New Orleans skop goed nes in jou hart

Daar is verskeie maatskappye wat waaierboot-avonture bied en die bote verskil in grootte, maar ons het ʼn kleiner boot bespreek. (Foto: Maryke Roberts)

Twee rolprente het ʼn vonkie in my hart afgevuur om die strate van New Orleans en sy omliggende moerasse te gaan ontdek: die een het die begeerte laat ontwaak; die ander het my laat terugverlang – 30 jaar uitmekaar. In albei was die effens benoudheid van die filmteater en die reuk van ou meubels en stof, deel van die nostalgie.

Dit was tydens my studies as joernalistiekstudent wat ek Angel Heart in die ou Transvalia-kunsfilmsentrum in Pretoria gaan kyk het. Die omgewingstonele van New Orleans, die donker storielyn, voedoe en onheil, het my natuurlik vir dae lank vrekbang gelaat, maar die kinematografie het vasgesteek. Ek wou ook bo-op die water gly in een van daardie bote met die reuse-waaiers agter en my verbeel die “gators” jaag ons. Ek wou esse gooi en die wêreld uitdoof met die oorverdowende klanke van die waaier terwyl die bome, met hul enkels in die water en die silwergrys mos wat spookagtig aan hul takke hang soos reuse oumansbaarde, by ons verbyflits.

Vir iemand wat in Upington grootgeword het, het sulke moerasse, geheime draaie in die riviere en boomryke omgewings met baie reënstorms half onwerklik gelyk.

Aan kroegies, koffieplekke en restaurante is daar geen tekort nie en ʼn mens kan jou verkyk aan die mense en jou oorgee aan die straatmusiek. (Foto: Maryke Roberts)

Die tweede fliek, Where the Crawdads Sing, is in en om New Orleans en Houma verfilm, al speel die boek waarop die film geskoei is, in Noord-Carolina af. Dié keer sit ek in die Labia in Kaapstad, enkele maande nadat maskers en handreiniger afgelê is. Dieselfde reuk as 30 jaar gelede omgewe my; dieselfde melankolie vir iets onderaards boos en donker wat die jong karakter volg. Hierdie keer is dit nie voedoe nie, maar rassisme, klassisme en die euwels van ʼn patriargale stelsel. Maar die landskap is ewe meesleurend.

Van daardie donkerkant van die lewe was daar egter geen teken met ons kuier nie: Presies die teenoorgestelde, want mense is gul en almal is welkom – of só voel dit. Die locals noem die stad NOLA (na New Orleans, Louisiana) of N’Awlins en as hulle die naam uitspreek, is daardie onmiskenbare Southern twang, op hul tonge.

My besoek aan New Orleans en sy waterdeurdrenkte omstreke, was een van my reishoogtepunte. Ons het die Mardi Gras gemis, maar die stad buite seisoen ervaar en elke klein straatjie verken; ure in begraafplase deurgebring waar van die wêreld se grootste geeste soos jazz-legende Sidney Bechet, Tennessee Williams, Anne Rice en historiese figure soos die skeepsrower Jean Lafitte (The Terror of the Gulf) en die voedoe-praktisyn en kruiedokter, Marie Laveau, begrawe lê.

Elke dag deurkruis ons vir Jackson Square, voorheen die Place d’Armes (Frans) of Plaza de Armas (Spaans) afhangend van watter land aan bewind van dié stuk aarde was. Dis die hartjie van die ou stad of die Franse kwartier, wat in 1960 tot ʼn nasionale historiese landmerk verklaar is. Dis die deurgang na al die lekkertes by die rivier of in die jazz-klubs in klein straatjies.

As jy daar voor die beeldhouer, Clark Mills, se ruiterstandbeeld van Andrew Jackson staan en jou oë toemaak, kan jy jou verbeel jy hoor die perdehoewe klap en die skermutselinge om jou aan jou lyf voel.

Die hele gedoente met voedoe en Mardi Gras en spoke en geraamtes, kry natuurlik oral ʼn plekkie om te skitter. (Foto: Maryke Roberts)

Die park is vernoem na Andrew Jackson – held van die Slag van New Orleans en sewende Amerikaanse president na wie dié voormalige militêre paradeterrein vernoem is. Dis in 1856 opgerig en is ʼn herverwerking van die Washington DC-standbeeld.

