Paardekraal: ’n Plek van onthou en opbou

Die monument by Paardekraal. Foto: Petronel Fourie.

Krugersdorp huisves ʼn merkwaardige monument wat al in talle se geheue vervaag het. Die Paardekraal-monument, waar die Eerste Vryheidsoorlog sy begin gehad het, hou nog trots en fier wag oor dié Wesrandse dorp, 130 jaar nadat dit opgerig is.

Meer nog is ʼn museum ook op die terrein in wording om die geskiedenis van dié oorlog en die gebeure daarrondom te bewaar en ten toon te stel, voordat dit dalk in die donker newels van die verlede verdwyn.

Op die oorlogspad vanaf Paardekraal

Brittanje, onder aanvoering van Sir Shepstone, het die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) op 12 April 1877 geannekseer, sonder dat ‘n enkele skoot geskiet is. Die anneksasie was ‘n direkte gevolg van die ontdekking van goud in die ZAR – goud wat Brittanje vir hulself wou toeëien. Die gebeure word gevolg deur ‘n periode van passiewe verset deur die burgers van die ZAR en verskeie afvaardigings is na Brittanje gestuur. Maar alle vreedsame inisiatiewe om vryheid te herstel, het misluk.

Daarom is ʼn groot volksvergadering van om en by 6 000 bekommerde burgers op M.W. Pretorius se plaas, Paardekraal, in Desember 1880 gehou. Iets daadwerkliks moes gedoen word.

Hoewel kolonel Owen Lanyon (of Lang-Jan) ‘n proklamasie uitgevaardig het wat die volksvergadering verbied het, het die Boere daarmee voortgestoom en die vergadering sommer met ʼn maand vervroeg, sodat dit in Desember eerder as Januarie 1881 plaasgevind het.

Ds. N.J. van Warmelo het op Sondag 12 Desember ‘n plegtige erediens gelei, waartydens om God se bystand en hulp gevra is. Op Maandag die 13de is ‘n gelofte voor God gedoen en die Volksraad is as wettige gesag van die ZAR herstel. Op Paul Kruger se voorstel is ‘n klipstapel ook opgerig op die plek waar die monument vandag staan.

Party bronne sê dat ʼn byeenkoms by Wonderfontein op 15 Desember 1879 reeds ‘n keerpunt gebring het, aangesien die burgers hier onderling ooreengekom het tot die herstel van die Republiek se vryheid – ‘n besluit wat ‘n jaar later by Paardekraal bekragtig sou word.

Nadat die Paardekraal-gelofte afgelê is, is ‘n tydelike regering by Heidelberg

(Gauteng) onder die uitvoerende gesag van die “driemanskap” gevestig, naamlik Paul Kruger, M.W. Pretorius en Piet Joubert. Die Eerste Vryheidsoorlog het onmiddellik gevolg op 16 Desember 1880, toe kolonel Lanyon geweier het om die administrasie van Transvaal vreedsaam oor te gee. Dié oorlog is in vier veldslae, met Majuba in Februarie 1881 as hoogtepunt, in die guns van die ZAR voltrek om selfregering te herstel, terwyl onafhanklikheid later sou volg.

Van 13 tot 16 Desember 1881, het ‘n dankbare volk ‘n reusefees op die terrein gehou. Die eerste staatsfees in 1886 is ook hier gevier.

Die gedenkstene wat simbolies verwys het na die oorspronklike klipstapel, is in 2001 gebruik om ‘n netjies gedenkmuur op te rig. Foto: Petronel Fourie.

Momentum vir ʼn klipmonument

Dié gebeure, met Paardekraal as spilpunt, het ʼn groot impak op die ZAR gehad. Daarom dat Krugersdorp se landdros, J.C. Human, teen 1889 vir pres. Kruger toestemming gevra het om ʼn monument op die terrein te bou. So gesê, so gedaan, en teen November 1890 is die handewerk van argitek Wierda en boumeester Veitsch voltooi. Kruger het die monument, wat bo-oor die oorspronklike klipstapel gebou is, in Desember 1891 onthul.

Maar slegs ʼn dekade later, in 1901 tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO), is Paardekraal se rus verstoor. Die klipstapel onder die monument is in opdrag van lord Roberts verwyder en onder die treinbrug by Vereeniging in die Vaalrivier gegooi. Dié daad is gewreek toe sommige daarvan later teruggevind en behoorlik op hul regmatige lêplek vasgemessel is.

