Toweragtige Turkye: Die meredistrik van Eğirdir en ruïnes van Sagalassos

Carina en haar seuns stap deur Eğirdir se berge. (Foto verskaf)

Hierdie is deel 3 van ʼn gesinsreis deur Turkye deur Carina Stander. Lees deel 1 en deel 2 – Red

In Oktober vanjaar het ons ʼn gesinsavontuur na Turkye aangepak. In hierdie reeks van vyf rubrieke vertel ek van die reisplan wat ek en Gerrit saamgestel het: 2 500 km per huurkar en 110 km te voet, wat ons binne tien dae saam met ons seuns afgelê het, deur een van die mees fassinerende lande op aarde.

In dié week se artikel swerf ons ver weg van die skares na Wes-Anatolië (Klein-Asië). Behalwe vir die terrasse van Pamukkale, is dit ʼn groot deel van Turkye wat meestal misgekyk word deur toeriste. Vir ʼn streek wat wemel van mere, mites en verstommende mooi antieke ruïnes, kan ʼn mens gerus die ompad ry.

Koebaai, Kappadosië!

Ná drie dae groet ons Kappadosië met ʼn swaar hart. Vir oulaas ry ons tussen die bewoonde kliptorings van die dorpie Göreme – roospienk en geelgroen in die oggendlig. Die klip lyk soos sandkasteel-torinkies wat deur ʼn kind maak is; die huise soos oopgesaagde termiethope, met holtes vir vensters en deure. Stekels op stekels, vallei ná vallei so ver soos die oog kan sien. Jy weet in dié sprokieskoorstene is ook kerkies gekerf uit klip. Hier het jy op ʼn skelwarm herfsdag in die koelte van ʼn rotsskuilte gesit en saam met jou gesin ʼn seënwens oor die land gebid.

Ons ry verby plase waar die druiwe swaar tros en so soet is dat dit jou keel brand. Die vlamme van die warmlugballonne flikker soos reuse gloeilampe − ʼn bontspul teen die aardskleurige halfwoestyn. Die swaeltjies swenk deur die lugballonne en swerm verder.

‘n Kasteelmuur in Eğirdir. (Foto verskaf)

Eğirdir: die meredistrik

Vanaf Göreme in Kappadosië tot in Eğirdir is dit 438 km, meer as vyf ure se rytyd. Ons woerts verby die industriële gebied van Konya (ʼn groot moderne stad) en draai dan vanaf die hoofpad uit op landelike paaie. Dié kontreipaaie is baie stil. Landerye, dennebome, populiere wat goud verkleur in die herfs. Dis die appelmandjie van die land. Appelplase. Appeltrokke. Appelstalletjies. By ʼn plaasstalletjie koop ons vrugte direk van die boer. Wanneer ʼn boer R18 vir 1 kg aarbeie vra en R18 vir ʼn bielie van ʼn waatlemoen, stry jy nie. So spotgoedkoop én suikersoet!

Op die bergpas ry ons al langs ʼn ysblou meer. Die vensters is oop, ons drink die oomblik in. Aan die soom van die meer, en omring deur hoë berge, is die idilliese vissersdorpie Eğirdir. Ons lê nie rond op die smal strandjies van die meer nie − Suid-Afrikaners is met goeie rede strandsnobs, ons het van die mooiste strande ter wêreld! Ons mik eerder reguit na Big Apple Restaurant en smul aan levrek (seebaarsvis) en çupra (goue sebravis) vars uit die meer. Gesels-gesels stap ons op die promenade terug na ons slaapplek wat ook op die skiereiland is. Fulya Pension is gebou teen ʼn kasteelmuur en het ʼn 360 grade panoramiese uitsig oor die meer wat in skemerkleure skitter, omsingel deur die Barlaberge. Om in ʼn ruim gesinskamer te oornag, is geselliger en baie goedkoper as om apart te slaap. Ons kamer is sonnig, met slaapplek vir vier en ʼn eie badkamer. Ibrahim besit die verblyfplek al dertig jaar. Hy bied ook buitelugavonture soos visvangtoere en bergstappe aan. Vonkpos: [email protected]  en webwerf: https://www.fulyapension.com/home

Ontbyt op die dakstoep van Fulya Pension is ʼn bederf van pragtige uitsigte, tuisgemaakte konfyt en brood, olywe en eiers van die plaasmark, songedroogde moerbeie, bokkaas en Turkse koffie.

