Knokke – as jy moeg word vir die lewe in ’n Belgiese stad

Geel affodille langs die pad (Foto: Dalene de Vente)

Die heel eerste wat ek van die dorp Knokke sien, is die eenvoudige stasie. Dit is tjoepstil toe ek Saterdagoggend binne-in die stasie loer. Daar is niemand daarbinne nie. Net ʼn staander met kaarte. Ek is bly ek hoef nie vir die kaart te betaal nie, want ek het hierdie daguitstappie met die minimum begroting aangepak: nét 10 euro. Treinkaartjies uitgesluit. Ek sien op die kaart as ek hier by die stasie net reguit aanhou stap, sal ek by die see uitkom.

Dit is anders hiér as die res van België. Hier is ruimte – groot huise, breë paaie, uiters modern. Blokkerig.

Dit is Maart. Geel affodille langs die pad dui op lente. Hoe verder ek die dorp instap, hoe meer neem die geselligheid rondom my toe. Dis net fietse en mense en kinders en honde waar jy ook al kyk. Dit is, terloops, die tweede Saterdag wat honde weer toegelaat is om hul base op strandstappies te vergesel en die honde wat in Oktober laas die strandluggie kon voel, doen dit met opgewonde blaffies en swaaiende sterte. Daar is selfs honde in stootwaentjies (Ek is gewaarsku dat Knokke effens “gesofistikeerd” is.)

Ek sou eers na ʼn ander stranddorp toe gaan, maar een van die plaaslike mense raai my toe aan om eerder Knokke toe te gaan, want “daar is bietjie meer ‘natuur’.”

Van die natuur in Knokke is daar egter nie veel te sien nie. Daar is ʼn paar seemeeue, rotse, seesand, golwe… Maar ek sal weer gaan, as ek die kans kry. Dit laat my nogal baie dink aan die Strand in Somerset-Wes.

Die voorbereidings vir somer is in volle swang en al langs die strand kap of boor mense aan strandkafees en huurhuisies. Die ding waaraan ek die meeste moet gewoond raak, is om met winterklere (serpe, stewels, jasse, musse) op die strand rond te loop. Natuurlik kan dit nie anders nie, want selfs al is dit ʼn lieflike 10 °C, is dit steeds te koud vir kaalvoet loop.

Dit is miskien nie die plek waar toeriste hul avontuurlus kan kom blus nie. Dit is eintlik maar net ʼn gewone dorp waar die mense van Vlaandere kom ontspan. Die andersheid is juis die rede waarom ek dit so geniet. Dit is ‘n ou dorpie, maar in nuwe klere..

Ek vries in my spore toe ek die strandkafee sien. Ek is onmiddellik verlief op die atmosfeer. Dit is ʼn restaurant met wit tafels en stoele op die strand. Ek bestel ʼn cappuccino, want dis die goedkoopste. Terwyl ek skryf en my laaste euros tel, dagdroom ek oor die rustige waters heen.

Met die res van my geld gaan koop ek bietjie kaas, brood en jogurt waarmee ek die res van die dag moet oorleef. Daar is oraloor piekniekbankies waar ʼn mens kan sit en eet.

Halfvyf die middag vertrek die laaste trein uit Knokke. Ek is tevrede ná ʼn dag langs die strand. Ek weet nou: as jy moeg word vir die lewe in ʼn Belgiese stad, gaan bietjie see toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kiewiet ·

Ag hoe geseend kan ‘n mens wees. Mensdom skoon, netjies, dis om van jaloers te word! Dankie Dalene.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.