Heimwee, die dodelike mededinger

’n Treinspoor in België. (Foto: Dalene de Vente.)

Heimwee is amper soos ʼn dodelike mededinger. Dalk ʼn mededinger wat my baasgeraak het, maar wat my ook ʼn baie belangrike ding oor myself geleer het: As my voete nie op Suid-Afrika se bodem is nie, is ek ʼn swerwer.

Die eerste keer dat ek besef het ek het met heimwee te doen, was op die treinstasie in Brussel. ʼn Man uit Pakistan vra my of ek geld wil skenk vir die “homeless people”. Ek kyk hom vir ʼn wyle in stilte aan voordat ek antwoord: “No, I am also homeless.”

Want ek is. Huisloos. Suid-Afrika-loos (as ek dan nou ’n woord moet skep).

Ek drink rooibostee in my dakkamer sonder son en die trane loop en loop. Die Total-brandstofstasie se logo laat my hart saamtrek van verlange, die Pick n Pay sak wat ek in my reistas ontdek, gee my ʼn knop in die keel. Enige iets wat lyk of dit van Suid-Afrika af kom, is goud vir my.  ʼn Naelstring wat my aan my geboorteland bind.

In die besige stad Gent staan ek op ʼn brug en húíl. Ek huil dat die trane loop. Ek is by die stasie en daar is ʼn mengelmoes van mense om my. Dieselfde eendag op die stasie in Rotterdam in Nederland, toe ek met my gesig in my reistas sit en vir ʼn uur lank gewonder het waar ek die moed gaan kry om te staan en die mededinger aan te pak.

Ek mis die petroljoggie Moses by ons Total-garage in Hertzogstraat. Hy kom van die platteland af en is amper té opreg om in Pretoria te woon. Eenkeer het ’n vrou by Mr Price in Brooklyn Mall vir my gevra of ek oukei is toe ek doodmoeg ná ’n werkdag vir my nuwe klere betaal. Sy gee my haar nommer en sê ek mag haar bel as ek ooit vriende wil hê.

Natuurlik is dit nie altyd so dat daar nié mense is wat omgee nie. Dit is net as mens verlang, dat jy soms sukkel om die positiewe dinge raak te sien.

Daar was ’n gesin in Wezep en in Groningen in Nederland waar ek bloot die huissleutel wat hulle buite in hul tuin wegsteek, kon kry, die deur oopmaak en vir my koffie maak. Die kaggelvuur en geselskap daar was baie spesiaal. En van my gunstelingherinneringe is toe ek my laaste oggend uit België reis en vir oulaas in Mechelen stop om op ’n ander trein te klim. Net buite die stasie is ’n restaurant genaamd Friends. Ek kom ingestrompel, laat val per ongeluk my reistas en struikel daaroor. Die man kon seker sien ek is baie moeg. Hy bring onmiddellik ’n cappuccino en bied ’n droë broodjie aan.

Die verlange wat saamtrek in jou maag, sal maak dat jy teruggaan na die land waar melk en heuning met ʼn baie duur prys kom. Die land waar misdaad en haat gratis uitgedeel word.

Is dit nie wat liefhê is nie? Onvoorwaardelik? Ten spyte van?

Ek mis dit om in Afrikaans en selfs in Engels te kommunikeer. Ek mis die eenvoud van ʼn lewe in Afrika. Ek mis dit om kaalvoet te loop. Ek mis boeretroos en beskuit.

Almal het drome om nuwe plekke te ontdek. Daar is nog so baie plekke wat ek wil sien en reise wat ek wil aanpak. Tog bly een van my grootste drome om eendag in my huis in die Moot wakker te word en kaalvoet in die son my koffie te geniet terwyl ek vir die Magaliesberg kyk. Om net te weet: hier is my huis en ek mag hier bly. Om te kan glimlag, want jy moes eers diep verlang om diep lief te hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
saggiespraat

Ai tog dus so mooi en hartseer, ek sit in Suid Afrika al 36 jaar en mis dit net soos jy.

Liza M Roux

Dis pragtig mooi! “You never miss the water till its gone” nê?

Vrijburger

Mooi geskryf.
Texas groete.

Josef du Toit

Ek weet waarvan u skryf! Na twee dekades buite my geboorteland, meestal in Ierland, maar onder andere ook 5 jaar in Brussel (2014-2019) (toe ek ook ‘n gereëlde besoeker was op Sondae by die Christelijke Gereformeerde Sendingstasie in Gent (http://www.ecrgent.be/), het ek uiteindelik ingegee vir die heimwee-ding, en die lang proses van terugburgering begin. Sedert April is ek weer in Pretoria, grendelstand en al. Ai, dis goed om terug te wees, nie omdat alles goed gaan nie, maar gewoon omdat ek tuis is. Van Wyk Louw stel dit treffend: “’n Mens het ’n volk lief, nie omdat hy heerlik en… Lees meer »