Ons durf die dagstaproete, Savri Daği, vroeg-vroeg aan voordat die hitte ons kan vang. ʼn Bejaarde tannie met ʼn knoetsgesiggie en kopdoek jaag ʼn koei teen die berg op. Sy is deel van die Yörük, die nomadiese stam rondreisende herders. Later kom ons nog herders in tentwonings teë, asook honde en boktroppe. In die somer neem hulle die kuddes op teen die berge en in die winter keer hulle terug na die vlaktes. Ons parkeer die huurkar naby een van die tydelike krale en stap op, op teen die klipperige steilte, verby die murasie van ʼn 2 300 jaar oue stad, ʼn akropolis, wat sommerso tussen die bokgeblêr lê. Onderdeur stokou seders en kromgetrekte denne stap ons na die hoogste punt op die berg. Dis deel van die St. Paul-staproete (die volledige staproete is 500 km!) omdat Paulus glo eens op ʼn tyd hier gewandel het. Die uitsig vanaf doer bo slaan ons asems weg. Die verre berge, die spieëlblink meer, die dorpie Eğirdir. En nader: ʼn herder wat fluit, ʼn hond wat blaf, bokklokke wat klingel en dierpootstofwolke in die oggendson.

Sagalassos: die vergete antieke marmerstad

Van Eğirdir na Sagalassos is 80 km, ʼn uur se rytyd, meestal met bergpasse. Van ver af sien ons die antieke ruïnes hoog teen die Taurusberge. Die uitgestrekte ruïnes teen die gepunte pieke van Ak Dağ (Witberg) is ʼn voorbeeld van die wonderbaarlike harmonie tussen natuur, kultuur en argitektuur. Dis ʼn plek wat jou idee van perspektief laat duisel.

In 333 v.C. het Alexander die Grote die gebied oorgeneem en ʼn 14 m-hoë heldemonument ter ere van homself opgerig. Teen 25 v.C. is Sagalassos by die Romeinse Ryk ingelyf. Groot voortuitgang het gevolg wat infrastruktuur, argitektuur en bevolkingsgroei betref. Onder beheer van Keiser Hadrianus het Sagalassos een van die rykste en mees invloedryke stede van die streek geword, ʼn sentrum vir die keiserlike kultus. En toe kom die teëspoed: ʼn aardbewing in 518 n.C.; ʼn plaag in 542 n.C. wat die bevolking halveer; Arabiere wat die stad in 640 n.C. plunder; nog ʼn aardbewing. Daarna het inwoners die bergstad verlaat en eerder in die vallei gaan woon. Vir eeue het Sagalassos uit die opskrywings en vanaf die radar verdwyn. Maar omdat dit tussen onherbergsame berge geleë is, is dit nooit geplunder nie. Grootskaalse opgrawings is eers in 1990 begin, met die bystand van die Universiteit van Leuven in België.

Ons stap kloksgewys vanaf die kolonnade, ʼn breë voetgangerstraat van marmer, na die markplek en enorme Romeinse badkompleks. Die Hadriaanse nimfeum (ʼn monument wat aan die nimfe toegewy is) het beelde van mitiese muses en seenimfe. Byna die hele Sagalassos is gebou uit die marmer van kwarries in die nabye berge en die gebeitelde detail het goed behoue gebly. Die hoofpad swenk uit na die indrukwekkendste, mees volledig-gerestoureerde ruïne van Sagalassos: Antonine nimfeum. Dié reusagtige fonteinkompleks, van 9 m hoog en 28 m wyd, is ongeveer 1 850 jaar gelede deur keiser Marcus Aurelius gebou. Die enorme struktuur word ondersteun deur rye pilare van helderblou marmer waardeur die water stroom. Ses soorte klip is gebruik en dis versier met visse, Medusakoppe en blaarpatrone.

Vanaf die senaathuis stap ons op na Alexander die Grote se heldemonument, die kosmark met die fontein waar vis lewend verkoop is en die fonteinhuis waar inwoners lank gelede met kleipotte kom drinkwater skep en wasgoed was het. Die Neon-biblioteek (gebou in 120 n.C.) het ʼn pragtige mosaïekvloer (bygevoeg in 362 n.C.) wat die Trojaanse oorlog uitbeeld. Boekrolle is in die gekurfde nisse gestoor is.

