Kom kuier op die strande van die Overberg-streek

Waenhuiskrans se grotte (Foto: Verskaf)

Wat het ware noord, een van die langste strande in die suide en ʼn nasionale monument met mekaar te doen? Dit is waar die Overberg-distrik se strande bymekaar kom.

Daar langs die wit strande van die Overberg, lê ʼn trio van dorpies, elkeen met sy eie unieke eienskap.

Kaap Agulhas

Het jy geweet dat ware Noord (as ʼn mens na die aarde kyk soos wat hy lê) en magnetiese Noord (die magnetiese velde in die aarde se kern) nie met die naald op dieselfde plek wys op ʼn kompas nie, maar daar is wel ʼn plek waar dit doen?

Kaap Agulhas is waar die Atlantiese en Indiese Oseane ontmoet. Daar waar die rotsformasies dieselfde geografiese oorsprong het as die wat jy op Tafelberg se hange kry. Daar waar ʼn bekende rooi en wit ligtoring staan.

Die ligtoring by Kaap Agulhas. (Foto: Verskaf)

Die naam, afgelei van die Portugese naam Cabo das Agulhas (Kaap van die Naalde), wat gegee is in die jare 1500 deur die seevaders van daardie tyd. Hier het hulle besef dat die kompasnaald presies op dieselfde plek val vir ware Noord en magnetiese Noord, wat erg ongewoon is omdat die magneties veld van die aarde dikwels verander en die naald sal laat afwyk.

Die kompasnaald is egter nie die enigste een wat sy ware Noord hier aan die mees suiderpunt van Afrika kan kom kry nie.

Bekend vir die pragtige kuslyn, is hierdie dorpie en sy bure, Struisbaai en Waenhuiskrans, baie gewilde toeristebestemmings vir hulle mooi natuurskoon en ontvlugting van die gejaagde stadsgedruis. Elke plek met sy eie uniekheid.

Kaap Agulhas se grootste aantrekkingskrag bly maar die plek waar jy met jou een voet aan die Atlantiese Oseaan en jou ander voet aan die Indiese Oseaan se kant kan staan. Die Tafelberg-siersteenrotsformasies se kleur maak dit selfs die moeite werd om te besoek op ʼn grys, koue dag en dis net ʼn bietjie meer as twee en half uur se ry vanaf Kaapstad.

Daar is ook verskeie skeepswrakke al langs die kus te vind as jy hou van die geskiedenis van ou verlate skepe uit die kelders van die see. (Woorde met komplimente uit “Kinders van die wind”.)

Struisbaai

Struisbaai is ʼn klipgooi van Kaap Agulhas en vir seker die gewildste van die drie dorpies, waar dit aktiwiteite aangaan. Met ʼn werkende klein hawe, wat elke dag vis inbring, kan jy verseker wees dat enige vis of seekos wat jy in ʼn restaurant hier eet, vars uit die see is. Te midde van die vissermanne wat nog in die wit huisies met hulle grasdakkies bly, is daar ʼn verskeidenheid van aktiwiteite wat hier beskikbaar is, wat onder andere duik, visvang, perdry en vierwielmotorfietsry insluit.

Die grootste aantrekkingskrag na die klein, kusdorpie is egter heelmoontlik die 14 kilometer lange strand, wat een van die langste strande in die Suidelike halfrond is.

Arniston/Waenhuiskrans

Aan die einde van hierdie lang strand vind ʼn mens vir Arniston/Waenhuiskrans. Die dorpie is kleiner as Struisbaai (dit het nie eens ʼn kitsbank nie), maar het ook sy eie klein besige hawe waar die vissermanne nog elke oggend, so na aan tradisioneel as kan kom, uitvaar om hulle daaglikse vis te gaan vang, om weer laatmiddag terug te keer.

Waenhuiskrans se anker (Foto: Verskaf)

Dis vernoem na die boot, Arniston, wat daar naby gesink het in 1815, nadat die kaptein verkeerdelik aangeneem het dis Kaappunt en reg Noord gedraai het na wat hy gedink het St. Helenabaai is. Ongelukkig het die skip teen die rotse vasgeloop by Waenhuiskrans. Net ses van die 378 passasiers het dit oorleef. Vandag kan jy die gedenkmonument sien wat opgerig is deur die vrou van kolonel Giels, ter nagedagtenis aan hulle vier kinders wat op die boot was.

In 1981 is albei name, Arniston en Waenhuiskrans, bekragtig as die amptelike name van die dorp. Dit is dus die enigste dorp in Suid-Afrika met twee amptelike name.

Die vissersdorpie met sy pragtige witgekalkte huisies en grasdakkies is as ʼn nasionale monument verklaar en dit gee juis die ongerepte bekoring wat ʼn mens soek as jy wil wegkom uit die stad.

Waenhuiskrans se bekende grot is ook hier te vinde en dis ʼn wonderlike buitelugontdekkingstog oor sand en klippoele. Ontdek die visse en seelewe wat in die waterpoele wegkruip, met die amper twee kilometer stap tot by die grot. Met laagwater kan ʼn mens die buitewêreldse beige-en groenbeligte grot van binne besoek, terwyl die golwe dreigend by die grotmond druis. Vir kinders is hierdie ontdekkingsavontuur ʼn hoogtepunt en vir die ouers ʼn geleentheid om in die natuur en vars lug te kom.

Hou maar gerus ʼn kompas byderhand… Hierdie kusdorpie-trio is ʼn plek waarheen ʼn mens enige tyd kan ontvlug wanneer jy weer jou ware Noord moet vind.

Akkommodasie-opsies

Die baie gewilde Arniston Spa Hotel, wat reeds in 1939 gebou is, is geleë in Arniston/Waenhuiskrans, reg langs die vissersdorpie en is soos ʼn oase in die woestyn. Die hotel se ligging is ʼn absolute hoogtepunt. As dit nie vir die pad voor die hotel was nie, voel dit of jy op die strand bly. Met die see-uitsigkamers kan ʼn mens op die stoep sit en luister na die gedruis van die see, terwyl jy die walvisse in die water sien speel of die vissersbote dophou wat in die hawe in- en uitvaar.

Die hotel bied ʼn heerlike kontinentale ontbyt wat ingesluit is by die prys. Hulle het dikwels ʼn spesiale aanbod of twee. In die aande kan jy kies tussen die restaurant of die bistro, afhangende of die kinders saam eet en of julle ʼn romantiese aandjie alleen wil hê. Hulle bied familiekamers en kamers met kaggels vir die wintermaande. Vir die somer is daar ʼn heerlike beskutte swembad in die opelugbinnehof van die hotel, waarin daar afgekoel kan word. Tydens vakansietye en naweke is daar kinderoppassers wat die kinders besig hou met ʼn verskeidenheid aktiwiteite.

ʼn Mens kan sien hoekom hierdie hotel al vir soveel jare ʼn bekende baken is vir hierdie omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.