Byna ironies is ʼn klomp “klippe” weer presies ʼn 100 jaar nadat die oorspronklikes verwyder is, by die Paardekraal-monument onthul. As deel van die 100 jaar-herdenking van die ABO is daar ʼn beroep op al die geloftefeeskomitees in die land wat hulle gebonde gevoel het aan die geloftes van 1838 en 1880 gedoen om ‘n gedenksteen aan die Paardekraal Feeskommissie te oorhandig.

Hierdie gedenkstene, wat simbolies verwys het na die oorspronklike klipstapel, is in 2001 gebruik om ʼn netjiese gedenkmuur by die monument op te rig.

Die gedenkmuur is opgerig om die opkomende geslag te herinner aan die leuse: “Ons sal handhaaf, ons sal opbou”.

Ds. Johan Fourie, lid van die feeskomitee, saam met sy twee kleinseuns by die Kruger-koets. Foto: Petronel Fourie.

Hier word onthou en gevier

Vandag word Paardekraal se terrein en monument deur Martin Rossouw, laerkommandant van Paardekraal se feesterrein, onderhou, met behulp van die feeskomitee, skenkers en vrywilligers. Paardekraal is as provinsiale erfenisterrein verklaar en word vir kultuurfunksies en volksfeeste gebruik.

“Op 26 Februarie vier ons Majubadag by Paardekraal, op 6 April herdenk ons Van Riebeeck se gelofte en op 31 Mei Republiekdag. Ons herdenk ook die konsentrasiekampsterftes op 16 Junie en vier Krugerdag in Oktober en Geloftedag in Desember,” sê Rossouw.

Die inisiatief om ʼn museum op die terrein te open, is in 2019 geneem. Die spil waarom dié museum tans draai, is die Kruger-koets wat in die middel van die toonlokaal pronk. Dis ʼn identiese replika van die een wat tans by die Kruger-huis in Pretoria staan. Dié koets het eers in Krugersdorp se stadsaal gestaan, maar het daar baie verwaarloos. Daarna is dit vir byna ʼn dekade by die dorp se Ford-agentskap uitgestal, maar het in 2014 ʼn nuwe tuiste by die Paardekraal-monument gekry, nadat dit sorgvuldig herstel en opgeknap is. Rossouw vertel dat dit ʼn groot dag was toe die koets na Paardekraal getrek het.

“Tydens die Krugerdag-vieringe van 2014 het Alwyn de Klerk van die Verkennersbeweging soos Paul Kruger aangetrek en nog ʼn paar mense het in volksdrag opgedaag vir die feesvieringe. Die koets, deur perde getrek, het padlangs met verkeersbegeleiding na Paardekraal gereis, waar ʼn groep entoesiaste dit trots ingewag het. Dit is op ʼn ereplek geparkeer en staan vandag nog daar.”

Teen die museum se mure hang daar houtborde met die name van vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het, daarop gegraveer, asook foto’s van die Slag van Bloedrivier. Daar is nog heelwat Africana tans in berging wat uitgestal gaan word, maar daarvoor moet die fondswerwing en bouwerk eers afgehandel word.

Voor die museum staan die standbeeld van ʼn Boer met sy hoed voor sy bors. Dis gemaak en geskenk deur Jaco van Niekerk, ʼn beeldhouer van Hekpoort, en beeld ʼn onbekende man uit wat aan die kliplegging en gelofte by Paardekraal deelneem. Die standbeeld is tydens 2019 se Geloftefeesvieringe onthul en gaan permanent oor die museum “waghou”.

Paardekraal bly ʼn belangrike monument, en een van slegs twee (saam met Majuba) wat totaal privaat bestuur word. ʼn Goeie 2 500 mense kom jaarliks met Geloftedag hier byeen. By Paardekraal word daar gehandhaaf, opgebou en vir die komende geslag behou.

  • Belangstellendes kan vir Rossouw binne kantoorure kontak om die terrein en museum te besoek: [email protected] / 082 720 8662.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Charles ·

Baie dankie vir die artikel, dit word opreg waardeer!

