoek, Muratie, Dornier, wat maar net ʼn voorsmakie is van die enkelspoor-spyskaart in dié puik buitelugarena. Maak egter seker jou kuite, longe en liggaam is reg vir ʼn ding, want hier klim jy vir ʼn vale.

Roetes in en om Stellenbosch beslaan meer as 300 km, en dek die hele spektrum van wat ʼn mens op ʼn berg-, pad- of gruis-fiets kan ervaar. Wingerde, boorde, fynbos en Renosterveld swiep verby, met bos-tonnels deur woude en klipspringer-paadjies tot reg teenaan daai verruklike pieke op die gesigseinder.

Ja-nee, dis ʼn wenresep, solank ʼn mens net nie by te veel van die puik wynplase stop nie. So kom kuier!

Die roetes

Jakker in Jonkers: Jonkershoek-natuurreservaat se berg-tot-see (mountain to ocean [MTO])-roetes word gesien as een van die Wes-Kaap se kroonjuwele as dit by bergfietse kom. Ryers moet bedag wees daarop dat deel van Jonkers ʼn kommersiële plantasie is, en dat die bome dus gereeld geoes word. Dit beteken enkelspoor verander of verdwyn elke paar jaar, met roetes wat herbou word deur die bosbou-personeel van die berg tot see.
In totaal spog die MTO-netwerk met meer as 48 km se enkelspoor, sowel as 74 km van gruispaaie tussen al dié pasgemaakte roetes. Top fietstraproetes sluit in die Never-ending Story, ʼn 5,77 km blou-roete vir ryers wat op soek is na vinnig-vloeiende enkelspoor met tegniese terrein hier en daar. Jy wil ook nie The Plumber (ʼn swart-roete van 1,8 km) of die Twin Traverse van 3 km teenaan die voet van die duiselingwekkende pieke (met manjifieke panoramas oor die vallei) misloop nie. Besoek www.mto.co.za

Stellenbosch Trail Fund: Die STF is ʼn puik organisasie sonder winsbejag wat oor die afgelope paar jaar meer as 50 km se roetes in en om Stellenbosch gebou en onderhou het. Hulle langtermyndoelwit is ʼn enkelspoornetwerk rondom die dorp, al die pad van Jonkershoek tot by Spier, en van Coetzenburg tot Paradyskloof. Daar is iets vir almal, van die maklike Koloniesland-roete, wat geskik vir die hele gesin, tot ʼn tegniese XCO-baan vir vaardige ryers. Besoek www.stf.org.za.

Die toppunt van fietstrap: ʼn Legendariese enkelspoor, geskep deur Mark Gordon met die doel om ryers ʼn uitdagende roete te bied wat hul ryvernuf sal verskerp. Die roete bied van die beste STRAVA-segmente in die Stellenbosch-omgewing, met top internasionale atlete wat hier tye klok. Dit is egter nie vir almal nie, en die G-spot is berug vir beserings wat hier opgedoen word. Besoek www.gspot-trail.co.za.

Kliek op www.banhoekconservancy.org, www.boschendal.co.za, www.dirtopia.co.za, www.wannabees.co.za, www.capenature.co.za of www.visitstellenbosch.org om permitte vir die roetes te kry.

Nog meer doen-dinge:

Wynproe: Jy bevind jouself in die hart van Suid-Afrika se mees beroemde wynstreek, so dit is net goeie maniere om die Stellenbosch-wynroete te gaan verken. Besoek www.wineroute.co.za.

Glas-museum: May de Lencquesaing se skouspelagtige glasuitstallings in die Glenelly-wynkelder is een van die grootste privaat versamelings in die wêreld. Dit bevat kosbare items wat dateer vanaf die 1ste eeu tot modernistiese stukke deur Salvador Dali en Lino Tagliapietra. Besoek www.glenellyestate.com.

Eende op patrollie: Vergenoegd-wynplaas spog met ʼn swetterjoel van meer as ʼn 1 000 werkende eende wat vrylik in die wingerde wei op soek na slakke en ander insekte. Gaan kyk hoe hulle soggens en saans verby die opstal waggel op pad wingerde toe. Besoek www.vergenoegd.co.za.

(Foto: Jacques Marais)

Hoe maak ʼn mens?

Bly hier: Waar begin ʼn mens? Gaan loer liewer by www.stellenboschtourism.co.za vir goeie raad.

Wanneer om te gaan: Die dorp en omgewing is ʼn lushof vir die oog regdeur die jaar, maar Augustus is geneig om nat te wees, terwyl Januarie tot Maart weer baie warm raak.

  •  Jacques Marais is ʼn fotograaf en skrywer van avontuurgidse soos ‘Top MTB Trails’ en ‘Doen-Dinge in ʼn Dorp’. Volg @jacqmaraisphoto op sosiale media of jacquesmarais.co.za vir meer.

(Foto: Jacques Marais)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.