Luukse wegbreek ook werkskepping en ontwikkeling

Die standbeeld van Inkhosi MZ Mdluli, wat jou met ʼn uitgestrekte hand by Mdluli Lodge verwelkom. (Foto: Clifford Roberts)

Mdluli Safari Lodge in die suidelike Krugerwildtuin, is nie net ʼn luukse wegbreek nie, maar ook die visie van Inkhosi MZ Mdluli om te sien dat die Mdluli-gemeenskap baat vind deur werk, onderwys en gemeenskaplike ontwikkeling skryf Maryke Roberts.

Na ʼn lang reis van grondhervorming, het die Mdluli-gemeenskap ʼn vrye titel van 850 ha grond binne die grense van die Nasionale Krugerwildtuin gekry. Hierdie luukse privaat safari-lodge is ontwikkel vir die volhoubare opheffing van die 45 000 Mdluli-gemeenskap wat in dorpies aangrensend aan die park woon.

Die hoofman is oorlede voor die lodge oopgemaak het, maar sy seun, Inkhosi MI Mdluli, het in sy pa se voetspore gevolg.

Die lodge met sy 50 luukse tente, is die naaste luukse lodge in die park aan Johannesburg en Pretoria en lê by die Numbi-hek. Net voor dié hek is daar ʼn klein geboutjie met die woorde: “Very hot fish and chips, no pork” onderaan as nagedagte en ʼn tekening van vlammetjies. Ek wonder wat die storie agter die woorde en tekening is en hoe dit oorsese toeriste moet laat gis.

Ons is nog nie eens halfpad na die kamp se hek nie, toe ons ʼn wildkykvoertuig gewaar. Instinktief ry ons stadiger en verwag om te soek vir iets in die lang gras toe die luiperdwyfie skuins agter die voertuig uitstap. Ons bossafari het begin, ʼn paar kilometer vóór Mdluli se hek!

Sawubona!” groet die personeel ons met die stop-slag. Die stof trek om ons voertuig se bande en my litte is styf gesit uit die Goudstad. Ons wou nie onderweg stop nie, want die bos het na bykans drie jaar se afwesigheid hard geroep!

Ons luukse tent wat knus onder bome skuil. (Foto: Clifford Roberts)

Dit het jare se toewyding geverg vir die verwesenliking van dié projek, waar ʼn harmonieuse verhouding tussen toerisme, omgewing en gemeenskap en hul privaatsektor-vennote wat deur MDM Fonds 1 ondersteun is, gevestig moes word. “Mdluli Safari Lodge is die ideale bloudruk vir gemeenskapsontwikkelingsprojekte in Suid-Afrika”, vertel Chris Schalkwyk, uitvoerende bestuurder, ons toe sy saamstap tot voor die standbeeld van Inkhosi MZ Mdluli, wat jou met ʼn uitgestrekte hand verwelkom.

Gaste ontspan by die reuseswembad se ontwerp wat lyk of dit rantloos in die bosse verdwyn en ek voel hoe die blou waters my roep.

Elkeen van die pasgemaakte tente op stelte het en suite-badkamers en bied gemaklik slaapplek vir ʼn gesin van vier. Seil, hout en natuurlike materiale gee elke tent ʼn ware safari-gevoel. Die kleurkeuses bied amper ʼn verlengstuk van die veld en oral is ʼn klein tikke outentieke sjarme van die Siswati-tradisie.

Gou is ons in ons baaibroeke en lê en sluimer met drankies langs die water, nadat die lang-sit en hitte van die rit uit ons litte uitgespoel is.

Hoekom is dit so dat wanneer ʼn hek van ʼn nasionale park agter jou motor toegaan, die frekwensie in jou brein verander? Stres, kommer en hartseer vlieg by die venster uit.

ʼn Vinnige uur of twee in die park, voor die hekke sluit, beloon ons met heelwat wild: ʼn Alleenloper-buffel ruk ʼn hele klein doringboompie uit die grond. Ek is nie seker of hy vroegoggend met die verkeerde poot uit die modderpoel opgestaan het, tandpyn het, of net iesegrimmig is nie. Die boompie is gou-gou verslind en die volgende teiken word gesoek.

Van iesegrimmig gepraat, twee stoptekens en een spoedteken lê in die middel van die grondpad en langsaan lê olifantmis. Vatso! Dis nie moeilik om te bepaal wie se werk dié was nie.