Sagalassos se marmerstraat. (Foto verskaf)

Hierna verken ons die Romeinse teater met sy 9 000 sitplekke, een van heelste antieke teaters in Turkye. Dis duidelik beplan met die dramatiese omliggende landskap in gedagte. Die Romeinse Ryk was erg oor groot, skouspelagtige geleenthede en het teaters opgerig vir sirkusvertonings, atletiekwedstryde, strydwaresiese, gladiators, toneelstukke, politieke vergaderings en feeste. My manne stap deur die onheilspellende donker tonnels wat eeue gelede die deurgang van kunstenaars en vegters was. Ons oudste seun laat val ʼn klippie in teater sodat ons kan hoor hoe eweredig die klank versprei.

Vandag groei pers en geel veldblomme tussen die klipstapels wat nog rondlê en wag vir restourasie. Dié is aktiewe argeologie, jy beleef die proses. Sagalassos is een van die grootste Mediterreense argeologieprojekte, maar in die byna drie ure wat ons daar spandeer het, het ons skaars twintig ander mense teëgekom − waaronder argeoloë. Om op jou eie tyd en in stilte deur die geskiedenis te kan stap, is ʼn reisbelewenis soos min. Die inligting is uitstekend en die paadjies goed aangedui. Toegang is ʼn skamele R24 per persoon!

Dis snikwarm toe ons gesin ná die tyd die waatlemoen slag wat ons die vorige dag by die boer gekoop het. Gawe Turkse ooms kom maak geselsies en die straatkatte kom maak kennis waar ons aan die voete van ʼn antieke pragstad rus.

In die volgende artikel vertel ek van die blinkwit terrasse van Pamukkale en die pragtige Efese.

Algemene reisraad:

Waarom Turkye? Behalwe vir die eksotiese kos, kultuurskatte en fassinerende landskap waaroor ek in die artikels uitbrei, is daar ook praktiese redes wat ʼn reis deur Turkye aanloklik maak vir Suid-Afrikaners:

* Brandstof is goedkoper as in Suid-Afrika. (Dis tans R20 per liter.) Die hoofweë is oop, skoon en goed vir ʼn sloertoer. Slegs in woelige Istanboel het ons nie ʼn kar gehuur nie, maar te voet en boot rondbeweeg.

* Turkye is ʼn mengsel van Asië en Europa. Dis deel van die Europese Unie wat ʼn sekere standaard vereis, maar kos, vervoer, verblyf, straatmarkte en toegangsfooie is goedkoper as Europa.

* Turkey het misdaad, maar is tans veiliger as ons land met minder moorde per kapita: 2 000 in vergelyking met ons 6 000.

* Groot pluspunt: ʼn Mens kan aanlyn aansoek doen vir jou visum en dit binne ʼn dag kry. Dis gratis en geldig vir 180 dae. Vergelyk dit met Europa of Amerika waar jy lank moet wag vir ʼn visum en duisende rande opdok.

*Turkish Airlines het in 1933 met vyf vliegtuie begin. Vandag het hulle 338 vliegtuie, is deel van Star Alliance en het die toekenning vir Best Airline in Europa verower. Hulle motto is “Widen your World” en sowaar, hulle vlieg na 265 bestemmings en na meer lande as enige ander lugredery. Hulle is die enigste lugredery met direkte vlugte vanaf Suid-Afrika na Turkye. Dit neem nege uur en veertig minute vanaf Johannesburg na Istanboel; tien ure vanaf Kaapstad na Istanboel. Ons vlugte was stiptelik, gerieflik en vriendelik met ʼn groot verskeidenheid flieks en ander vermaak om van te kies. Webwerf: www.turkishairlines.com Vonkpos: [email protected] Skakel: 086 0666 828.

* Ek het besonder baie moeite gedoen om verblyf te soek wat eie aan die karakter van elke omgewing is. Nie by een van die ses verblyfplekke moes ek ʼn deposito betaal nie. As die Turke sê hulle hou jou kamer, doen hulle dit – wees jy ewe eerbaar en daag betyds op.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.