Van die Flughafen na die Altstadt – ’n blitsbesoek aan Zürich

Tanya en Marius het ‘n blitsbesoek aan Zürich afgelê. (Foto verskaf)

Deur Tanya de Vente-Bijker

In Junie vanjaar verken ek en my reisgenoot vir twee weke die noord-oostelike deel van die Italiaanse eiland Sicilië. Ons vlieg terug huis toe vanaf Falcone Borsellino-lughawe net buite die hoofstad Palermo. Die vliegtuig land vyf uur die middag op die Flughafen Zürich. Dit is ʼn spoglughawe met genoeg winkels en lughawe-sitkamers om jou ʼn paar ure besig te hou. Maar ons het besluit om ons sesuur-lange tussenstop beter te gebruik en die ou stad van Zürich te verken. Hier is hoe ons dit gedoen het!

Switserland het nog altyd my verbeelding aangegryp. In 2011 reis ons vir die eerste keer deur Italië en verken vir ʼn week lang die Lugano-meer op die grens van Italië en Switserland. Daar ervaar ons die beste van twee wêrelde. Want Switserland is duur en Italië is (relatief) goedkoper. Ons kon proe aan Switserland, ʼn sjokolade-fabriek besoek en op die road trip terug na Amsterdam (van waar ons weer huis toe gevlieg het) kon ons verby die asemrowende Kiental-vallei ry en stop vir die duurste koffie van ons hele toer.

ʼn Dekade later beplan ons ʼn reis na Sicilië en die goedkoopste vliegtuigkaartjies sluit ʼn tussenstop op Zürich-lughawe in. Ons begin beplan en begroot om ʼn nag of twee in die prag-stad oor te slaap, en droom selfs oor Lucerne. Maar uiteindelik wen ons begroting en die reis word beperk tot ons bestemming Sicilië.

(Foto verskaf)

Maar toe ons vliegtuig op die heen pad oor die Switserse Alpe vlieg en laag oor Zürich begin daal en ons die mooiste vroegoggend beelde van die stad sien, was ons tog spyt. En ʼn nuwe (effens wilde) idee het by ons posgevat… Ons besluit om op die terugreis huis toe tydens ons tussenstop op Zürich die lughawe te verlaat en die ou stad van Zürich te gaan verken.

Beplanning en voorbereiding is absoluut noodsaaklik. Ons was moeg na twee weke van intense toer en reis deur Sicilië, dus moes ons presies weet wat ons moet doen. Jy het beslis ten minste vier en ʼn half ure in jou tussenstop nodig om hierdie avontuur aan te pak. Dit laat jou met ʼn halfuur tot ʼn uur om die vliegtuig te verlaat, en deur doeane en paspoortkontrole te beweeg.

Eerstens moes ons seker maak ons kon die lughawe verlaat en weer terug kom. Met ʼn Suid-Afrikaanse paspoort kort jy ʼn multiple entry Schengen visa. Met ʼn EU-paspoort kan jy uiteraard kom en gaan soos wat jy wil. Gelukkig was alle pandemie-maatreëls reeds laat vaar.

Tweedens het ons baie lig gepak vir die terugreis. Ons het soveel moontlik in ons ruimbagasie gepak, sodat ons handbagasie min kan wees. Want alles wat handbagasie is, moet saamgesleep word in die Zürich-stop. Daar is ʼn moontlikheid om toesluitkassies op die lughawe te huur juis vir so uitstappie, maar enigiets in Switserse frank laat my man spierwit in die gesig.

(Foto verskaf)

Nou vir die roete-beplanning. Dit is ʼn 12 tot 15 minute treinrit vanaf die lughawe tot in die ou stad van Zürich, maar jy moet fokus want Zürich se lughawe is groot. Ons het dus van te vore presies uitgewerk waar die vliegtuig stop, by watter terminaal ons moet uitkom, waar die ondergrondse treinstasie is, presies watter treinlyn ons moet neem (lyn S2 of lyn S16) en hoe lank die rit vat. Ons bagasie was reeds ingegee vir die lang vlug na Johannesburg en ons het ook reeds ons instapkaarte vir die vlug gehad.

Ons het die aanwysings gevolg na Zürich lughawe se treinstasie wat onder die lughawe is. Hier het ons kaartjies by die kaartjiemasjiene gekoop na Zürich se hoofstasie, Hauptbahnhof, afgekort Zürich HB. Daar is elke drie tot vyf minute ʼn trein vanaf die lughawe na die hoofstasie.