Die park is glo die terrein waar Louisiana in 1803 ʼn Amerikaanse grondgebied gemaak is, ingevolge die Louisiana-aankoop. Jackson Square is ontwerp volgens die beroemde 17de-eeuse Place des Vosges in Parys, Frankryk, deur die argitek en landskapargitek Louis H Pilié, hoor ek by een van die vele gidse wat groepies toeriste rondlei en gesels in ʼn winkeltjie naby die park, waar ek egte vanielje wat in Bourbon-vate in New Orleans verouder word, proe. Dis glo ene sjef Reginald wat die vanieljestroop maak en vernoem na die Meksikaanse Melipone-by wat die vanielje-orgidee bestuif, maar die vanielje kom uit Madagaskar. Die amper stroperige vanielje-ekstrak maak enige koffie, melk of roomys absolute kulinêre sonde!

Ons gaan ʼn hele paar keer terug Bourbon Street toe vir Bourbon en jazz of blues. Valiant Swart het een maal in ʼn onderhoud vertel nadat hy van NOLA af teruggekeer het vir sy 40 dae in die Delta-televisiereeks, dat die stad – Louis Armstrong se “stad van ʼn miljoen drome” – benewens die jazz en voedoe en Mardi Gras en Gumbo en Cajun-speserye en -geregte, die stad is met “ongoddelike mooi musiek”.

Daardie musiek kom haal jou laataand van die straat af; lok jou in by plekke soos House of Blues, The Spotted Cat Music Club, Old Absinthe House en Prohibition. Jy sit vir ure in die hoekies van dié donker kroegies en verloor jou in die meesleurende musiek, wat ouer musikante se streelsagte stemme en flinke vingers uit saksofone, trompette en trombone optower.

En dit bring my by daardie esse gooi op die moerasse in waaierbote, want die treurende bome soos een gids hulle genoem het, bly spook by my. Daar is verskeie maatskappye wat waaierboot-avonture bied, maar ons het raad gevra by die toerismeburo oor die mees bekostigbare en betroubaarste opsies. Ek wil nie ʼn poskaart huis toe moet stuur om te sê een van ons is op die Mississippirivier deur ʼn alligator opgevreet nie!

Jy kan nie anders as om by klein winkeltjies in te stap vir nog ʼn Nachos-happie met Slap Ya Mama-Cajun-speserye of brandrissiesouse op nie. (Foto: Maryke Roberts)

Die Mississippi – die tweede grootste rivier op die Noord-Amerikaanse kontinent – kronkel oor 3 734 km van die Itascameer in die noorde, tot by die Golf van Meksiko in die suide.

Die meeste van die bote vertrek van Lafitte, sowat 45 minute buite New Orleans. Ons het op ʼn klein bootjie bespreek en saam met ons kaptein, Steve, is ons ses aan boord. Elke bootjie se passasiers is gereed toe die bestuurder kom verduidelik dat gidse, soos meeste Louisiana seuns, ʼn groot liefde en respek vir die natuur het en van ʼn jong ouderdom begin jag en visvang en self al verskeie alligators bokveld toe gestuur het. “Al ons gidse is gesertifiseerde kapteins, wat by die VSA-kuswag geregistreer is.”

Ons hoor dat die rit aanvanklik stadiger in die beboude rivier-gedeelte sal wees, voor ons by die groot oop waters van die Mississippirivier, al langs die Jean Lafitte Nasionale Historiese Park en Reservaat, sal kom. Enkele dae tevore het ons by Lafitte se graf in Louisiana gestaan.

Toe ons die beboude rivieroewer agterlaat, is dit tyd vir die heldergeel oorfone om ons teen die enjinwaaier se gedreun te beskerm en die kaptein trap die pedaal diep in. Ons maak diep gleuwe in die water en my oë traan van die wind. Die waaierbote wat geen skroefas het wat in die water moet afsak nie, is ideaal vir vlak water met baie plante en boomwortels.

Net voor die adrenalien ons heeltemal wou lamlê, swenk ons in een van die klein waterpaadjies in. Ons bevind ons in die hartjie van die bayou – ʼn Frans-Cajun woordverbuiging wat vermoedelik “klein stroompie” beteken. Nie veel diere oorleef in die sensitiewe ekostelsels van die bayou nie, maar alligators, reiers, waterskilpaaie en ander voëls is dolgelukkig hier.

As jy daar voor die beeldhouer, Clark Mills, se ruiterstandbeeld van Andrew Jackson op Jackson Square staan en jou oë toemaak, kan jy jou verbeel jy hoor die perdehoewe klap en die skermutselinge om jou aan jou lyf voel. (Foto: Maryke Roberts)

Ons gly oor die water, kyk hoe reiers wag om ʼn klein vissie of paddatjie met hul skerp bekke vas te pen, en hoe waterskilpaaie in die sonnetjie lê en bak. Ek vra ons kaptein hoekom hy praat van Spaanse mos – die oumansbaarde wat aan die bome hang en daardie spookagtigheid verleen.

