Riaan Manser vat matrieks Antarktika toe

Riaan Manser (Foto: Facebook)

Vyf matrieks kry vanjaar die geleentheid om hul idees oor omgewingsbewaring in Antarktika verder te ontwikkel, en dié ysbedekte vasteland te verken saam met Riaan Manser en Universiteit Stellenbosch.

Manser is bekend daarvoor dat hy gek is oor avontuur. Hy het onder meer al deur Afrika met sy fiets gery en hy en sy vrou, Vasti, het ook tydens hul wittebrood ʼn wêreldrekord opgestel vir ʼn roeivaart van Noord-Amerika na Hawaii.

Manser vertel dat hierdie een van die grootste projekte is wat hy al aangepak het, juis omdat dit in so ʼn spesiale omgewing gebeur.

“Dis nie net oorvlieg Madagaskar toe nie, dis groot! Dit is Antarktika, man!” sê hy.

Manser sê die Matrics in Antarctica-projek is iets wat hy al lankal wou doen en het tydens inperking ontwikkel.

“Ek wou nog altyd teruggaan Antarktika toe. En ek wou die geleentheid gebruik om ander mense saam te vat. So vir my is dit ʼn wen-wen situasie. Dit is ʼn manier om die matrieks uit in die wêreld te kry, ek kan Antarktika toe gaan én ons werk aan maniere om die omgewing te help.”

Riaan Manser (Foto: Facebook)

Manser is op soek na matrieks wat ernstig is oor omgewingsbewaring en wat regtig ʼn verskil in hulle gemeenskappe wil maak. Hy moedig huidige matrieks aan om aan idees te dink en navorsing te doen oor maniere om die omgewinge te help.

“Wys my hoe jy plaaslik aan ʼn realistiese oplossing kan dink in jou dorpie. Want ek is siek en sat vir mense wat praat daaroor en niks doen nie. Veral daarom nooi ek matrieks saam met my, want hulle is mense wat nie net praat nie, maar eienaarskap neem en die dinge doen.”

Enige matriekleerder in enige deel van die land kan inskryf en vyf matrieks sal dan gekies word om deel te neem aan hierdie opvoedkundige avontuur van ʼn leeftyd onder leiding van Universiteit Stellenbosch se prof. Jonathan Jansen.

Manser vertel dat Antarktika heeltemal sy asem weggeslaan het toe hy vroeër vanjaar daar was.

“Jy kan jouself nie voorberei op Antarktika nie. Jy dink dalk aan sneeu en huisies in die berge, maar dis glad nie wat dit is nie. Dit is soos ʼn blok ys. Ys so hard soos teer en op ʼn sekere tyd van die dag versmelt die lug en die ys tot ʼn vervaagde horison.”

Manser is op soek na vyf huidige matrieks om in Januarie 2021 saam met hom na Antarktika toe te gaan. Hy beplan ook om vir die volgende vier jaar, elke jaar ʼn nuwe groep te vat.

Vir meer inligting of om in te skryf besoek die webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Santie Gildenhuys ·

Sjoe! Wat ‘n fantastiese geleentheid vir matrieks! Prof Jansen is ‘n mense mens met hope visie en opvoedkundige kennis. Kombineer hierdie lewenservaring met Riaan Manser se reiservarings oor oseane heen en ek dink hulle gaan die ys onwetend laat smelt met opwindende gesprekke. Waar wil ‘n jongmens ‘n beter leerskool kry om 2021 mee af te skop?! Bon voyage!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.