Video: ʼn Kuier by Bloubergstrand se Ons Huisie

Maroela Media het by Ons Huisie in Bloubergstrand gekuier. (Foto: Ons Huisie/Instagram)

Byna reg teen die strand staan daar ʼn ou, kalkwit huisie. Beskut teen wind en weer, staan dié gebou in Bloubergstrand, ʼn onmiskenbare deel van die Kaapstadse voorstad se geskiedenis.

Alhoewel baie mense vandag dié gebou as die seekosrestaurant, Ons Huisie, ken, staan hy reeds meer as twee eeue langs die yskoue Kaapse water.

“Die gebou is net oor die 220 jaar oud. Dit was een van die eerste huise in Bloubergstrand,” vertel Michael Fernando, wat vandag reeds 12 jaar as hoofbestuurder van Ons Huisie dien, oor die geskiedenis van die restaurant en gebou.

“Daar was drie dinge waarna mense gesoek het wanneer hulle Kaap toe gekom het: water, hout en grond om te boer.” Volgens hom het die meeste verkies om verder van die see af te bly, in plekke soos Durbanville, Stellenbosch en die Paarl. “Dit was waar die goeie grond, hout en water was.”

“Maar, hulle moes ook vakansie gehou het, en die strand was hul vakansieplek. Elke liewe jaar het hulle met alles gekom: die donkie, die Bybel, ouma, oupa, honde en katte, en ʼn paar maande by die strand vakansie gehou. Toe besluit iemand om ʼn huis te bou.”

“Van daar af het die gebou deur die jare baie verander – van ʼn vakansiehuis, na ʼn vissermanshuis, na ʼn regte huis.” Nou, na al hierdie jare, is dit ʼn restaurant.”

Michael Fernando, hoofbestuurder by Ons Huisie. (Foto: Ons Huisie/Instagram)

Ons Huisie is reeds die afgelope twee dekades ʼn restaurant in Bloubergstrand wat plaaslike inwoners en binnelandse besoekers as ʼn geliefde bestemming beskou. Fernando meen dat dié liefde uit Ons Huisie se gesinsgeoriënteerde uitkyk spruit.

“Baie van ons werknemers is al so lank met ons: ek is 12 jaar hier, daar is mense wat 17 en 20 jaar al hier werk. Dit wys jou net hoe ons ons kliënte en werknemers beskou,” vertel hy.

“Dit gaan oor familie hier. As jy iets nodig het, het ons jou. En, ons doen dit vir ons kliënte ook.”

Kyk na ʼn video van Maroela Media se kuier by Ons Huisie in Bloubergstrand hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.