Maassluis hoort op jou kluitklaplysie

Biercafé Oporto (Foto: Dalene de Vente)

Maassluis laat my dink aan die Moot in Pretoria. Die inwoners weet waar in die dorp hulle oupas as kinders gespeel het of in watter huis hul vriende grootgeword het. As jy supermark toe gaan, is daar altyd ʼn nefie of ʼn onderwyser óf ʼn skoolmaat wat jy raakloop.

Ek kuier die naweek by Harald en Tineke, ʼn Nederlandse egpaar wat albei in Maassluis grootgeword het.

“Kom jy vanaand saam met ons kuier in Oporto?” vra hulle my.

Dit neem my ’n rukkie om te verstaan dat as Maassluis se mense praat van Oporto, bedoel hulle nie die stad in Portugal nie. Hulle praat van Biercafé Oporto – ’n gesellige kuierplek by die hawe.

Laatmiddag op ’n Saterdag is dit dié plek om te wees. Ek sit in ’n kring van mense, en soms praat hulle oor my asof ek iets vreemds is. Ek is die meisie uit Afrika en een van die mans vra my of ons olifante by die huis het. ʼn Vrou kry stry met een van haar neefs oor die bestanddele van spesifieke resep, voordat sy opstaan en doodluiters in die restaurant langsaan verder kuier. Elke nou en dan sit iemand ’n nuwe drankie voor my neer en as daar ’n bekende verbystap, skreeu die Nederlanders uit die kafee: “Hey, kom maak ’n draai!”

ʼn Ou Posbus in die dorp (Foto: Dalene de Vente)

Sondagmiddag gaan eet ek by ’n ander gesin op die dorp en loop ek saam met een van hulle deur Maassluis. Hulle gaan wys my waar die Waterweg is: ʼn lang voetpad, parallel met die hawe, en dis die een en al geselligheid. Fietsers. Rolskaatsers. Kinders. Ek sien die sentrum van die stad, waar Harald eens in ʼn bakkery gewerk het en Tineke se ma ’n klerewinkel gehad het. Ek hoor stories van die impak wat die oorlog op die stad gehad het en as mens die ouer mense vra, sal sommige van hulle nog die nag onthou toe ʼn bom die kerk amper verwoes het.

Vanaf Maassluis neem ek daguitstappies na Delft – ʼn lieflike dorpie met ʼn soet geur wat in die strate hang. In Rotterdam eet ek haring, ʼn Nederlandse vis wat glibberig en swaar in my keel afgly.

My laaste aand in die dorp loer ek by my kamervenster uit. Dit is oop en groot sonder diefwering. Ek kyk na die stadsliggies, hoor die seemeeue en geniet die bote wat rustig verbyvaar. Ongemerk kruip Maassluis in jou hart. Miskien is dit die opregtheid van hierdie plek: dit wat jy sien is dit wat jy kry. Geen aangeplaktheid om toeriste te beïndruk nie. Net mense wat al vir generasies lank die hawedorp hul tuiste noem.

Ek sal ook hier kan woon. Maandagoggende sal ek voor werk op die Waterweg gaan stap. Vrydagmiddae sal ek roomys gaan koop by die winkeltjie wat eens aan Jode behoort het en Saterdagaande sal ek saam met die res van die dorp ‘n biertjie gaan drink by Oporto.

ʼn Naweek in hierdie Nederlandse dorp het een van die hoogtepunte in my reisherinneringe geword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Liza Roux

Mooi geskryf. Ek verskil net met jou oor die haring! Haring is heerlik!!!