Speke sing in die Wieg van die Mensdom

Hoewel die Glacier Cradle Traverse hoofsaaklik sosiale ryers gelok het, was daar ook groot name in die fietsrywêreld soos Yolande de Villiers. Hier is Stephanie Wohlters in aksie. (Foto: Justin Reinecke/ZCMC.co.za)

Deur Terésa Coetzee

Die Wieg van die Mensdom in Muldersdrift, net buite Johannesburg, is deesdae nie net ʼn gewilde uithangplek vir besoekers wat lafenis uit die stad kom soek nie, maar ook ʼn fietsryplek vir oud en jonk. Met talle nuwe bistro’s en koffiewinkels, is daar ʼn groot verskeidenheid plekke waar jy kan aanklop vir ʼn koppie boeretroos terwyl jy die omgewing om jou op jou ysterperdjie kan geniet. Besoekers is gewoonlik verstom oor die hoeveelheid enkelspoorpaadjies wat ʼn mens in hierdie deel van die land kan ry.

Die gewilde Glacier Cradle Traverse bergfietsren het onlangs in die Wieg plaasgevind en daar is soveel verskillende redes waarom jy gerus maar kennis van hierdie byeenkoms, wat deur Dryland Events georganiseer word, kan neem. Met die Avianto-troulandgoed as basis kon fietsryers ná elke dag se ry in Toskaanse weelde gaan uitspan en hulle verlusting in heerlike kos en verversings, terwyl daar tussendeur hard om die swembad gekuier en netwerke gebou is.

Die Cradle Traverse is relatief nuut op die kalender en vanjaar het net so onder die 100 deelnemers ingeskryf. Wat hierdie wedren uniek maak, is dat daar verskillende pakkette beskikbaar is en jy kan een kies om jou sak en behoeftes te pas. Daar is verskillende eet- en verblyfopsies en hoewel ryers met professionele fietsryers soos Yolandé de Villiers in die veld kon kompeteer, is hierdie ren eintlik ideaal vir sosiale ryers wat kompetisie nie so ernstig opneem nie. Die afstande tydens die drie verskillende skofte wissel tussen 38 km en 43 km en die organiseerders maak seker dat almal meer as genoeg tyd het om by die eindpunt aan te kom. Tussendeur kan jy ook maar stop vir foto’s (met wilde diere in die agtergrond), verversings en selfs ʼn koue biertjie (as jy mooi vra).

Pasop vir die diere!

Ryers het sommer ‘n wildbesigtiging tot die koop toe gekry en is met ‘n groot trop kameelperde begroet. (Foto: Sage Lee Voges/ZCMC.co.za)

Registrasie vir die wedren het reeds die Donderdag plaasgevind, waarna ryers vir hulle eerste ete kon aansit en die petroltenke opvul vir die volgende dag. Avianto is bekend vir hulle vyfster-etes en die sjef genaamd “Pappa” ken sy storie met kos. Die volgende oggend 08:00 het die bekende aankondiger, Paul Valstar, die wedren laat afskop en sommer vinnig moes ryers ʼn paar hewige bultjies trotseer. As dit kom by bergfietsroetes, weet Dryland presies wat fietsryers se harte vinniger laat klop en selfs al is die afstande kort, is daar heelwat tegniese uitdagings wat ʼn mens liefs nie moet onderskat nie. Dit is veral daardie kort styl knikke wat ʼn mens se fiksheid en vaardighede deeglik op die proef stel.

Ná ʼn klipperige wateroorgang, waardeur ʼn mens moes afklim en stap, het die ryers die agterkant van die bekende Cradle Moon-landgoed betree en dis waar ons talle wilde diere soos sebras, kameelperde, blouwildebeeste en rooihartbeeste gesien het. Cradle Moon is een van my gunsteling-bestemmings in die Wieg van die Mensdom met ʼn wonderlike fietsrypark wat baie goed gemerk is, en ook staproetes vir drawwers en stappers. Daar is restaurante op die landgoed waar jy ontbyt en middagete kan eet en koffie drink, maar tydens die Traverse was daar ʼn waterpunt net ná die damwal met allerlei lekkernye soos tuisgemaakte piesangbrood, fudge en tafels vol Biogen-sportprodukte.

