Wanneer kinderherinneringe weer lewe kry

Walkersons Hotel and Spa (Foto: Marianne Styan)

Ek is dol daaroor dat sekere herinneringe so helder by mens bly dat mens amper dit kan sien uitspeel, soos ʼn fliek in jou gedagtes. Ek is egter dikwels bekommerd dat sekere herinneringe dalk beïnvloed word deur dinge wat mens nie meer so goed onthou nie of dalk die emosies wat op daardie oomblik daarmee saam gekom het.

Mens verromantiseer ‘n plek soms in jou herinneringe omdat dit gelukkige tye was of dit was só lank gelede dat jy nie rêrig mooi kan onthou of dit regtig só was nie. Jy begin dus in jou kop dinge daaraan toevoeg wat jy dínk dit was, maar dit was nooit regtig só nie.

Deur baie van my reise, vermoed ek, het ek al plekke so verromantiseer. Ek reis graag en dis altyd vir my lekker. Baie plekke is dus vir my spesiaal en ek sal sukkel om werklik een plek uit te sonder wat my gunsteling is. Daar is te veel mooi en spesiale herinneringe oral. En ek geniet dit om elke plek in sy egtheid te ervaar, sonder om dit in ʼn boks te druk.

Ek probeer ook gereeld om nuwe plekke te besoek om nóg herinneringe te bou. Elke dan en wan kry ek egter die kans om weer terug te keer na plekke waar ek al was. Soms is dit eerlikwaar ʼn klein bietjie van ʼn teleurstelling. Kinderherinneringe en realiteit kan soms hemelbreed verskil.

Walkersons Hotel and Spa (Foto: Marianne Styan)

Ek was onlangs egter wonderlik verkeerd bewys in hierdie opsig. Ek is genooi na Walkersons Hotel en Spa, geleë net buite een van my gunstelingdorpies, Dullstroom.

Ek het toevallig lieflike herinneringe van Walkersons. In 1989, toe ek nog in die laerskool was, het my ouers besluit om na die nuwe oord, Walkersons te gaan. Dit was nog nie baie bekend nie. En dis waar ek my herinneringe toe gaan uitgrawe: 31 jaar gelede… Hoe baie kan mens regtig onthou?

Ek was dus maar effens skepties of dit dieselfde romantiese aura gaan hê wat ek daaraan toegedig het, so lank gelede. Die drie uur lange rit vanaf Johannesburg was vinnig verby te danke aan goeie geselskap en die maklike pad om te volg.

My eerste kinderherinnering het lewe gekry toe ek die gevoel onthou asof ons in ʼn ander land inry, soos wat die pad kronkellend afdaal deur die bloekomboomwoud. Sover is die herinneringe nog presies wat dit was. Ek onthou die Skotse atmosfeer wat ek die hele tyd gevoel het terwyl ons daar was, maar dit was tydens die wintermaande en die Dullstroom-omgewing kan dan lekker koud raak. Hierdie keer is dit somer en ek vermoed dit gaan nie dieselfde wees nie.

Deur die hek van die oord ry ons verby die nuwe uitbreidings van die Walkersons Estate, wat later jare oopgemaak is vir die publiek, om ook ʼn stukkie van hierdie plaaslike “Skotland” te kan besit met privaat huise. Die moderne, dog subtiel skematiese huise, lê versprei tussen die groen heuwels, op pad na die Walkersons Hotel en Spa.

Walkersons Hotel and Spa (Foto: Marianne Styan)

Oral is dit groen, die groot okkerneutbome gooi oral skadu’s en die pienk, pers en blou krismisrose staan soos uitlokkende spookasem oral. Dis egter die donker sandsteengebou, toegerank met welige varings, wat jou verwelkomend laat voel of jy op die Skotse hoëveld is. Net soos my herinneringe “onthou”.

Die hotel is lieflik ontwerp. Die kamers, wat in amper losstaande eenhede langs die hoofgebou uitgestrek lê, maak dit heerlik privaat. ʼn Hele paar foreldamme lê blinkoog voor die hotel waar ʼn forel elke nou en dan stuitig kom gesig wys.

Die interieur, met die houtafwerkings en geruite materiaal, versterk die Skotse atmosfeer nog verder, en ek onthou die kaggels wat gebrand het in elke kamer en in die hoofsitkamer, asof dit gister was.

