Foto’s: Stap kaalvoet in Riebeek-Kasteel

(Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Bekroonde wyne en wêreldklas olywe maak nou wel hierdie hoekie van die Swartland spesiaal, maar glo my daar is hope ander redes waarom jy in die Riebeekvallei wil kom uithang.

Die dorpies

As jy vandag in die Swartland kom speel, wag daar soveel verassing op jou. Die vroegsomer is in volle swang in dié streek, met ʼn lappieskombers van koringlanderye, wingerde en olyfboorde wat tot teenaan die voetheuwels van die prentjiemooi Witzenberge strek.

(Foto: Jacques Marais)

Ougat dorpies soos Riebeek-Kasteel, Gouda, Riebeek-Wes, Darling en Yzerfontein sluimer net ʼn uur of wat vanaf die Moederstad, en spog met ʼn spyskaart wat oorloop van wyn, buitelug-avontuur en pure luilekkerheid. En een ding moet jy maar weet: die Swartlanders is bokke vir sports.

Die monokroom roepnaam verwys na die Swartland se donker Renosterveld, maar sodra die reën kom, omskep dit dié landskap in manjifieke skakerings van groen. Die Groot Blou wag ook net anderkant die bult, want die streek ontvou tot teenaan Yzerfontein se asemrowende kuslyn.

Kasteelberg het reeds in 1661 die eerste Kapenaars gelok, en dit was ene Pieter Cruythoff wat tydens ʼn ekspedisie die piek ‘Riebeeck se Casteel’ gedoop het. Later het die dorpie wat tussen die wingerde aan die voetheuwels ontstaan het, bekend geword as Riebeek-Kasteel.

Beide Jan Smuts en DF Malan het groot spore hier getrap, maar die idilliese omgewing het oor die jare ʼn rustigheid oor die Riebeekvallei laat daal. Deesdae is daar dus heelwat minder polemiek en politiek, en enige vurige gesprekke fokus meer gereeld op kuns, wyn en eklektiese samesyn.

Die streek se grootste trekpleister bly die buitengewone wyne en olywe wat hier gekweek, geskink en verkoop word. Dan is die mense ook sommer net lekker, en dit alles saam maak vir ʼn outentieke dog gesofistikeerde plattelandse wegbreek wat jy nie wil mis nie. Besoek www.swartlandwineandolives.co.za vir meer inligting.

(Foto: Jacques Marais)

Ope ateljees: Elke jaar in Augustus bied Klaus Piprek en die kunstenaars van die Riebeekvallei hul Solo Studios-naweek aan. Hierdie inisiatief bied besoekers die geleentheid om kunstenaars van aangesig tot aangesig in hul kreatiewe spasie te ontmoet. Dit skep ʼn intieme kontak om beide die individu en hul skepping beter te verstaan, met meer as 100 diverse kunstenaars wat werk in verskeie mediums uitstal – www.solostudios.co.za.

Wynproewers: Riebeekvallei en Swartland bottel al vir meer as twee eeue van Suid-Afrika se mees bekroonde wyne, maar laat deesdae ook wynkenners wêreldwyd regop sit. Die streek is onlangs deur die internasionale Wine Enthusiast-organisasie genomineer as ʼn globale Wine Star-streek, spesifiek weens die ou-stok-wingerde en regeneratiewe landbouprosesse wat hulle kultivars so uitstaande maak – www.wineenthusiast.com.

Lekker olywe: Liefhebbers van allerlei olyf-lekkernye gaan hart en siel in hierdie Mediterreense hoekie van die Swartland verloor. Die Riebeekvallei se halfdosyn produsente se uitstaande olyfolies is reeds internasionaal bekroon, en my gunstelingplek om ʼn ‘olie-proe’ te doen is Het Vlok Kasteel – www.hetvlokkasteel.co.za.

(Foto: Jacques Marais)

Smaak raak: Die Valley Deli is ongetwyfeld die topplek om te stop indien jy soek na die beste organiese groente, varsgebak, watertand-maaltye, ingevoerde lekkernye en puik wyne. En indien koffie-kapitaal en pizzas jou ding is, gaan kuier gerus by Eight Feet Village bo-aan Botma’s Pas vir die beste uitsig oor die vallei.

Trap fiets: Hier is lekker traproetes wat op jou wag. Kasteelberg bied ʼn perfek sirkelroete vir die gruis-fiets-brigade, met ʼn paar lekker teerpad-opdraandes en goeie gruis wat deur prentjiemooi wingerde, koringlande en olyfboorde swenk en swaai.

(Foto: Jacques Marais)

Diegene wat belangstel kan die jaarlikse Ronde Van Riebeek-byeenkoms pak; hierdie nuwe gruis-fiets-100-myler-resies bied ook korter afstande, so kies tussen 160 km, 80 km en 40 km. Dit vind elke jaar in April plaas – www.rondevanriebeek.co.za.

(Foto: Jacques Marais)

Daar is ook die Riebeek Valley bergfietsroete, met verskeie roetes wat deur die plase, wingerde en olyfboorde wentel. Jy kan selfs die imposante Kasteelberg met sy skouspelagtige uitsigte baasraak. Daar is werklik ietsie vir almal, van beginners tot groot honde. Kom kuier in September en speel saam. Besoek dié Facebook-blad vir meer inligting.

Meer inligting by www.swartlandtourism.co.za

Hoe maak ʼn mens?

Hoe kom jy daar: Volg die N7 vanaf Kaapstad tot by Malmesbury; neem dan Afrit 65, al met die R45 en R46 tot in Riebeek-Kasteel.

Bly hier: Die Royal Hotel is een van die oudste hotelle in die Weskaap, en bied luuksste verblyf hier in die hart van die Swartland. Daar is vier suites en tien standaard kamers. Alle kamers het en-suite badkamers, TV’s, lugreëling en soveel meer – www.royalinriebeek.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.