By die volgende waterpunt het Carel Herholdt ons ingewag met yskoue bier en volstruissosaties wat hy net daar gestaan en braai het – nodeloos om te sê dat ons nie haastig was om hier weg te kom nie.

Die tweede skof was ook sowat 40 km lank en tydens dié skof het ryers heelwat van die gewilde roetes van die Avianto-bergfietspark gery. Daarna het ons verby die gewilde Bidon Bistro in Muldersdrift gery waarna ons die privaat grond van een van die plaaslike inwoners betree het.

Hoewel ek al vyftien jaar lank in die Wieg fietsry en die area baie goed ken, is een van die unieke kenmerke van die Cradle Traverse dat ons nog elke jaar op plekke gery het waar ek nooit vantevore met my fiets kon ry nie. Dis wonderlik om elke keer opnuut bewus te raak van wat hierdie omgewing aan fietsryers kan bied en amper ondenkbaar dat die betonstrukture van die stad glad nie so ver is van die ongerepte landskappe van Muldersdrift nie.

Die derde skof het grotendeels op die enkelspoorpaadjies van Kingskloof, net duskant Krugersdorp plaasgevind, nog ʼn juweel waarvan bergfietsryers (en velddrawwers en stappers) gerus maar kennis kan neem. Weereens kort in afstand, maar met meer as genoeg tegniese uitdagings en enkelspoorpaadjies wat ʼn mens behoorlik besig gehou het. Ek het weereens ʼn deel gery, tydens dié skof, wat ek glad nie geken het nie en moes selfs my fiets by ʼn afdraande stoot wat selfs afdraand-kampioene skrik op die lyf sou jaag.

Kuier soos min

Hoewel die afstande kort was, was daar hope uitdagings wat die konsentrasievlakke hoog gehou het. (Foto: Sage Lee Voges/ ZCMC.co.za)

Ná elke skof het fietsryers lafenis in die swembad by die klubhuis gaan soek terwyl daar dik stukke gekuier is. Die vriendelike René Rademeyer het die “Chill Zone” beman, waar ryers kon weglê in yskoue vrugtesap, Bavaria-bier, energiedrankies en tafels vol Biogen-produkte en southappies soos droëwors en springmielies. As jy hier honger ly, is dit net jou eie skuld.

Saans is daar (alweer) geëet en gekuier en van die fietsryers het gewys dat hulle selfs beter kan dans as kan trap. Avianto is nie verniet ʼn bruilof-landgoed nie en die fietsryers het gewys dat daar nie ʼn bruidspaar hoef te wees om die vreugdesvure hoog te laat brand nie. Baie van die ryers het sommer net daar in Dryland se luukse tente op die landgoed geslaap en vanjaar was daar heelwat Namibiese ryers wat al die pad van Windhoek af kom saam ry het.

Dryland Events is ʼn gevestigde organisasie wat in bergfietsrenne spesialiseer – veral groot UCI-fietsrenne soos die Cape Pioneer Trek, die Tankwa Trek, Stormsrivier Traverse, Attakwas en die 36One.

Op 15 Oktober vind die heel eerste 100 myl (160 km) PrinsGeorge-byeenkoms plaas, ʼn unieke wedren wat in Prins Albert begin en in George eindig.

Bill Germishuys en Kate Lourens aan die einde van die derde skof. (Foto: Sage Lee Voges/ ZCMC.co.za)

Grant Robertson was een van die ryers. (Foto: Sage Lee Voges/ZCMC.co.za)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

gpsa ·

Baie nice maar steeds baie duur, R3400 per persoon dan sluit dit net in 1 ete per dag en geen akkommodasie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.