Kroasië sal jou ook bekoor!

Kroasië is lank reeds ʼn gewilde vakansieplek en bied eintlik alles waarna ʼn mens opsoek is: son, see, talle eilande en ʼn mooi Mediterreense landskap met die kenmerkende plantegroei en bome. Pioene en sipresse is algemeen in dié landskap, in tuine en boorde groei veral olyf-, vye- en granaatbome asook wyndruiwe. Voeg daarby ʼn oormaat van geskiedenis en mooi ou geboue.

Die stad Zadar (Foto: Verskaf)

Dit was wel in die eerste plek ʼn gesinsvakansie in ʼn vakansieoord en die meeste dae het maar uit die lekker roetine van so ʼn oord bestaan: swem, snorkel, die kinders by die speelparke en swembaddens vermaak, stap op die strandpromenade en roomys eet. Verkenningstogte kon ʼn mens maar net so af en toe doen, met die kinders se behoeftes in ag neem.

In Septembermaand, net na die hoogseisoen van die somer, is dit effens stiller maar die temperature is nog aangenaam. Wat ook lekker was, was dat daar hoegenaamd geen Covid-beperkings was nie.

Opvallend was ook dat alle werk, ook die tipiese laagbetaalde werke soos kelners en skoonmakers, wat elders gewoonlik deur mense uit armer lande verrig word, deur Kroate verrig is. Met Engels kon ʼn mens ook op meeste plekke regkom.

Kroasië se geskiedenis is ten nouste verweef met Italië. Dit was, onder die naam Illirië, deel van die Romeinse Ryk en ruïnes is bykans ewe volop as in Italië self. In die Middeleeue was dit deel van die Oos-Romeinse, oftewel Bisantynse, Ryk en het dit die verwoesting wat die westelike helfte moes ervaar vrygespring. Venesië, wat aan die anderkant van die Adriatiese See geleë is, het verskeie stede in Kroasië oorgeneem in ruil vir beskerming teen Moslem-aanvalle en as vestings en handelsposte uitgebou en deel van sy handelsryk in die oostelike Middellandse See gemaak.

In die dorpie Nin (Foto: Verskaf)

Sommer stapafstand van ons vakansieoord af is die dorp Nin, en alhoewel daar net effens meer as 2 000 inwoners is, is dit geskiedkundig beduidend. Reeds in die oertyd, 900 voor Christus, was hier ʼn nedersetting. Die ou stad is ook (destyds strategies, vandag skilderagtig) op ʼn ronde eiland in die middel van ʼn strandmeer geleë. Die oorblyfsels van ʼn eens groot romeinse tempel en villa is te sien. Ook kerke uit die 9de eeu na Christus, wat weens die aanvalle deur barbare soos klein kastele lyk, is hier. Op ʼn tyd was Nin selfs die plek waar die Kroatiese konings gekroon is, voor die stad, soos talle in die streek Dalmasië deur Venesië verower is.

Split is een van die hoogtepunte van Kroasië en met goeie redes: dié hawestad met sy skilderagtige ou stad was op ʼn stadium een van die hoofstede van die Romeinse Ryk in sy latere fase, toe die keiser Diokletianus besluit het om die Romeinse Ryk weens sy enorme grootte in vier deelstate, met medekeisers aan die hoof, op te deel wat makliker bestuur en verdedig kon word. Hy self het Split as sy hoofsetel gekies omdat hy uit die omgewing afkomstig was, en het vir hom ʼn enorme paleis langs die see gebou.

In die hawestad Split (Foto:P Verskaf)

Dit was so groot dat die hele ou stad van Split vandag binne die mure van die paleis inpas. Die eertydse binnehof van die paleis is byvoorbeeld nou die hoofplein met die katedraal, en die paleismure en -poorte is tegelykertyd die stadsmure en –poorte. Dele van die gewilde televisiereeks, Game of Thrones, is ook in Split verfilm en dit word natuurlik ook deur die toeristebesigheid aan die groot klok gehang.

Ook Zadar is iets besonders, met ʼn geslote ommuurde ou stad wat op ʼn skiereiland geleë is, vol kerke, oorblyfsels van Romeinse geboue, nou straatjies en pleine. Ook hier is die tekens van Venesië se teenwoordigheid, die Markusleeu, teen die stadspoorte en fortifikasies sigbaar.

Olyfboord op die eiland Pag (Foto: Verskaf)

Merkwaardig is ook die talle eilande voor die kus, wat almal lank en smal is. Op Pag-eiland, heel op die punt in die noorde, is ʼn olyfboord met bome wat eeue oud is en tussen klipmurasies staan. Hier voel jy waarlik soos in die Bybelse tyd. In die suidelike deel lyk die landskap weer soos ʼn woestyn en laat dit jou nogal aan die sentrale Karoo dink. Ook ongerepte hawedorpies, waar toerisme nog min is en jy nog onbelemmerd op die strand kan stap en skulpies optel, vind jy hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmarie ·

Baie interesante berig dankie. Ek sal graag die eiland Vis wil besoek in Kroatië

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.