Klein dorpies in SA wat jy moet besoek

(Foto: Unsplash)

Wat vakansies betref, kry groter dorpe en die kus gewoonlik al die eer. Maar ver van die samedromming by ’n gewilde stad of groot kusdorp, skuil daar klein dorpies met interessante geskiedenis, onverwagse dinge om te doen en ’n bekoring wat jy net op die platteland sal vind.

Met Covid-19 wat steeds woed, is dit dalk tyd om in 2021 weg van die skares vakansie te hou. So as jy vanjaar lus is vir iets anders, stel LekkeSlaap hierdie paar dorpies voor wat jy moet besoek.

Beaufort-Wes, Wes-Kaap

Beaufort-Wes is soveel meer as net ’n oornagdorpie tussen Kaapstad en Johannesburg. Vanaf dié dorp kan jy die Karoo Nasionale Park, wat slegs vyf kilometer van die middedorp af is, besoek as jy hou van wildkyk en 4×4.

Die 4×4-entoesias kan die Karoo Nuweveld-roete onder andere aandurf, die geskiedenis-fanatikus kan vir ure deur die dorp op ’n begeleide toer wandel en nasionale monumente verken en die sportiewe besoeker kan die talle voetslaanroetes geniet.

Graaff-Reinet, Oos-Kaap

Graaff-Reinet is propvol doendinge wat jou vakansie uniek en sommer net lekker gaan maak. Besoek die Vallei van Verlatenheid wat een van ons land se mooiste valleie is. Jy kan ’n pragtige uitsig oor die vallei van ’n uitkykpunt in die Kambedoo Nasionale Park af geniet.

Wandel in Kerkstraat, besoek die oulike kunsgalerye en maak ’n punt daarvan om dié dorp se geboue te verken, want 200 daarvan is as nasionale monumente aangewys! Gaan loer ook by die Kamdeboo se enigste teater, die John Rupert-teater, in. En as jy nie een is vir stilsit nie, gryp jou fiets en verken al die fietsry-roetes in die omgewing.

Gariepdam, Vrystaat

Gariepdam mag dalk vir baie net ’n oorslaapdorpie wees, maar hierdie uiters stil dorpie het skatte wat lê en wag vir enigeen wat dit wil verken. Dié dorp is die ideale plek vir diegene wat hul selfone wil afskakel en weer gehaltetyd saam met hul geliefdes wil deurbring.

Die Gariepdam-natuurreservaat spog met die enorme dam, die Oranjerivier en ’n wildbewarea met ’n rits doendinge. Die wildbewarea is die tuiste van die grootste trop springbokke in die land. Daar is 242 voëlspesies om voor uit te kyk en 100 kilometer lange grondpaaie en tweespoorpaadjies al langs die water wat fietsryers nie kan weerstaan nie.

Die dam sorg ook vir watersportgeleenthede en jy kan ook die dam op ’n damwaltoer van nader bekyk. Sweefvlieg is net so gewild in die gebied en is die ideale geleentheid om die wêreld van bo te verken. Die omgewing is bekend vir sy sterrehemel wat besoekers nag na nag betower. Maak seker jy kry die geleentheid om ’n bietjie op te kyk na die duisende sterre in die nag.

Victoria-Wes, Noord-Kaap

Victoria-Wes mag dalk klein wees, maar staal het nie dikte nodig nie. Die strate spog met Kaapse kothuisies, Karoo-huisies en Victoriaanse huisies wat net wag om verken te word.

Die Victoria-Wes- en Noord-Kaapse streeksmuseum is ’n skatkis van kennis en nostalgie wat jou vir ure kan bekoor.

As jy ’n natuurliefhebber is, verken dan wildspesies wat eie is aan die Karoo by die Victoria-Wes-natuurreservaat. Voëlkykers sal die fantastiese uitkykpunt bo die damwal aan die einde van Kerkstraat geniet. Mense gons oor die Ka’roux Restaurant en ’n besoek aan die Apollo-teater is beslis ’n moet.

Yzerfontein, Wes-Kaap

Yzerfontein is net die plek om te wees as jy iemand is wat mal is oor die see, maar die skare wil vermy. Hier kan jy ure lank deur die strate ry en jou vergaap aan die huise, sonbaai op die strand wat nie net ongerep is nie, maar stil ook, en daarna deur winkeltjies stap wat allerhande interessanthede aanhou.

Yzerfontein is ’n kusdorpie wat jou nooi om roomys langs die strand te koop, heerlike seekosdisse by die restaurante te geniet, en sommer ook ’n draai by die hawe te maak waar jy die bote kan dophou en ’n paar blare vir die dassies voer.

Hoedspruit, Limpopo

Dié Bosvelddorpie skuil tussen die Krugerwildtuin en die Blyderivierspoort. Dit maak dit die ideale basis vanwaar jy dié twee gebiede kan verken en wildkyk vir dae lank. Maar jy hoef nie noodwendig die dorp te verlaat vir ’n heerlike wegbreek nie. Die dorp fokus op toerisme en bied doendinge soos perdry-safari’s, mikrovlugte, warmlugballonvlugte, en as jy eerder rustiger wil verkeer kan jy een van vele spa’s in die dorp besoek.

Heidelberg, Gauteng

Heidelberg is die tipe dorpie wat jy vir ’n naweek besoek om jou te omring met geskiedenis, kleindorpie-sjarme en ’n rustigheid wat jy net hier sal kry. Pak jou tekkies in en verken roetes soos die Klipkraal- en Suikerbosrand-voetslaanroetes.

Die Alice Glockner-natuurreservaat is ’n versteekte juweel wat elkeen moet besoek. Dit spog met ’n indrukwekkende verskeidenheid plant- en diersoorte. Heidelberg is die perfekte voorbeeld van ’n bekoorlike Suid-Afrikaanse kleindorpie: Daar is iets lekker om om elke hoek en draai te doen ─ jy moet net weet waar om te kyk!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.