Rus vir jou siel in plattelandse paradys

Die luukse, vyfster Walkersons Hotel & Spa naby Dullstroom in Mpumalanga is in 1993 gebou. (Foto: Mariska Nanni)

Iemand het een keer vir my gesê die ideale wegbreekbestemming moet aan jou dinge bied wat jy nie sommer in of by jou eie huis sal kry nie… ’n ontsnapping van die alledaagse.

Dít was presies my ervaring van die luukse, vyfster‑Walkersons Hotel & Spa naby Dullstroom in Mpumalanga, waar ek onlangs vir twee nagte kon ontspan en van die stad se geraas vergeet.

Hier word jy omhels deur pragtige natuurskoon, ʼn ou plattelandse sjarme en ʼn sielerustigheid wat net nou en dan deur brulpaddas en singende voëls onderbreek word.

Jy kan ook die 800 ha‑landgoed te voet gaan verken, perd- en fietsry, vlieghengel, langs die helderblou swembad uitspan, uiteet of jouself met ʼn heerlike spa-behandeling bederf.

Daar is 27 suites van verskillende groottes op die perseel geleë, elkeen met ʼn pragtige uitsig. (Foto: Mariska Nanni)

Hoe dit ook al sy, hoort dié hotel en spa beslis op die emmerlysie van elkeen wat reise deur Suid-Afrika beplan of selfs net vir ʼn paar dae wil wegbreek.

Ons het Sondagoggend 28 November in ʼn ruim sewesitplek-Ford Tourneo uit Pretoria vertrek en was sowat drie uur later in Dullstroom.

Walkersons is net sowat 15 km buite dié bekoorlike eet- en koopdorpie geleë.

Ouwêreldse sjarme

Met die indraaislag word ʼn mens begroet met ’n ouwêreldse, plattelandse atmosfeer wat my aan Skotland of Ierland laat dink.

Daar is 27 suites van verskillende groottes op die perseel geleë, elkeen smaakvol ingerig met ʼn pragtige uitsig. Daar is ook vyf luukse selfsorgkothuise wat vir gesinne geskik is.

Daar is 27 suites van verskillende groottes op die perseel geleë, elkeen smaakvol ingerig. (Foto: Walkersons)

Al is dit nie winter nie, kon ek myself nie keer om die kaggel in my kamer te stook toe ʼn koel windjie buite opsteek nie. Dít het die ideale atmosfeer geskep om die boek nader te hark wat ek al weke lank dreig om klaar te lees.

Daar is ʼn koffiestasie en yskas in elke kamer asook ʼn stoepie waar jy jou oggendkoffie kan geniet.

Buiten die verskillende stap- en fietsryroetes is daar 14 mere en damme vol reënboogforel. (Foto: Mariska Nanni)

Iets waarvan ek baie hou, is dat jy nie die perseel hoef te verlaat in ʼn soektog na ontspanningsaktiwiteite of eetplekke nie.

Buiten die verskillende stap- en fietsryroetes is daar 14 mere en damme vol reënboogforel – ʼn paradys vir gesoute vlieghengelaars en selfs dié wat dit vir die eerste keer wil probeer.

Vir beginners is daar ʼn gids wat jou – met baie geduld – die kuns van vlieghengel leer. Dit was baie meer ontspannend en bevredigend as wat ek, ʼn stadsmeisie, verwag het.

Rooihartbeeste, springbokke, sebras, blouwildebeeste en blesbokke kan ook op die landgoed gewaar word.

Walkersons het ʼn luukse spa waar jy van ʼn verskeidenheid behandelings kan kies, asook ʼn volledig toegeruste gimnasium wat aan al jou fiksheidsbehoeftes sal voldoen.

Jy kan ook die 800 ha landgoed te voet gaan verken. (Foto: Mariska Nanni)

Vir diegene wat ʼn potjie gholf wil inwerk, is die Ernie Els-gholfbaan net ʼn klipgooi verder in die Highland Gate Golf and Trout-landgoed geleë.

Eet met ʼn uitsig

As die hongerpyne roep, kan jy by die The Flying Scotsman vir middag- of aandete aanklop. Jy kan selfs ʼn bietjie optof aangesien dit ʼn meer formele atmosfeer is.

