Kom besoek Kaapsehoop

Ons plek in die wolke. (Foto: Alita Steenkamp)

As jy binnekort weer wegbreek uit die stad kan jy gerus die N4-deurpad vat en by Kaapsehoop kom inloer. Jy gaan vir seker jou hart verloor.

Dit is moeilik om nie liries te wil raak oor hierdie prentjiemooi bergdorpie nie. Daar waar die liewe Heer met die Skepping ʼn handvol rotse neergestrooi het hoog bo in die berg, die dorp met sinkhuise wat dateer uit die tyd van die goudstormloop, waar die mis soms die dorp toerol vir ure lank, waar die vrylopende perde skielik uit die digte mis verskyn… Dit is Kaapsehoop.

Staan jy op ’n helder dag bo by die uitkykpunt wat oor die De Kaap-vallei uitkyk, kan jy selfs so ver as Pretoriuskop in die Wildtuin sien. Dit behoort enigeen wat nie weet waar Kaapsehoop is nie, ʼn beter idee van die dorp se ligging te gee. Dié bergdorp lê bo-op die platorand van die Drakensberge en is sowat ’n halfuur se ry vanaf Nelspruit. Wanneer jy met die N4 deur die tonnel by Waterval-Boven kom, kry jy die afdraai na Kaapsehoop net ná die papiermeule by Ngodwana. Van daar is dit bloot ’n kronkelpad van 12 km om by Kaapsehoop uit te kom.

Kaapsehoop is veral bekend vir die vrylopende perde wat in die dorpie, grasvlaktes en plantasies in die omgewing rondloop. Vry en ongehinderd. Tog is daar veel meer te sien en te beleef in Kaapsehoop as die vrylopende perde. Daar is ten minste nege ander redes waarom jy hierdie vakansie ’n draai in Kaapsehoop moet gaan maak.

  1. Wonderlike staproetes

Kaapsehoop Staproete is ’n pragtige staproete met vier oornaghutte: Florence Hill Hut, Barrets Coaches, Wattles Hut en die Kaapschehoop Hut.

Tans is die hut by Florence Hill onbepaald gesluit, en moet ’n mens dus jou staproete daarvolgens beplan.

Afgesien van die wonderlike natuurskoon, gaan jy die vrylopende perde iewers raakloop.

Kaapsehoop is egter nie net ’n ideale bestemming vir stappers wat hulle sportsoort ernstig opneem nie. Daar is talle roetes oor ’n korter afstand wat jou ook na pragtige plekke neem.

Die Blouswaelvlakte, ’n grasvlakte wat eens op ’n tyd die tuiste vir hierdie ernstig bedreigde voëlspesie was, kan slegs te voet besoek word. Daar word tans geen permitte uitgereik om met voertuie hierdie terrein te betree nie weens die sensitiewe plantspesies wat daar groei.

Die interessante Klipkalender, ’n oeroue sonkalender, kan dus ook net te voet bereik word.

Die duidelik gemerkte voetpad na die uitkykpunt bo die dorp, is ’n lekker klim van sowat twintig minute wat selfs vir diegene wat nie te fiks is nie, haalbaar is.

Benewens die interessante rotsformasies, pragtige voëlspesies en veldblomme wat altyd op die roetes sigbaar is, is die wintertyd ook besonder mooi vanweë die aalwyne wat bloedrooi in die rante blom. Die Kaapsehoop Staproete kan bespreek word by SAFCOL 013 754 2724 of e-pos [email protected].

  1. Historiese geboue en begraafplaas

Kaapsehoop spog met ’n ryk geskiedenis wat terugstrek tot 1872, toe goud in die omgewing ontdek is.

Die dorpie het toe bekend gestaan as Duivelskantoor maar met die dorpstigting is dit gelukkig nie so gedoop nie, maar wel Kaapsehoop. Iewers het iemand die berg en die mis en die fynbos vergelyk met die van die Kaap en dan was daar altyd die hoop om skatryk te word met ’n goudvonds.

Een van die oudste geboutjies op die dorp is die pragtige ou klipgeboutjie van die Mynkommissaris wat in 1884 gebou is. Die ou regeringsgebou staan ook steeds, maar hopelik kan daar spoedig herstelwerk aan die gebou gedoen word om dit te bewaar vir die nageslag.

