Foto’s: ’n Helse ding op ’n fiets

Dag 1 se eerste groot klim is al met die Swartbergpas op tot by “Die Top” se draai. (Foto: Jacques Marais)

Ja, dit is al weer daai tyd van die jaar! Honderde fietsryers maak reg vir ʼn hemelse rit tot in Die Hel, een van die Swartberge se grootste avonture. Jacques Marais sal weer daar wees om foto’s te neem en saam te gesels.

Die bestemming

Een ding moet jy nou maar weet my broer: Die pad is lank en swaar vir diegene wat die Swartbergpas wil uittrap tot doer onder in Die Hel. Hierdie Gamkaskloof-katjie pak ʼn mens nie sonder handskoene aan nie, en die padteken bo-aan die pas skree dit sommer in groot letters uit: “Gevaarlike pad vir 48 km.”

Wat egter aan die anderkant wag, is absoluut die moeite werd; van klipspringers, suikervoëls en skarrelende bloukopkoggelmanders. Daar is die oranje-blanje-blou van rots, lug en wolke. Van een ding is ek in my kop ʼn duisend per sent seker: Daar is nie ʼn mooier manier om in Die Hel te kom as om op ʼn bergfiets tot daar te ry nie!

Laat die wolkekrabberkranse en blou van die hemel oor jou gemoed spoel terwyl jy trap, en dan en wan vir ʼn nartjie of stukkie droëwors stop. Verwonder jouself gerus aan Thomas Bain se bouvernuf wat nou reeds meer as ʼn eeu lank deur hierdie dramatiese bergreeks wentel.

Loer by www.capenature.co.za of www.diehel.co.za vir inligting oor Gamkaskloof.

Dis nou wel “Die Hel”, maar jy gaan nat word, want jy trap fiets deur ʼn paar van die stroompies. (Foto: Jacques Marais)

Die wedren

Hierdie To Hell And Back-fietswedren is ʼn bogger. Jy gaan omtrent 130 km oor die twee dae trap, en sal hier en daar beslis met beide kuitkrampe en kortasem te doen kry. “Ek kan” word vinnig “Ek is moeg” en ewe skielik voel die laaste paar bulte tot in Gamkaskloof geheel en al onoorkombaar. Dit is veral dán die tyd om vas te byt.

Die Ecobound-span wat elke jaar hierdie fietsresies reël, wéét ook hoe om met jou kop te smokkel. Die wedren word reeds meer as twee dekades aangebied, en is alombekend as Suid-Afrika se eerste meerdaagse MTB-byeenkoms.

Eers is daar ʼn bordjie op die roete wat vra: “Y????”, en so ʼn kilometer verder nog een met die woorde “Jy dink jy’s in Die Hel, maar jy’s nog nie eers naby nie”. So hou dit aan om ʼn bietjie met die uitdagende roete wat fietsryers met hulle spreekwoordelike martelpype aanpak, gek te skeer. Gaan kyk gerus by www.tohellandback.co.za.

Ja, die Ecobound-span weet hoe om gek te skeer wanneer jy op jou moegste is. (Foto: Jacques Marais)

Die roete

Die rit tot in “Die Hel” begin by die De Hoek Oord naby Oudtshoorn se Kangogrotte, en van hier af hyg en hoera jy tot diep in die hartjie van Gamkaskloof. Dié verlate vallei is vir die meeste Suid-Afrikaners beter bekend as “Die Hel”, en die enigste manier om daar te kom, is al met ʼn doodlooppas langs tot diep in die hartjie van die onherbergsame Swartberg Karoo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.