Ek wil juis volgende maand my begroting so bewerk dat ek ‘n skenking kan maak aan die Majuba Trust vir die opgradering van die terrein aldaar en voortsetting van die skyngeveg. Wat Paardekraal betref is die perseel in puik kondisie en verskriklik mooi! Dis werklik wonderlik en ‘n riem onder die hart om te sien dat daar sulke mooi bewaarde erfenisstukke/monumente in ons land bestaan. Hef aan lê egter voor wat die Majuba terrein betref en die beplande opknapping daar!!

Geloftes ·

Ek wil graag weet hoeveel geloftes afgelê is sedert Jan van Riebeeck hier aangekom (hy het mos ook ‘n eed of iets afgelê?). Dit klink of geloftes vir ons voorgeslagte ‘n algemene ding was. En nou ly die nageslag daaronder omdat hulle dit nie nakom nie., of hoe? Kan Maroela so ‘n lys saamstel?

Flip ·

Geloftes, Op 6 April 1654 het Jan v Riebeeck en sy geselskap ‘n dankbaarheidsgelofte teenoor God afgelê vir Sy aandeel in hul voorspoedige reis op see en hul onverwagte voorspoedige verblyf die eerste twee jaar. Dien nageslag is daaraan verbind maar jamme nie ingelig nie.
Jy weet van die 1838 Gelofte van Bloedrivier, waarvan die korrekte weergawe jammerlik van ons as volk weerhou word. Ek sal dit bekend maak as ons dorp se Burgermeester die nodige ruimte sal skep.
Die Paardekraal Gelofte het beloof dat die burgers as volk jaarliks by Paardekraal op 16 Des byeen sal kom en die Geloftes (Bloedrivier en Paardekraal ) sal herdenk as God hul land (ZAR en OVS) aan hul terug sou gee.
God het beskik en hul het na 11 weke se oorlog die Britte die nekslag toegedien met die Slag van Majuba- aan God die Eer.
Dit is so dat ons tans onder strafgerig verkeer weens natatige gelofteonderhouding. Die oplossing vir ons as volk se probleem lê derhalwe in die nakoming van die Paardekraal gelofte.

Swanna ·

Gaan doen navorsing oor wat is ‘n obelisk en wat stel dit voor dan sal julle bleek gesigte daardie ding wat punt in die wind staan afbreuk en tot poeier maal soos Moses gemaak het met die goue kalf wat Isreal aanbid.

Nettie ·

@Swanna: ‘n Obelisk is ‘n reghoekige steen pilaar met ‘n afgewerkte bopunt wat ‘n skerp bopunt vorm, geset op ‘n basis en gewoonlik opgerig om ‘n spesifieke gebeurtenis te herdenk of eer aan die gode te bring. Nou, die eerste gedeelte het jy sekerlik nie ‘n probleem mee nie; dit moet met die tweede gedeelte (dat ‘n obelisk eer aan die gode bring) wees dat jy ‘n probleem het.

Kom ek sê jou net een ding – die mense wat daardie monument tot stand gebring het (oud-pres. Kruger) was sekerlik van die grootste, tradisioneelste, standvastigste Christen-gelowiges wat jy kan vind. Oud-pres. Kruger was ‘n Dopper, so terloops. Moenie altyd alles aan die Bybel onderwerp nie. Sien hierdie artikel en die monument in die lig waarin dit bedoel is – om ‘n geskiedkundige geleentheid te herdenk en een van die min plekke en goed wat die ware blanke Afrikaner verbind met ‘n eeue-oue tradisie en ons gemeenskaplike herkoms.

Geronimo ·

Baie dankie vir die artikel – Krugersdorp is my geboortedorp en die Paardekraal monument vorm deel van ons volk se geskiedenis. Toegang na feeste en herdenkings is vrywillig – niemand was nog ooit gedwing om deel te neem nie. Die nydige kommentare van sommige lesers is werkilk swak smaak

Flip ·

Meneer die Burgermeester Dankie vir jul artikel oor Paardekraal. Ons Geloftes speel ‘n deurslaggewende rol in ons bestaan en voortbestaan. Ek kan u voorsien van die outentieke Gelofte van Bloedrivier soos gepubliseer in De Zuid -Afrikaan 14 Juny (sic) 1839, asook die Van Riebeeck Gelofte en die Paardekraal Gelofte. U speel ‘n uiters belangrike rol in ons as volk se voortbestaannmet artikels soos hierdie. Doen asb so voort.
Vrede

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.