Foto’s: Plett en plesier langs die sonskynkus

(Foto: Jacques Marais)

Afrikaners is plesierig, en daar is nie ʼn beter plek vir buitelug-pret as hier teenaan die Kaapse Tuinroete nie. Bring al jou speelgoed, skryf Jacques Marais.

Kali-Afrika, ja, daardie stukkie Tuinroete tussen Knysna en Plettenbergbaai, is verseker so naby as wat ʼn mens aan Kalifornië gaan kom hier in Suid-Afrika. Die roete beloof son, suikersand-strande, inheemse woude, wêreldgehalte restaurante, paleise teen die heuwels, en mense so reg uit ʼn Instagram-selfie.

Dié buitengewone natuurskoon gee ʼn mens dié gevoel dat jy in ʼn buitelug-gimnasium rond slenter, so dit is dus sommer heeltyd speeltyd. Dosyne doen-dinge wag op besoekers wat hier kom kuier, maar dit help altyd as jy ʼn vriend het wat hierdie perfekte al fresco-paradys reeds goed ken.

Die afgelope jaar of twee het haaie ʼn effense demper op sommige van die oseaan-avonture geplaas, maar die plaaslike haai-opspoorders (shark spotters) maak seker ʼn mens kan deesdae weer veilig branderplank ry, swem, roei en skuba. Keurboomsrivier bied byvoorbeeld ʼn verruklike speelplek vir diegene wat opsoek is na varswater-pret, sowel as myle der myle se draf- en fietsryroetes.

Dan is daar natuurlik ook die Tuinroete Nasionale Park met die enkelspoorparadys van Harkerville se woud halfpad tussen Knysna en Plett. Hier kronkel verlate grondpaaie deur die bottelgroen hart van die inheemse bos, en ʼn mens kan vir ure lank trap deur Gouna of op Kom-se-Pad.

Geheime voetpaadjies tussen eeue-oue boomreuse deur laat jou voel asof jy deur Tolkien se Middel Aarde wandel, en die ontelbare spore vertel van bosvarke, rooikatte, bosbokke en ook Kaapse luiperd wat diep in die skadu skuil. Indien jy gelukkig is, sien jy dalk selfs ʼn hoop vars olifantmis, want daar is nog een Oupoot wat hier wegkruip.

Dit is geen wonder dat Plettenbergbaai se mense daarna streef om die stad te vestig as een van Suid-Afrika se beste avontuurdorpe nie. Hier is pret vir alle ouderdomme – en die beste van alles – ʼn mens kan enige tyd van die jaar kom plesierig raak in pragtige Plett – loer gerus by www.plett-tourism.co.za.

Doen-dinge in Plettenbergbaai

Waar begin ʼn mens wanneer daar tientalle stap-, draf- en trap-roetes, en dosyne ander avonture hier op jou wag? Hier is vyf opsies wat jy verseker nie wil misloop nie:

Dapper en stapper: Beroemde meerdaagse roetes, soos die Otter en Outeniqua, wag op bekwame stappers. Daar is egter dosyne ander staproetes om te pak, van ʼn half-uur se wandel na die Groot Boom, of uitdagende dag-staproetes teen die kus langs of deur die bos. Besoek www.sanparks.org/gardenroute

Saal op: Die puik Plett MTB Park bied bergfietsroetes in ʼn lekker familie-omgewing. Daar’s ook ʼn springbaan waar jy truuks kan trek op jou ysterperd voor jy aan ʼn romerige cappuccino en tuisgebakte wortelkoek gaan smul – www.cairnbrogie.co.za. Sky Park se MTB-roete noord van die N2 is ʼn nuwe toevoeging tot bergfiets-opsies hier in Plett. Ryers kan maklik , teen R60, toegang en permitte bekom by The Hub, reg langs die Old Nick-kompleks. Besoek www.mtbtrailpass.co.za

Soek voëls: Gaan stap saam met Colin Wylie, ʼn bekwame gids, en soek na van die geveerde vriende wat hier in die inheemse woude en fynbos wegkruip. Spesies soos die narina trogon en knysnaloerie is waarvoor ʼn mens wil uitkyk. Besoek www.gardenroutewalks.co.za.

Natuur op sy mooiste: Robberg is sekerlik een van die mees asemrowende natuurreservate in Suid-Afrika, en die kanse is puik dat jy dolfyne, walvisse en witdoodshaaie sal sien terwyl jy hier teenaan die seekranse stap. Rots- en strand-hengel word toegelaat met ʼn permit. Besoek www.capenature.co.za.

Adrenalien op die oseaan: Verlustig jouself in ʼn avontuur saam met Ocean Oddyssey en hul puik gidse. Daar is nie ʼn manier dat jy nader aan walvisse, dolfyne en ander seediere sal kom as op een van dié eko-uitstappies nie. Besoek www.oceanoddyssey.com.

Hoe maak ʼn mens?

Wanneer om te gaan: Die Tuinroete spog met puik weer amper reg deur die jaar, hoewel die winters soms koud en nat kan wees. Die meeste van die tyd is die klimaat gematig, met windstil dae en sonskyn.

Hoe kom ek daar: Plettenbergbaai is sowat 500 km oos vanaf Kaapstad geleë; volg die N2 en jy kan dit nie misloop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.