Philadelphia − twee sekondes lank, veertig jaar diep

‘n Mooi straatjie in Philadelphia. (Foto: Dalene de Vente)

Ek ontdek Adderleyweg toevallig. Nee, dit is nie die hoofstraat in Kaapstad nie… Die een oggend ry ek nog in Durbanville en skielik, asof iemand die deur oopmaak na ʼn ander wêreld, is daar net plase, berge, wingerde, skape en koeie rondom my. Dit is Adderleyweg. Nou ry ek gereeld die pad op ʼn Sondagmiddag as ek net ʼn bietjie wil dink. Langs die pad stop ek êrens en drink die stilte in, neem ʼn paar foto’s en draai weer om terug stad toe.

Maar dalk is dit die lekkerste om die pad te ry as jy op pad is êrens heen. Want die oomblik as jy die plase sien, wéét jy jou reis het sopas begin.

Vroeg Saterdagoggend ry ons Philadelphia toe. Eers Adderleyweg, dan draai jy links op Philadelphiaweg. Waar jy kyk is daar net plase. Só kruip Philadelphia weg en as jy nie stadig ry nie, ry jy dalk verby.

My oom woon al jare in die Kaap en boonop is hy ʼn toergids. “Gaan Philadelphia toe op ʼn Saterdagoggend. Maak seker jy koop ʼn pastei by die kafee daar. Dis baie lekker.”

Saterdagoggende gebeur die dinge in die dorpie. Toe ons daar inry staan daar hoeka ʼn klompie oumense in ʼn kring in die parkeerarea, almal met ʼn papier in die hand. Soos een of ander geheime vergadering. Daar is selfs ʼn karwag in Philadelphia.

‘n Ou huis op die dorp. (Foto: Dalene de Vente)

Ons loop ʼn paar draaie om die kerk, aarsel voor die hekkie. Juis op daardie oomblik loop daar ʼn man verby en maak die hekkie oop. “Die koster sal nie omgee nie,” sê hy. “Sy bly net daar,” en hy beduie met sy hand na ʼn huis oorkant die kerk. “Vriendelike vroutjie, hoor. Haar naam is Annelize.”

“In twee tree loop jy deur die dorp,” so vertel die mense my voor die tyd.

By die kafee in Philadelphia koop ek ʼn pastei. “Die beste in die land,” sê die vrou. Al loop die pasteie se goeie reputasie hul vooruit, word hulle verkoop in wat seker die land se kleinste algemene handelaar moet wees.

ʼn Bordjie voor die algemene handelaar adverteer melktert en pasteie. ʼn Man en vrou is besig om hulle kar uit te pak toe ons by klein kafee aankom. “Jammer, ons is ʼn bietjie laat vanoggend.”

Dit is kleiner as wat ek gedink het. Daar is Bovril en bakpoeier in die rakke. Eiers, NikNaks, melktert, boeke, ʼn glastoonbank met uitstalprodukte. ʼn Mooi hond lê opgekrul in ʼn hoekie voor die rak.

Die man bly al 40 jaar in Philadelphia.

“Nee, hulle is nie meer die poskantoor nie,” vertel die vrou van die algemene handelaar, “in Covid-tyd het dinge verander.” Hulle het nou selfs deesdae ʼn kaartmasjien waarmee jy kan betaal.

Daar is ʼn muur vol geskribbel met boodskappe, “Amper soos ʼn gasteboek. Selfs Sonja Herholdt het al teen die muur geskryf, hier kom baie bekendes.”

Adderleyweg (Foto: Dalene de Vente)

Met trane in haar oë se die vrou agter die toonbank vir my “o, maar jy het ʼn mooi siel.” Toe ek uitstap weet ek sommer− dis die kleinste kafee in Philadelphia, maar iets binne my vertel my dat hier baie gebeur.

Die alegemene handelaar. (Foto: Dalene de Vente)

Philadelphia het twee restaurante, ʼn winkel vol mooi edelgesteentes en Boedda-beelde. Dit ruik lekker daar binne. “Die meisie wat daar werk bly eintlik in Gardens in Kaapstad, maar soms kom werk sy hier”, vertel sy. Daar is ʼn geskenkwinkel en op die stoep ʼn bord wat adverteer van ʼn man wat in jou psige kan kyk en die toekoms kan voorspel.

Ons wandel deur die strate, ʼn ander toeriste-paartjie kort op ons hakke. Sommige huisies lyk werklik outyds en die argitektuur verklap dat dit uit ʼn vorige eeu kom. Maar elke nou en dan is daar ook ʼn mooi moderne huisie. Daar is selfs ʼn huisie met ʼn oorvloed kabouters in die tuin.

Al lyk dit idillies om hier te bly, is ʼn lewe hier steeds deel van die werklikheid. ʼn Paar kindertjies wat van die grondpad af kom drentel deur die strate, die kortste van almal met ʼn sigaret in die mond. ʼn Paar vloekwoorde is gegraveer in die kaart waar toeriste ʼn oorsig oor die dorp kan kry.

Philadelphia. ʼn Storieboeklewe, maar nie sonder moeite nie. Tien huise breed, vyf huise lank (of so iets). Ry jy te vinnig, dan is hierdie plek net 2 sekondes lank, maar die plek is duidelik diep genoeg dat jy 40 jaar hier sal kan woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.