Corner Cottage, op die hoek van Kantoor- en Vogelstraat, is ’n pragtige huis in privaat besig wat blykbaar ook dateer uit 1884.

ʼn Ander besienswaardigheid is die ou stoomenjin, soortgelyk aan die een wat die El Diablo (Die duiwel)-battery aangedryf het. Hierdie battery is iewers in die omgewing van Kaapsehoop gebruik om die kliperts fyn te maal in die goudontgunningsproses.

Die begraafplaas, binne loopafstand van Kaapsehoop, is ook ’n besoek werd. Afgesien van die ou, ou grafte met hulle pragtige ornamentele grafstene, is daar die hartseer verhaal van die Graham-ouerpaar wat 3 kindertjies op ’n baie jong ouderdom verloor het.

’n Grafsteen wat baie belangstelling uitlok, is die van Evan Davies wat tydens die Eerste Wêreldoorlog vir die Suid-Afrikaanse magte in die gruwelike slag van Delvillebos geveg het. Hy was een van slegs 750 wat dié veldslag oorleef het en uiteindelik, as ʼn 80-jarige, rustig in sy huis op Kaapsehoop gesterf het. Die M.O.T.H.S het ʼn besonderse gedenkplaat by hierdie grafsteen opgerig en daar word jaarliks in Julie ʼn spesiale herdenkingsdiens in die begraafplaas gehou.

  1. Die Battery Creek-waterval

ʼn Maklike 10 minute se stap bring jou by die punt waar jy die pragtige Battery Creek-waterval van bo-af kan besigtig.

In die somermaande met oorvloedige reën in hierdie area, loop die 30 m hoë waterval altyd besonder sterk. Daar is ook ʼn roete om na onder te gaan waar jy in die yskoue bergpoel onder die waterval kan gaan staan.

Dit is egter nie ʼn maklike klim nie en die glibberige rotse kan gevaarlik wees. Dis veel veiliger om die skoonheid van die waterval van bo te beskou.

Hierdie waterval wat in die pragtige Battery Creek-ravyn na onder in die Elandsvallei loop, sluit daar aan by die Elandsrivier. Die stroom word gevoed deur fonteine op Blouswaelvlakte en hierdie rivier is totaal onbesmet en silwerskoon in die omgewing van Kaapsehoop.

Die Battery Creek-waterval bied ook wonderlike fotogeleenthede vir amateur en professionele fotograwe.

Die afgelope paar jaar het Brian Morris, ʼn toesighoudende bestuurder by die Kaapsehoop Heritage Association, begin met ʼn rehabilitasieprojek in die area van die waterval. Met die aanvang van bosbou-aktiwiteite in die gebied rondom Kaapsehoop etlike dekades gelede, is groot dele van die natuurlike grasvlaktes vernietig, onder meer die Kaapsehoop kwartsiet-grasvlakte aan die bokant van die Battery Creek-ravyn.

Danksy die nuutste omgewingsriglyne vir kommersiële bosboubedrywighede mag daar geen nuwe aanplantings in ʼn 30 m-strook langs die rant van ʼn kloof gedoen word nie, en daarom mag daar nie weer nuwe bome geplant word waar die oues ʼn jaar of drie gelede afgekap is nie. Die projek is baie geslaagd en van die natuurlike grasveld is besig om daar gevestig te word.

Die Battery Creek-waterval in vloed. (Foto: Alita Steenkamp)

  1. Voëlkyk in Kaapsehoop

Piet-my-vrou (Foto: Johan Gouws)

Vir baie lank is ywerige voëlkykers na Kaapsehoop gelok in die hoop om die uiters bedreigde blouswael te sien.

Volgens birdlife.org.za is daar minder as 40 broeipare van hierdie voëls in Suid-Afrika oor. Ongelukkig het die broeipare wat nog tot 2009 hier op die Blouswaelvlakte op Kaapsehoop se voorstoep gebroei het, een somer net nie weer teruggekeer na hierdie area nie. Intussen hoop almal dat daar wel weer eendag van hierdie besonderse voëltjies hier te sien sal wees.

Johan Gouws, ʼn bekende voëlgids van Kaapsehoop, sê dat Kaapsehoop ʼn wonderlike bestemming vir enige voëlkyker is. Van die unieke voëls wat jy hier in die dorp en omstreke sal raakloop, is die rooibektiptol, ruigtesanger, witkoljanfrederik, geelkeelsanger, swerfvalke, pylvlekkatlagter, swartriethaan, diederikkie en Knysnaloeries.