Ek weet nie of ek dit sou aanbeveel vir iemand wat Europa vir die heel eerste keer besoek nie, want jy moet ʼn mate van kennis oor die treinstelsels hê, maar as jy miskien ʼn dag tyd het gaan jy dit wel onder die knie kan kry. Dankbaar vir vorige reise en oorsese werke drafstap ons na die treinkaartjiemasjiene, koop presies die regte kaartjies en klim op die trein na die ou stad.

Uiteindelik klim ons tog steeds op die verkeerde trein, want ons het kaartjies gekoop vir die direkte trein na Zurich HB en ons het in ons haas op die trein gestap wat by drie stasies stop op pad na die ou stad. Dit was net ʼn drie minute verskil in reistyd en gelukkig was ons steeds op die regte roete.

En daar sit ons grootoog op die trein. In verwondering. Veral na twee weke in Sicilië. Sicilië is deel van Suid-Italië en dit is ʼn arm land. Switserland is skoon en netjies. Ons het min gepraat en baie ingeneem.

Die trein stop in die indrukwekkende Hauptbahnhof en ons verlaat die trein. Voor ons lê die Limnatrivier wat deur die Middeleeuse ou stad stroom. Marius het reeds ʼn dag van te vore die gebied op Google Maps gestoor sodat ons ʼn kaart het om mee te werk. Vier blokke verder, sowat 500 m van die stasie af, is ons in die pragtige ou stad (Altstadt). Die meeste strate in die ou stad is slegs vir voetgangers. Prentjiemooi keisteenstrate word afgerond deur historiese kerke en eeue-oue geboue. Dit is Junie, die begin van die Europese somer en sypaadjie-restaurante en -koffiewinkels nooi jou om te kom sit vir ʼn (duur) drankie.

Wetende dat dié ʼn duur land is, besluit ons om tog die beste te maak van twee ure en gaan eet in die historiese Swiss Chuchi Restaurant wat deel vorm van die Adler Hotel. Die restaurant was die heel eerste fondue-salon in die ou stad, en vandag die top restaurant in die area vir Switserse kaas en vleisspesialiteite. Dit is stampvol, en jy het eintlik ʼn bespreking nodig, maar daar gaan ʼn tafel vir twee oop en ons sit.

Om ons bestel gaste kaasfondue of -raclette (happies wat jy in ʼn klein pannetjie braai met ʼn spesifieke kaas). Hiervoor kom ons terug besluit ons, want vandag, met die lang vlug wat voorlê moet ons ʼn bord gewone kos eet. Marius bestel ʼn plaaslike bier Turbinenbräu Gold Sprint aus Zürich vir ʼn volle R160 en ek hou by ʼn koeldrank vir R90. Ons aandete was buitensporig duur, maar dit was presies hoekom ons nie die twee nagte hier oorgeslaap het nie.

Hier het ons geëet, mense gekyk en mense afgeluister en toe die interessante keisteenstrate verken. Na twee weke se verken en reis was ons sensoriese sintuie reeds heeltemal oorlaai, so by tye het ons net gestaar en ingedrink.

ʼn Groot oomblik was toe ek nog ʼn koeldrank in die supermark gekoop het. Een van ons gunstelingbesoekpunte is supermarkte in ander stede, want dit is altyd lekker om te sien wat hulle verkoop. Hier stap ek toe met my koeldrank na die betaalpunt, skandeer dit self, plaas my kaart in die masjien en stap uit. Geen kassiere. My man is so in vervoering dat ek dit weer moes doen sodat hy ʼn foto kan neem.

(Foto verskaf)

Die indrukwekkende trem-stelsel buite die hoofstasie het nog ʼn paar minute van ons tyd geneem, en ek het hier eers video’s vir die kinders geneem. Dit is iets wat ons nie ken in Suid-Afrika nie.

Ons het met meer as genoeg tyd om te spaar weer by die lughawe teruggekom, deur doeane gegaan en selfs nog tyd gehad om in een van die sitkamers vir ʼn rukkie te gaan sit en vliegtuie kyk voor die lang vlug.

Indien dit jou eerste keer is in Europa gaan jy waarskynlik ʼn bietjie meer tyd nodig hê, maar as jy die stelsels ken, kan ses ure genoeg wees vir die uitstappie. Ons het wel die heeltyd geweet ons speel dit uit die heup, want soveel kan voorval op ʼn internasionale reis.

Die besoek was vinnig, het nogal beplanning geverg, maar dit was die moeite werd. Met die terugrit na die lughawe op die trein het Marius nog gedroom hoe hy graag Google se hoofkantoor sou wou besoek. Maar is dit nie altyd so nie, jy besoek ʼn plek net om te droom dat jy weer wil gaan omdat jy so baie nog nie gesien het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.