Die Franse het glo gesê die mosagtige plante herinner hulle aan die Spanjaardse seevaarders se lang, grys baarde en het dit toe Spaanse baard begin noem, wat later Spaanse mos geword het.

Ons hoor dat die alligators koudbloedig is en in die winter hiberneer en dus minder sigbaar is. Sy woorde was skaars koud, toe ons om ʼn draai gaan en ʼn paar grootmenere op die rivieroewer sien lê. Steve laat rol die woord “gaterrr” met ekstra twang van sy tong af. Die gediertes kan tot 4,5 m lank word, 250 kg weeg en tot 30 jaar oud word.

Natuurlik is die verskil tussen alligators en krokodille, die volgende vraag van ons groep. “Alligators het wyer, U-vormige snoete wat heelwat wyer as krokodille se meer gepunte V-vormige bekke is,” laat hoor ons kaptein. Hy verduidelik dat een vars water verkies, die ander effe brakwater, maar ek gee my oor aan die reuk en geluide in die waterpaadjies wat al nouer word, hoe dieper ons tussen die ruie bome invaar en die sonlig bykans heeltemal uitsluit.

Die water onder ons is pikdonker en die ligte windjie roer die Spaanse mos in die moeras sipresse en ek voel hoe my nekhare orent staan – net soos destyds in die fliekteater met Angel Heart.

Die pragtige Spaanse mos wat soos reuse-oumansbaarde op die bome groei, waai liggies in die wind. (Foto: Maryke Roberts)

Die dankbaarheid dat ek hierdie ervaring kan meemaak, kom sit vredig in my skoot.

Ons gly gou hierna teen 90 km per uur bo-op die water en te gou is ons twee uur rit verby en druk ons deur die kurioswinkel waar mense gedroogde, blink gepoetste alligator-koppe koop en mekaar daarmee rondjaag of skrikmaak.

Daardie “ongoddelike mooi” musiek waarvan Valiant Swart praat, is oral. (Foto: Maryke Roberts)

Op pad terug Louisiana toe, soek my man Pussycat se “Mississippi” op sy slimfoon se musiek-app en ons draai die ruite af en sing luidkeels saam:

Mississippi,

I’ll remember you

Whenever I should go away

I’ll be longing for the day

That I will be in Greenville again

Mississippi

You’ll be on my mind

Every time I hear this song

Mississippi roll along

Until the end of time

Every time I hear this song

Mississippi roll along

Until the end of time…”

Gaan verken ook:

  • Die Garden District Bookstore in die tuindistrik. Hierdie is die rykmansbuurt en die Kreoolse-, Plantasie- en Franse argitektuur waarlik iets besonders. Jy kan jou verbeel jy stap op ʼn filmstel van ʼn periodedrama rond. Die boekwinkel is oorkant die historiese Lafayette-begraafplaas.
  • Café Du Monde teen die rivier. Die oorspronklike koffiewinkel dateer uit 1862 en is 24 uur per dag oop. Die spyskaart is eenvoudig: koffie met te veel sigorei, met of sonder melk en beignets – Franse styl oliebolle wat baie oordadig met strooisuiker besprinkel is. Die koffie is nie waffers nie en die oliebolle sal jou in diabetes inskop, maar dis tradisie. Gee jou oor aan die klanke van straatmusikante wat jou ore van die sypaadjie streel en die fluite van die stoombote wat op die Mississippi verbyvaar.
  • ʼn Rit op een van die stoombote, soos ʼn ware Huckleyberry Finn en Tom Sawyer van ouds, is ʼn moet. Ons het die Natchez meegemaak met ʼn lewendige jazz orkes, die Dukes of Dixieland, wat die gedreun van die reuse-enjins wat die water maal, verdoof het.
  • Moenie die kans – en daar is vele – misloop om kort-kort by ʼn winkeltjie in te glip vir nog ʼn Nachos-happie met Slap Ya Mama-Cajun-speserye of brandrissiesouse op, voor jy verder gaan verken nie. Soek ook klein straatkafees waar jy Gumbo kan eet. Dis die amptelike eetding in Louisiana en basies ʼn sop of bredie met vleis of skulpvis, en die Kreoolse kenmerkende mengsel van seldery, rooi- en geelpeper en uie. Dit kom óf met rys óf met brood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.