Suid-Afrikaanse woude om in die winter te verken

’n Uitsig oor die Thathe Vondo-woud vanaf Fundudzi Camp (Foto verskaf deur LekkeSlaap)

Soos wat die somermaande tot ’n einde kom en winterserpe uit die kas gehaal word, raak dit tyd om ’n afkoelsessie in die see vir ’n aand voor die kaggel ná ’n dag in die woud te verruil. Suid-Afrika se natuurryk is so divers dat elke woud wat in dié land verken word, soos ’n hele nuwe wêreld voel. LekkeSlaap.co.za vertel ’n bietjie meer oor die woude in ons pragtige land en waar jy hierdie winter tyd in die natuur kan deurbring.

Thathe Vondo-woud, Limpopo

Fundudzi Camp

Die Thathe Vondo-plantasie is aan die bokant van die Fundudzi-meer tussen die berge geleë. Daar groei kiaat-, hardehout-, koraal- en koorsbome, wat deur uitheemse dennebome omring word. Volgens volksverhale is daar ’n antieke wit leeu wat hierdie woud bewaar en mans, wie se harte gebreek word, ontsnap ook hierheen. Besoekers word nie toegelaat om alleen dié woud te verken nie, aangesien dit heilige grond vir Venda-mense is, maar hulle mag wel op die aangewese paadjies stap. Daar is ook toergidse wat begeleide toere van hierdie beeldskone woud bied. Besoekers wat die woud besoek, kan ook na die Soutpansberge ry en die Mahovhovho-waterval besoek.

Fundudzi Camp in die dorpie Mukumbani bied gaste die geleentheid om nog meer van die Venda-kultuur en die omgewing te leer. Besoekers kan ’n paar van die plaaslike rituele bywoon, soos ’n Domba-dansdemonstrasie, of ’n luislang-dans kan vooraf vir vermaak saans gereël word.

Klik hier vir meer verblyfopsies naby die Thathe Vondo-woud.

Kokerboomwoud, Noord-Kaap

Willemsrivier Trekpad Guest Houses, Nieuwoudtville

Kokerbome is inheemse plante in die semi-woestynarea van die Noord-Kaap en suidelike Namibië. Dit is beskermde bome en sal nie sommer buite hul natuurlike habitat groei nie. Die Gannabos Natuurlike Erfenisgebied in Nieuwoudtville in die Noord-Kaap is die tuiste van die grootste kokerboomwoud ter wêreld, met tussen 6 000 en 8 000 kokerbome. Dit is ook die mees suidelike punt in die wêreld waar hierdie bome groei. Versamelvoëls is mal oor hierdie bome en hulle groot, merkwaardige neste kan oral in hierdie area gesien word.

Linda se Dop is gerieflik naby die Gannabos Kokerboomwoud, die Hantam Nasionale Botaniese Tuin en die Nieuwoudtville Wildeblom-reservaat geleë wat julle ook kan verken. Die veldblomme maak in Maart hul verskyning en is tussen Augustus en September op hul mooiste. Lekker lê Selfsorg word tydens die veldblomseisoen met blomme omring en Willemsrivier Trekpad Guest Houses, Nieuwoudtville bied toegang tot historiese 4×4-roetes.

Klik hier vir meer verblyfopsies in Nieuwoudtville.

Tsitsikammawoud, Oos-Kaap

Sifrandi

Die Knysna-Tsitsikammawoud is ’n gebroke bosgordel aan die onderkant van die Outeniekwa- en Tsitsikammaberge. Dit is Suid-Afrika se grootste woud en ’n enorme 60 500 hektaar groot. Julle kan ’n dag tussen die bome deurbring, ’n voetslaanroete aandurf of kyk hoeveel voëlspesies julle in hierdie woud kan gewaar.

Tsitsikamma is ’n Khoi-woord wat “plek van baie water” of “oorvloed water” beteken en verwys natuurlik na die hoë reënval wat hierdie streek ontvang. Die interessante plant- en dierspesies wat hier voorkom kan ook aan die hoë reënval toegeskryf word.

Hierdie woud, wat ’n gunstelingplek onder toeriste is, moet beslis vir langer as ’n dag verken word. Bly ’n bietjie langer by Sifrandi wat drie slaapkamers het, met uitsigte oor die see vanuit elke kamer, of kruip by Mount Africa tussen die berge weg, wat perfek is vir ’n gesin of groep vriende wat op soek is na ’n wegbreek.

Klik hier vir meer verblyfopsies in Tsitsikamma.

Knysnawoud, Wes-Kaap

Cabin 16 at Phantom River View

Dit is nie moeilik om te sien hoekom Dalene Matthee soveel inspirasie uit hierdie woud vir haar bosboeke geput het nie. Hier kan jy stap, voetslaan, piekniek hou, bergfietsry, bome uitken, voëlkyk en jouself verlustig in die grootste woud in die land. Dit is die tuiste van ’n hele paar bedreigde kreature, soos die knysnaseeperdjie, die knysnaloerie en die knysnadwergverkleurmannetjie. As jy jouself in die tipe lewe wat die bosbewoners destyds gelei het wil inleef, is Woodcutters Forest Cottages perfek. Hierdie kothuise is op die grens van die Knysnawoud en jy kan dit as ’n basis gebruik om die Kringe-in-‘n-bos-staproete te doen, piekniek te hou by Jubilee Creek en die Dalene Matthee-gedenkteken by die Groot Boom te besoek. Cabin 16 at Phantom River View bied selfsorgverblyf vir ’n groot groep en spog met ’n asemrowende uitsig oor die woud, sodat julle die grootheid daarvan behoorlik kan inneem.

Klik hier vir meer verblyfopsies in Knysna.

Magoebaskloof, Limpopo

Forest Bird Lodge

Die Magoebaskloofpas is ’n groen, welige area wat deur denne- en bloekomplantasies omring word tussen Tzaneen en Polokwane. Dié pas spog met van die langste bome in Afrika, wat meer as tagtig meter hoog strek. Die Woodbush-woudreservaat, in die hartjie van Magoebaskloof, is een van die enigste plekke in die land waar die swartoogboslaksman en die woudpapegaai gesien kan word. In hierdie area kan jy by die Debengeni-waterval piekniek hou of ’n 4×4-roete aandurf.

By Forest Bird Lodge kan jy sommer reg tussen die bome in houthuise op stelte bly. Daar is wandelroetes wat uitsigte oor watervalle en die woud bied. Voëlkyk-entoesiaste sal hierdie paadjies geniet en daar is ook woudpaadjies wat bergfietsryers kan aandurf. Sequoia Garden Retreat is tussen die berge geleë en word omring deur pragtige bome wat van ’n saad wat in 1941 in China se Sirchuan-provinsie versamel is, afkomstig is.

Klik hier vir meer verblyfopsies in Magoebaskloof.

Daar het jy dit nou! Kom hiberneer lekker in ’n woud hierdie winter, daar is ’n hele rits plekke vir jou om te verken!

*Hierdie artikel is verskaf deur LekkeSlaap.co.za en is opgestel deur Ingrid Heydenrych.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Reis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.