ʼn Koedoebul staan amper onsigbaar teen droë takke en ʼn reuse grys rots. Ons stop en staar na die pragdier. ʼn Voertuig met vier mans stop en vra wat ons sien. Ons sê: “Sjoe, daardie mooi bul.” Dit kom wysneusig van een van die mans: “Jou vrou het dit seker raakgesien.” Almal lag so effe ten koste van my geliefde, maar dié is net so spitsvondig en sê. “Gmff, julle het seker gewonder hoekom julle niks sien nie…” Einde van die gesprek en hulle trek té vinnig weg.

Ons ervare veldgids, Israel, het ons ʼn ware boservaring gegee. (Foto: Clifford Roberts)

Net voor ons uit die park moet uit, kom ʼn familie dwergmuishonde voor teen die pad speel en rol dat hul donkergrys pelsies vol stokkies en stof is. Die voertuig se enjin word afgesluit, die ruite heel afgedraai en die uitgelatenheid van dié klein diertjies vermurwe die hart. Die tyd staan stil en geen ander voertuie kom verby nie. Ons kan net in die oomblik wees − vir amper ʼn halfuur lank!

Saans word aandetes onder die sterre in die boma geniet en knetter die vuurtjies heel gesellig tussen die gaste. Aan hoe vroeg of laat die mense kuier, kan jy bepaal of hulle die volgende dag begeleide wildritte vir sonop of voldag bespreek het. ʼn Mens het stamina (en slaap) nodig!

Die lodge bied ook bosstappe en Mdluli-Amani-spa-behandelings word in die gerief van jou tent gedoen! Daarna kan jy onder die bome in die buitestort afspoel, voor jy in die swaaistoel op die houtstoep swaai. Die groot stoepe bied uitsigte oor die park en dit sidder en beef van die voëls.

Namiddae is ons in die koel waters van die swembad om die dag se hitte en lang sit af te spoel. (Foto: Clifford Roberts)

Ons kry gou ʼn ritme van heeldag wildkyk, so uur of twee voor sononder duik ons in die swembad en knip dan uiltjies onder die plafonwaaier, voor ons sonsaksopies voor ete gaan drink. Tussen die geboue in die kamp kan jy stap of met ʼn gholfkarretjie vervoer word. Ons bespreek een wildrit en die res van die tyd pak ons kougoed en ry heeldag op ons eie deur die park.

“Mdluli Safari Lodge is ʼn volhoubare toerisme-inisiatief wat op vier kernpilare − ʼn vennootskap met die Mdluli-gemeenskap, wild- en natuurbewaring, ekologiese ontwerp, en die stories wat gaste saam met hulle sal dra − gebou is”, vertel Chris Schalkwyk, uitvoerende bestuurder, ons. Deel van dié stories, ervaar ons met ons enigste bespreekte wildrit saam met Israel, ons ervare veldgids.

Dis laatmiddag toe ons saam met vier ander mense op die voertuig sit. “Moenie vra vir leeus en luiperds nie. Vra impala, want ek weet waar hulle is. Leeus is onvoorspelbaar…”

Ons het deur die jare skepties geraak oor wildritte. Daar is verskeie redes. Of kinders praat onophoudelik hard, rits op en af op die banke of vra soveel vrae − nie oor die wildrit nie, maar eerder oor die tannie voor hulle se hare of klere of aksent − dat g’n mens die gids kan hoor nie. Of die gids is verveeld, moeg of onbevoeg en vertel nie net halwe waarhede nie, maar begin ook menslike eienskappe aan diere toeskryf. Ja, ek weet dis moeilik om te glo maar ons het al deur verduidelikings gesit waar volstruismannetjies “regmaak vir die troue met sy sielsmaat en sy swart manelpak aantrek…” of wanneer “Papa Pumba vooruit draf en baba Pumbas agternakom speelskooltjie toe…”

Tot jy op ʼn voertuig met Israel beland. Ek voel soos Gouelokkies: die pap is nie te warm nie; nie te koud nie, dis net reg. Hy weet wanneer om ʼn grap te maak, maar ook wanneer om ʼn feit of drie in te glip as hy die enjin midde-in die rit afsluit en ons in verwondering na iets staar.

Israel het na die presidensiële olifanttrop in Zimbabwe omgesien, voor hy by Mdluli aangesluit het.

Saans kuier ons in die boma om die vuur. (Foto: Clifford Roberts)

Hy vertel: “Olifante het ʼn hele gros voëls agter hulle, omdat hulle die gras versteur en insekte opskop en dit dan lekker etes sonder moeite is. Die mikstertbyevanger is slim en sal selfs vals geluide maak wat ander diere naboots, om groot diere aan die beweeg te kry vir dié insektefeeste.”