In die wintermaande nooi die talle aalwyne wat bloedrooi blom die nektarvreters uit vir die feesmaal. Dan kry jy jangroentjies, rooikeelsuikervoëls en ʼn groot verskeidenheid suikerbekkies hier te sien.

In die omtrek van die Battery Creek-ravyn is daar ook heelwat groot roofvoëls soos Witkruisarende, verskillende soorte jakkalsvoëls, langkuifarende en ʼn verskeidenheid valke te sien.

Kontak Johan Gouws vir meer inligting oor sy insiggewende voëlkyktoere by 083 294 3370.

  1. Interessante winkeltjies

Wat is ʼn toeristedorpie sonder interessante winkeltjies? Kaapsehoop spog met ʼn hele paar snuffelwinkels waar jy ʼn wye verskeidenheid items kan koop.

Een van die bekendste winkels wat boonop die hele week oop is, is Ingrid Murphy se Gold Dust Trading. Hierdie winkel het pragtige antieke meubels, ou porselein en breekgoed, antieke klere, ou boeke, blikke en verskeie ander snuisterye.

In Merle Ter Bruggen se Deliteful Glass Worx, vind jy die mooiste handgemaakte loodglaslampe, sonvangers, windklingels, glasblomme en -engele. Alhoewel dié winkel gewoonlik net oor naweke oop is, sal jy hierdie Desembervakansie vir Merle elke dag daar raakloop.

Nog ʼn interessante winkel met handgemaakte items, kunswerke, draadfigure en windpompe en alles en nog wat, is die snuffelwinkel Deo Volentè op die hoek van Kantoor- en Krugerstraat, daar neffens die dorp se artistieke windpomp. Sonika Peach, die eienaar van Deo Volentè is self ʼn kunstenaar, maar verkoop ook van die kunswerke van ander kunstenaars in die omgewing.

As jy van mooi juwele hou, durf jy nie Mary Ross van Soul Creations Jewellery op Kaapsehoop misloop nie. Sy het die wonderlike vermoë om enige ou edelstene weer ʼn pragtige nuwe lewe te gee in ʼn splinternuwe handgemaakte ontwerp.

Ramona Marais is Kaapsehoop se Pottery Chick wat op haar perseel, onder in Watkinsstraat, van haar mooi pottebakkersware verkoop.

  1. Kaapsehoop Scootours

Kaapsehoop Scootours is ’n prettige aktiwiteit. (Foto verskaf)

Diegene wat van adrenalien hou, sal dol wees oor die opwinding wat Kaapsehoop Scootours bied. Skopfietse met vet, monsterwiele sorg vir al die pret.

Die roete is so ontwerp dat jy vir ses kilometer afdraande ry in die pragtige Battery Creek-ravyn.

Die roete volg bergpaaie en enkelpaadjies in die plantasies en eindig by ʼn pragtige punt reg langs die helderskoon water van die Battery Creek.

Die aktiwiteit begin met ʼn rit op ʼn wildkykvoertuig en jy word geneem na die hoogste punt net buite Kaapsehoop. Daar gee die gids wat die roete saam met jou gaan voltooi, ʼn veiligheidsinligtingsessie oor die hantering van die skopfiets. Wanneer almal op die skopfietse klim, vertrek die wildkykvoertuig na onder in die vallei waar die roete eindig.

Op die roete kry ʼn mens die geleentheid om bergwater uit ʼn rivierstroom te drink en kettie te skiet na ʼn teiken aan die oorkant van die kloof. By die eindpunt is daar tyd om koeldrank te drink, voete in die water nat te maak of op die skoppelmaai hoog oor die riviertjie te swaai. Die voertuig neem jou terug na Kaapsehoop. Om die skopfietse te kan ry, moet jy in staat wees om fiets te ry.

Valhelms is verpligtend en word voorsien. Koste is R450 per persoon en R225 per passasiers.

Enige kind onder die ouderdom van agt jaar wat nog nie self kan fietsry nie, kan as ʼn passasier voor op die fiets by ʼn volwassene staan. Besprekings is noodsaaklik. Kontak vir Rudi du Plessis by 083 576 6541.

