Foto’s: Vier dae om Dullstroom te beleef

ʼn Laning dennebome en ʼn vloer van dennebolle en dennenaalde begroet jou wanneer jy die Dunkeld-landgoed in Dullstroom betree. (Foto: Werner Bezuidenhout)

Kort ná Kersfees verlede jaar het ons gesin van vier die Hilux gepak en die ent tussen Pretoria en Dullstroom in Mpumalanga op die N4 aangepak.

Wat veronderstel was om ʼn rit van twee en ʼn half uur te wees, het in ʼn rit van byna vier uur ontaard omdat ons nege maande oue babadogtertjie nie hou van haar karstoeltjie nie. Haar stoeltjie wys nog agtertoe en as sy ons nie kan sien nie, voel sy vreeslik uitgelaat en sit ʼn keel op. Siestog, arme ding.

ʼn Karstoeltjie is egter ʼn ononderhandelbare onderwerp – selfs wanneer ons net winkel toe ry – en vele trane en ʼn hees-geskreeude stemmetjie later het Dullstroom uiteindelik voor ons opgedoem.

Ons het eers deur die dorpie gery, wat ʼn tydjie geneem het aangesien daar soveel voertuie en mense was wat ʼn plekkie soek om stil te hou. Uiteindelik het ons die afdraaipad na die Dunkeld Country and Equestrian Estate gevind wat ons moes volg om by ons verblyf uit te kom en by ons familielede aan te sluit.

Op dié grondpadjie na die landgoed se ingang het ons, tot my peuterseuntjie se groot vreugde, ʼn trop boerbokke teëgekom wat heel geduldig langs die pad gewag het vir ʼn beurt om oor te stap.

Die ingang van die landgoed is asembenemend: ʼn Laning dennebome en ʼn vloer van dennebolle en dennenaalde begroet jou wanneer jy die landgoed betree. As jy jou voertuig vir ʼn oomblik afskakel, kan jy hoor hoe duisende besies, goggas en voëltjies in die bome jou met luide gesange verwelkom.

Die Dunkeld-landgoed is prentjiemooi. (Foto: Leonie Bezuidenhout)

Die landgoed self is ʼn pragtige plek, met ongelooflike uitsigte oor groen velde, waterstrome, damme en troppe wildsbokke, sebras en wilde perde. Daar is ook ʼn perdestal op die luukse landgoed en ons het selfs ʼn lieflike bruid en haar gevolg gesien voordat hulle by die perdestal sou troufoto’s neem.

Vriende van ons het toevallig dieselfde naweek in Dullstroom tuisgegaan by ʼn ander landgoed, nie ver van ons af nie. Hulle akkommodasie was meer primitief, met geen televisie en geen selfoonsein, maar dit het hulle die geleentheid gebied om gehaltetyd saam met hulle twee jong dogters deur te bring.

Dullstroom bied gemak en luuksheid saam met die afgeleë gevoel wat ʼn stadsjapie soms broodnodig het om af te skakel. Klein kinders geniet die plek net soveel, aangesien die moontlikheid om gereeld wilde diere raak te sien so groot is.

Ons het ook die gelukkie getref om ʼn paar van die donderstorms waarvoor dié omgewing bekend is te beleef. Die storms het gelukkig nie lank geduur nie, en ons kon steeds die natuur en die stilte geniet deur te gaan stap en die omgewing te verken.

Lewendige dorpie

Die Waffle and Co. restaurant maak heerlike koffie. (Foto: Leonie Bezuidenhout)

Die dorp self is sowat tien minute se ry van die landgoed, so dit was baie gemaklik om in en uit die dorp te beweeg vir daaglikse benodigdhede soos melk en brood, of om ʼn restaurant of klerewinkel te besoek.

Dit voel asof die dorpie skielik nuwe lewe gekry het. Ek kan nie onthou dat dit só lewendig was toe ons in 2018 laas besoek in Dullstroom afgelê het nie. Dit was wel destyds hoogwinter, en dalk kan ʼn mens die besige straat en winkels toeskryf aan die feit dat ons oor die feesseisoen besoek in dié pragdorp afgelê het. Dit was egter nie so besig dat ʼn mens jou nie kon draai nie.

Die winkels, restaurante en kunsgalerye is basies almal in een lang straat geleë, met kortpaadjies na koddige speelgoedwinkels, boekwinkels en boetieksjokoladewinkels.

Die restaurante was stampvol, maar die diens was steeds flink – veral by Waffle and Co. waar ons heerlike melkskommels en Belgiese wafels met allerlei soet en sout bolae geëet het.

Soos meeste ander plekke is Dullstroom dierevriendelik, en my seuntjie kon dit nie weerstaan om twee vriendelike Jack Russells gekruis met windhonde wat saamgekuier het te vryf nie.

Daar is soveel geleenthede om pragtige foto’s te neem, en ons familie het behoorlik daarvan gebruik gemaak. Die ander toeriste het seker begin wonder wat gaan aan met dié klomp wat so staan en hordes foto’s neem!

Die Alzu Petroport op die N4 is ʼn goeie plek om te stop met die kinders. Hier kan jy renosters en ander wild beskou, en daar is sommer ʼn hele rits eetplekke om van te kies. Wees gewaarsku: Dié plek is gewild en kanse is goed dat jy ʼn rukkie gaan wag vir jou bestelling.

Dullstroom is ʼn pragtige, verwelkomende dorpie wat perfek is vir gesinsvakansies of as jy bereid is om die pad van Pretoria of Johannesburg aan te durf, ʼn daguitstappie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

TruthDealer ·

Lieflike plek. Ek hoor dis forel-wêreld ook. Seker duur, alles daar. Maar dit klink soos n lekker plek. Sal maar eers pryse moet uitvind, ek is nou lus om te gaan:-) Ek sou in die wintermaande gaan wanneer daar minder mense is. Artikels soos hierdie laat my tog wonder, almal kla oor die koste van die lewe, maar tog is die plek stampvol?

Michelle ·

Baie mooi storie en jy vertel dit presies soos wat dit is. Ons sport vat ons een keer ‘n maand Dullstroom toe en ons sien elke keer iets wat ons gemis het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.