Ons stop vir drankies bo-op ʼn reuse-granietrots, eet biltong, gesels land en sand met mense wat ʼn uur of wat tevore vreemdelinge met snaakse aksente was. Israel antwoord hier en daar ʼn vraag, maar andersins gesels ons. Covid het ons uitgehonger.

Israel kom staan nader: “Julle maak my hart baie bly. Julle ken mekaar nie, maar is so heg soos ʼn gesin terwyl ons hier in die bos kuier. Dis mooi om te sien. Ons los die haatspraak en verdeling vir die politici. Ons mense wil net almal klaarkom met mekaar en ʼn goeie lewe hê.”

Ons stap in stilte terug en skrop onder komberse nes vir die laaste deel van die nagrit.

Vroegaand op ʼn wildkykvoertuig met die gerusstellende diesel-dreun, wanneer die donkerte jou stadig omvou en net ʼn skerp ligstraal wat oor die bosse skiet op soek na diere, is kosbaar. Veral met Israel se woorde nog vars in jou geheue.

Skielik vul ʼn soort kruieagtigheid jou neusvleuels en om die volgende draai, stap ʼn reuse olifantbul doodluiters in die stofpad, glad nie gepla met die agtergeblewe vars bolle waaruit die stoom nog trek nie.

Ek laat hang my arms by die voertuig uit en kyk op na die eerste sterre. Later maak ek my oë toe en luister na die stilte van die veld, die gedempte stemme van die ander op die voertuig, almal in afwagting om iets te sien. ʼn Nagrit en oggendrit verskil, wel, soos nag en dag. Die stilte is anders: Nagte ruik soos sterre, aandwind en bossies. Vroegoggend ruik soos eerste sonstrale, beloftes en opgehoue asems oor wat wag. Kort voor ons moet terugkeer na die lodge toe, halt Israel.

My oë sukkel aanvanklik om te fokus op die beweging in die pad, maar Israel se flitslig bring redding: twee hiëna welpies volg die lig en vreet insekte wat bo die warm pad in die ligstraal sweef. Die welpies is skaars groter as huishonde en speel asof daar geen môre is om oor te bekommer nie.

En vir daardie kosbare paar minute voel ek ook so.

Na ete sit ons met halfglase Kaapse rooiwyn op ons stoep. Die lewe daar voel jare weg. Die sterre maak malse patrone teen die gitswart nag. Iewers brul ʼn leeu, ʼn olifant trompetter.

Ek is dankbaar om aan die regte kant van die elektriese heining te sit!

Dis twee ander mense wat drie oggende later die personeel groet. Op pad hek toe, vou ʼn reuse-olifant sy slurp op soos ʼn gewrig en vryf sy oog. “Slapiestyd” kom dit deernisvol van my geliefde.

Nee wat, dis net die vredigheid van die bos wat selfs die diere loom maak, dink ek stilweg.

Die oulike monumente laat jou tog by die ruskampe uitklim en lees. (Foto: Clifford Roberts)

Kitsfeite:

  • Mdluli Safari Lodge is ʼn rapsie minder as vyf ure van Johannesburg en net meer as 4,5 ure van Pretoria.
  • Toegangsgeld na die Nasionale Krugerwildtuin is nie ingesluit by jou verblyfkoste nie. Oorweeg ʼn SanParke Wild Card as jy lank gaan kuier, want dit maak ʼn groot verskil aan daaglikse toegangsgelde.
  • Bespreek jou verblyf, wat alle etes insluit, by Mdluli Lodge by 087 057 1270, [email protected] of besoek www.mdlulisafarilodge.co.za

As jy water of iets te kou by een van die ruskampe gaan koop, is dit darem maar lekker om te weet daar is baie diere wat vorentoe langs die pad wag. (Foto: Clifford Roberts)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Ja ja , dis pragtige reklame praatjies hierdie , maar daars bitter min wild in daardie hele gebied. Dis maklik om treffende fotos te gaan neem by Laer Sabie , Orpen , Satara en dit dan te plaas as kwansuis geneem by die Pretoriuskop/ Mdluli area. Baie mense val daarvoor. Dis fop nuus.Ons het al heelwat daar rondgery sonder sukses , net daar gewoon weens die goedkoop hut pryse in Pretoriuskop , naby Mduli. Dan is jy gelukkig om ‘n Buffel of Koedoe , laat staan nog roofdiere , daar iewers te sien, en dit laat mens wonder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.