Is daar dalk vir my ook ’n skopfiets? (Foto: Alita Steenkamp)

  1. Kaapsehoop Horse Trails

Kaapsehoop is sinoniem met perde, maar glo vir my, die vrylopendes sal beslis nie ʼn saal op hulle rûe duld nie.

Vir diegene wat ʼn perdry-ervaring wil meemaak, is Kaapsehoop Horse Trails die ideale bestemming. Dit maak nie saak of jy ʼn beginnerruiter, of een met hope ervaring is nie, by Kaapsehoop Horse Trails sal Mariska Redelinghuys en Christo Germishuys jou op ʼn nommerpas perd se rug sit.

Hier kan jy ʼn rit in die mooiste omgewing onderneem en een word met die natuur. Daar is verskillende opsies: een of twee uur ritte, of ʼn voldag rit is alles moontlik. Beide Christo en Mariska is albei fyn perdekenners met hope ervaring wat hierdie ervaring waarlik besonders maak.

Kaapsehoop Horse Trails bied ook vrywilliger-vakansiewerk aan wat veral gewild is by oorsese jongmense.

Die baie gesellige Kay’s Café, ʼn restaurant waar persoonlike aandag en uithalergeregte prioriteit is, is op die perseel by Kaapsehoop Horse Trails. Die restaurant is oor naweke oop.

Daar is ook akkommodasie beskikbaar by Kaapsehoop Horse Trails. As jy die mooi landskap van Kaapsehoop, die lieflike uitsig oor die Elandsvallei, die reuk van dennenaalde, mistige oggende en lieflike sonsondergange eerstehands wil beleef, moet jy by Kaapsehoop Horse Trails ʼn draai gaan maak. Dit is ongeveer sewe kilometer vanaf Kaapsehoop, uit op die Berlin-pad.

Vir navrae of besprekings, kontak Mariska op 076 108 0081 of stuur ʼn e-pos aan [email protected] of bel Kay’s Café by 071 643 4598.

  1. Bohemian Groove Café

Soos die naam aandui is Bohemian Groove Cafe ʼn heerlike boheemse eetplek met ʼn goeie skeut Duitse invloed: dik Duitse lensiesop, bockwurst, tuisgebakte pretzels, en apfelkuchen, om van die glühwein nie eers te praat nie.

Eienaars Charl en Andrea Fourie het waarlik hier ʼn topklas restaurant op die been gebring met ʼn wye verskeidenheid geregte. Daar is smaaklike ontbyte, ligte maaltye, slaaie, hoofgeregte en nagereg. Kleurvolle mengeldrankies, Illy-koffie en ʼn wynlys sorg vir heerlike drinkgoed.

Die restaurant is ten volle gelisensieer en indien jy jou eie drinkgoed wil bring, is kurkfooie betaalbaar. Vanaf die stoep by die restaurant, het jy die mooiste uitsig oor die Blouswaelvlakte in die verte. Die restaurant is ook ʼn kunsgalery waar verskeie kunstenaars se werke te koop aangebied word.

Andrea en Charl wat albei uitstaande kunstenaars is, se kunstenaarskap kom in veel meer as hulle geregte na vore. Op Sondae is dit veral hulle gerookte eisbein waarvoor honger besoekers kilometers ver kom.

Die eienaars se dogter, Chevonne, is ʼn professionele sjef maar ook ʼn patisserie-sjef wat uithaler fyngebak opdis. Sy staan ook in beheer van die kombuis. Die varsgebakte suurdeegbrode wat oor naweke daar beskikbaar is, is watertand. By Bohemian Groove Café kan jy ook permitte vir al die korter staproetes, soos die een na die waterval, koop.

Kontak Bohemian Groove Café op 076 764 7625 of stuur ʼn e-pos aan [email protected].

  1. Nagkantoor

Nagkantoor in die lig van die volmaan. (Foto: Alita Steenkamp)

Een van die gewildste kuierplekke in Kaapsehoop is die een wat die oudkoerantman De Wet Potgieter in 2020 oopgemaak het – Nagkantoor Kaapsehoop Kuierkroeg.

Na ʼn lang en kleurvolle loopbaan van meer as 40 jaar in die koerantwese, het De Wet besluit om ʼn kuierkroeg wat terselfdertyd ʼn soort van ʼn mediamuseum is, oop te maak in Kaapsehoop. Koerantmanne is immers bekend daarvoor dat hulle dikwels hulle stories iewers uit ʼn kroeg gaan haal het, of in die kroeg gesit het om stories met mekaar uit te ruil.

