Staptoere nooi jongmense uit om Afrikanergeskiedenis te leer

Die Rebelspoorvasbyt se stapgroep van 2019. Foto: Verskaf.

’n Splinternuwe avontuur wag op jongmense tussen die ouderdomme van 18 en 35 jaar wat graag hul kennis oor Afrikanergeskiedenis en hul eie herkoms wil opknap of opnuut wil ontdek.

AfriForum Jeug beplan drie leierskap-en-geskiedenistoere in die Kalahari, Vrystaat en Natal vanjaar, wat met ’n praktiese aanslag jongmense met kennis oor Afrikanergeskiedenis wil bemagtig.

“Die heel beste uitkoms van hierdie toere is om te sien hoe jong Afrikaners hul identiteit ontdek,” sê Marike Labuschagne, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir jeugontwikkeling.

“Baie jongmense voel deesdae verlore juis omdat hulle nie hul herkoms ken nie – almal het ’n behoefte om iewers te behoort en ons as AfriForum Jeug wil daardie gesonde bymekaarkomplek vir sulke jongmense wees,” vertel Marike.

Die Pionier-, Rebelspoor- en Wesfrontvasbyt sal onderskeidelik in Februarie, April en September plaasvind.

Die Pioniervasbyt is die eerste toer op die almanak en skop op 27 Februarie vanjaar in Pretoria af en sal op Saterdag klaarmaak. Dit handel hoofsaaklik oor die Groot Trek en die Eerste Vryheidsoorlog. Hoogtepunte sluit in besoeke aan Mgungundlovu, Piet Retief se graf, Spioenkop, Kerkenberg en die Kaalvoetvroumonument.

Dié toer sluit af by die jaarlikse Majuba-fees, waar die Slag van Majuba op 27 Februarie 1881 plaasgevind het. Met dié slag het die boere die laaste geveg van die Eerste Vryheidsoorlog (ook bekend as die Eerste Anglo-Boereoorlog) – en dus ook die oorlog – gewen.

Die 2019-stapgroep by die Rebellieboom met die Rebelspoorvasbyt. Foto: Verskaf.

Die Rebelspoorvasbyt word vanjaar vir die derde keer aangebied en handel oor die Rebellie van 1914-’15. Die toer skop op Saterdag 25 April in Upington af en duur tot 1 Mei.

Die staproete strek oor ongeveer 75 km. Hoogtepunte waarna toerlede kan uitsien, is ’n besoek aan die Rebellieboom (waar die rebellie begin is), rivierswem, bergklim, kamp onder die sterre en die ervaring om die rebelle se roete van destyds te volg.

Die laaste toer vir die jaar is die Wesfrontvasbyt, wat 22 tot 27 September in Bloemfontein plaasvind. Dit handel spesifiek oor die Wesfront-slagvelde van die Tweede Vryheidsoorlog (ook bekend as die Tweede Anglo-Boereoorlog).

Dié staproete strek oor ongeveer 70 km en sluit slagvelde soos Paardeberg, Poplar Grove en Driefontein in.

Die Rebelspoor- en Wesfrontvasbyt word in samewerking met dr. Louis Bothma, skrywer en uitgewer, aangebied. Dié boorling van Bloemfontein se boeke Rebelspoor en Punt van die swaard het dié toere geïnspireer.

Al drie toere is deel van AfriForum Jeug se veldtog om jongmense se leierskap, kennis en vaardighede te ontwikkel en hulle aan te moedig om ’n verskil in hul gemeenskap te maak.

  • Vir verdere inligting kontak Marike Labuschagne by 081 217 0008 of [email protected]om betrokke te raak of aan hierdie toere deel te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Leonie ·

Baie oulik. My dogter kan dit volgende jaar doen. Geskiedenis is een van haar beste vakke.

RS ·

Wonderlik. Ek hoop wel dat die ware regte geskiedenis vir hulle geleer sal word.

Oorlogpop ·

Môre, ja, daarom betrek ons vir Dr Louis Bothma om korrekte feite deur te gee. Groete

Niklaas ·

Puik gedagte hierdie. Solank daar net nie van die ware feite afgewyk word nie. Daardie neiging begin deesdae kop uitsteek (kyk na verhaal van Bloedrivier)

De Villiers ·

Hoe meer hulle ons probeer onderdruk. Hoe meer hulle ons geskiedenis en kultuur probeer verwoes, hoe meer sal ons opstaan en terug veg.

Hierdie is ‘n perfekte voorbeeld.

Ek is so bitter trots om ‘n Afrikaner te wees!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.