Hier kan jy van ʼn verskeidenheid disse op die restaurant se algemene spyskaart óf die sjef se spesiale aanbiedinge vir die dag kies.

Vir ʼn meer ontspanne ete kan jy by The Terrace vir ontbyt, middag- of aandete en selfs ʼn teemaaltyd aansit.

Daar is ook ʼn kroeg, Peggy’s Bar, waar jy ʼn skemerkelkie kan bestel om saam met die sonsondergang te geniet.

ʼn Spesiale piekniek kan ook langs die rivier onder groot koeltebome bespreek word.

Die ingang van die Walkersons Hotel & Spa. (Foto: Mariska Nanni)

Troues en konferensies 

Voornemende bruidspare kan met ʼn intieme troue by Walkersons trou aan mekaar beloof.

Die hotel het sy eie private kapel met sitplek vir 30 tot 50 gaste. Dit kan egter omskep word om tot 100 gaste te akkommodeer.

Bruilofseremonies kan ook in die buitelug op die perseel gehou word.

Walkersons kan ook vir korporatiewe konferensies bespreek word, wat groepe van tot 80 mense kan akkommodeer.

Verblyfkoste 

Verblyf in die suites by Walkersons sal jou tussen R2 950 en R4 100 per persoon per nag uit die sak jaag. Dit sluit ontbyt en aandete in. 

Die selfsorgkothuise kos tussen R2 750 en R6 050 per eenheid per nag gedurende die week, en tussen R3 990 en R10 200 oor naweke, in vakansietye of openbare vakansiedae.

Varsgebakte brood by The Flying Scotsman-restaurant. (Foto: Walkersons)

Dit is geen verrassing dat Walkersons ʼn sertifikaat van uitnemendheid van Trip Advisor van 2013 tot 2018 ontvang het nie, asook die Travellers Choice-toekenning in 2019 en 2021.

Vir meer inligting, besoek gerus www.walkersons.co.za. Besprekings kan by 013 253 7000 of [email protected] gemaak word.

ʼn Bietjie meer oor Dullstroom

Dit is beslis die moeite werd om ’n draai in Dullstroom self te maak.

Die nuwe Ford Tourneo is die ideale voertuig vir die langpad – veral as jy ʼn groter groep is. Met lekker baie beenspasie het vyf mense lag-lag in dié sewesitplek gepas, asook al ons bagasie. (Foto: Verskaf)

Aan die een kant van die hoofstraat lê Wild about Whisky waar jy sjokolade en whisky saam kan proe, terwyl die bierbrouery, Anvil Ale, net aan die ander kant geleë is. Daar is talle winkeltjies met onder meer klere, juwele, oudhede, bordspeletjies, huisware, leer- en houtprodukte, nguni-velle en geskenke.

Kaasliefhebbers kan ʼn draai by Bergen Cheese maak terwyl die soettande aan oliebolle en ander lekkergoed kan smul.

Daar is ook verskeie restaurante wat stapafstand van mekaar geleë is.

Dié dorpie moet beslis op die doenlysie van elkeen wees wat ʼn besoek aan die gebied aflê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JoHines ·

Pragtig maar my Bank Bestuurder sê my pondok is maar nog goed genoeg.

MakersMark ·

Net jammer Dullstroom is nou ‘n kriminele nes. Paaie het slaggate so groot ‘n kar kan daarin wegval.

Karin ·

Daar is baie ander verblyf opsies wat alle sakke pas. Ons kamp gewoonlik net buite die dorp op ‘n forel plaas, daar kan jy vis vang, stap en perdry. Ja, die pad het potholes, net soos die stad se paaie ook, en ja daar is misdaad maar weereens net soos in die stad, miskien bietjie meer in die stad ! Moet nie altyd alles negatief beskou nie, kyk na die mooi.

Hendrik ·

Ek is seker baie gelukkig om te woon in ‘n gemeenskap met baie lae misdaad en dit is mooi. Keuses vir gerief is maklik maar kan die lewe baie moeilik maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.