Rebelspoorvasbyt 2021, ’n ervaring met blywende indruk

Henno Nel by die droë Molopo-rivierloop. (Foto: Verskaf)

Deur Henno Nel 

Gedurende die Aprilvakansie het ’n avontuurlustige groep mense van oor die land, wat uitgehonger was om meer oor hul geskiedenis te leer, net buite Upington bymekaar gekom vir ʼn opwindende ervaring.

Dit was die begin van die Rebelspoorvasbyt-staptog, belaai met vele kampvuur- en potjiekoskuiers, tentopslaan en voetslaan deur verskillende landskappe.

Vir meeste van ons was die grassade van die eerste dag ʼn behoorlike uitdaging. Wie sou nou kon glo dat so ’n menigte klein saadjies deur jou kouse kan steek? Maar ’n boer maak ’n plan. Kamaste is vinnig ontwerp deur van herwinde plastieksakke en ou sokkies gebruik te maak.

Niks kom by die afkoel in ’n plaasdam ná ’n ent se stap nie. Die Rebel-sport was beslis nóg ʼn hoogtepunt gewees.

Ons het Spieëlkop by Kakamas uitgeklim en het die mooiste uitsig van daarbo oor Namibië en Suid-Afrika gehad. Ons het gestap in ’n droë rivierbedding waar ons pad ook gekruis het met een van Suid-Afrika se gevaarlikste skerpioene.

Van die Rebelspoorvasbyt se stappers bo op Spieëlkop. (Foto: Verskaf)

Nous, sal ons altyd onthou… van die heerlikste koek, tuisgebakte brood, die Nous-lied, boeremusiek en potjiekos tot waar sommige van ons die eerste keer geleer sokkie het.

Ons ontmoet ook kommandant Stadler se nasate, waar ons sy graf skoonmaak en ’n kranslegging doen. Dit is waar die woorde op sy graf, in almal se harte vassteek: “Hy is dood, maar hy leef in die hart van sy volk.”

Die toer word by die Rebellieboom, waar alles begin het, afgesluit. Ons neem menige lewenslesse wat ons by dr. Bothma geleer het, met ons saam. Dit was moeilik om vreemdelinge wat baie vinnig goeie vriende geword het, te groet.

Baie dankie AfriForum Jeug, vir hierdie wonderlike ervaring. Ek kan nie wag vir die volgende kamp nie!

  • Henno Nel is van Bothaville.
  • Jongmense tussen die ouderdom van 18 en 35 wat belangstel om een van AfriForum Jeug se geskiedenisstaptoere te onderneem, kan Marike Labuschagne kontak by 081 217 0008 of ʼn e-pos stuur na [email protected]

Die Rebelspoorvasbyt 2021 toergroep by die Rebellieboom. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.