Die klein kroegie is heel toevallig bo in Kantoorstraat. Daar sal jy altyd vir De Wet en sy handlanger, Potlood die kroegbrak, raakloop. Talle koerantfoto’s, koerantuitknipsels, koerantplakkate en ander memorabilia laat jou terugloop in tyd.

Teen een van die mure pryk ʼn vingerswaaiende PW Botha, maar die ander kant van die spektrum is ook goed verteenwoordig met foto’s van oudpresident Nelson Mandela, Chris Hani en Winnie Mandela. Selfs Carl Niehaus pryk teen die mure. Die foto’s en koerantberigte lok keer op keer baie interessante gesprekke uit.

Nagkantoor bedien oor ʼn naweek ook kos en die pannekoeke wat op Kaapsehoop so gewild geword het, kan jy nou hier koop en eet. Tuisgebakte pasteie is ook deel van Nagkantoor se handelsmerk. De Wet Potgieter sal jou ure lank kan besig hou met stories oor sy loopbaan.

Dit is ook ʼn gewilde bymekaarkomplek vir ander joernaliste en oudjoernaliste. In die klein saaltjie by Nagkantoor vind daar ook gereeld musiekvertonings en boekgesprekke plaas.

Kontak De Wet by 083 250 0078 of besoek die gelyknamige Facebookblad Nagkantoor. Nagkantoor is gesluit op Dinsdae.

Potlood, Nagkantoor se kroegbrak voor die ou Regeringsgebou. (Foto: Alita Steenkamp)

  1. Die vrylopende perde van Kaapsehoop

Soms kom loer die perde in om hallo te sê. (Foto: Alita Steenkamp)

Van al die wonderlike teorieë oor die afkoms van Kaapsehoop se vrylopende perde, bly die interessantste een die storie van die sirkustrein wat ontspoor het, en die sirkusperde wat weggehardloop het om by Kaapsehoop te kom woon. Dit kon beslis gewerk het, maar die naaste spoorlyn aan Kaapsehoop is ongelukkig ʼn bietjie ver.

Die waarskynlikste teorie is dat ʼn berede Engelse eenheid ʼn kamp naby aan Kaapsehoop gehad het. Aan die einde van die Anglo-Boereoorlog is hulle terug Engeland toe, maar hulle het die perde agtergelaat.

Dan is daar ook die mense wat glo die vrylopende perde wat vandag nog hier woon, is die nageslag van die delwers se perde. Toe Kaapsehoop se goud opgedroog het, is die hoopvolles Witwatersrand of Barberton toe en hulle het sommer die perde hier in Kaapsehoop agtergelaat.

Wat natuurlik sorg dat die perde oor meer as ʼn honderd jaar hier kon oorleef, is dat daar volop weiding en baie water in hierdie gebied is. Kaapsehoop is ook baie hoog bo seespieël, wat perdesiekte minder algemeen maak.

In die laaste sensus wat in 2013 gedoen is, is daar meer as 180 perde in die omstreke van Kaapsehoop getel, maar daar is nou heelwat minder. Dié in die plantasies en op die grasvlaktes is natuurlik wild en staan gewoonlik nie eers stil vir ʼn foto nie.

Daar is egter een trop wat altyd in Kaapsehoop te sien is en wat mense redelik gewoond is. Tog word daar altyd mooi gevra dat die besoekers tog nie die perde moet voer nie. Perde het sensitiewe spysverteringstelsels en ʼn perd vrek maklik van koliek indien hy iets verkeerd te ete kry.

Die ander groot vyand van Kaapsehoop se vrylopende perde is die verkeer. Ten spyte van talle waarskuwingsbode op die pad wat vanaf Ngodwana oor Kaapsehoop na Nelspruit loop, verminder mense nie spoed nie en word daar gereeld perde raak- of doodgery. Tog bied Kaapsehoop se perde ʼn unieke en besonderse kleur en geur aan hierdie dorpie. Wanneer jy vroegoggend wakker word en jy hoor ʼn perd hier langs jou kamervenster proes, weet jy jou visdam word weer leeggedrink. As ʼn man dors is, moet jy jou dors maar les, al is dit in die visdam. Net hier in Kaapsehoop!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.