Die vriendelike en hulpvaardige personeel neem ons bagasie solank na ons verskeie kamers, terwyl ons ontspan op die koel stoep en smul aan heerlike slaai van die Terrace-menu en iets kouds te drink. Hierdie keer is dit nie winter nie, herinner die erge hitte my, en ek voel effens afgehaal omdat ons hierdie keer duidelik nie die kaggels gaan kan gebruik nie.

Terwyl ons egter die eerste middag in die heerlike ruim kamers ontspan of die omgewing rondom die perdestalle verken, begin daar ʼn tipiese hoëveldse donderstorm opbou oor die groen heuwels waaroor ons uitkyk. Ek sit op my stoep met ʼn koffie en sien hoe die groot wit Cumuluswolke begin opbou en verander na blou-pers, soos die wind begin opsteek.

En die herinneringe begin terugwaai saam met die geruis van die wind deur die denneboomblare, net toe die eerste druppels begin val, want uiteindelik het ek goeie rede om my kaggel te laat brand.

Die res van die naweek is egter sonnig en heerlik warm, en spoed verby met heerlike kos, kuiers, ʼn drie uur lange staproete tot op die kruin van die berg agter die hotel en rondom al die foreldamme. Ons sien blesbokke, sebras, springbokke en rooihartbeeste, wat ons nuuskierig kom betrag. My kinderherinneringe herleef en word versterk met elke aktiwiteit.

Walkersons spog ook met ʼn spa, waar ons lafenis gaan soek vir ons moeggestapte lywe, later die middag ná ʼn vinnige swem in die swembad. Vandag was daar niks van die vorige koeligheid nie. Die massering was verseker nie deel van my kinderherinneringe nie, maar wel ʼn wonderlike toevoeging tot nuwes.

Die laaste aand sit ons aan vir ete in die Skots-geïnspireerde The Flying Scotsman vir ʼn viergangmaaltyd uit die boonste rakke, gepaar met heerlike wyn, wat die bestuurder van die hotel vir ons voorgestel het uit hulle wynkelder.

Walkersons Hotel and Spa (Foto: Marianne Styan)

Die hele tyd was daar egter nog een herinnering wat my bly ontduik en omdat dit somer is, het ek aanvaar ek gaan dit nie weer beleef nie… Maar toe ek die volgende oggend my gordyne ooptrek, spoel die finale herinnering oor my, so asof dit net gewag het vir die laaste oomblik omdat dit die lekkerste een van almal was. Die hele vallei is gehul in mis … soos ʼn sprokieswêreld uit ʼn fliek.

Ek geniet die onbeskryflike stilte wat die mis bring, terwyl ek op my stoep koffie drink, amper asof dit net ek alleen is in die hele plek. Ek laat die spesiale oomblik stadig verbygaan voor ons gereedmaak vir ons laaste avontuur van die naweek. Iets wat enige besoek aan Dullstroom-omgewing moet insluit: vlieghengel.

Alhoewel ek dit nog nooit lank genoeg gedoen het om goed daarin te wees nie, was dit iets wat ek nog altyd geniet het as ek die kans kry. Ek giggel saggies aan die herinnering van hoe my sussie haarself aan die oor gevang het, terwyl ek in die rustige atmosfeer met my eie gedagtes staan. Weereens voel dit of ek alleen is, as gevolg van die misgordyn. Gelukkig is ons gids baie geduldig met ons onvermoë om enige iets anders as bosse te vang. Ná ʼn uur van net die gesjwing-sjwing van die visstokke en die visse wat net uitlokkend bloep-bloep langs die lyne, pak ons op en gaan soek warm koffie en ontbyt in die hotel se ontbytkamer.

Ons almal bly luier langs die ontbyttafel… Dis duidelik dat niemand hierdie “Skotland” wil verlaat nie. Miskien skrikkerig dat ons die herinneringe ook gaan agterlaat as ons vertrek.

Toe ek egter ʼn laaste keer in die truspieëltjie kyk, terwyl ons wegry om tyd in Dullstroom te gaan spandeer voor ons huiswaarts keer, is dit asof die sandsteengebou met sy spikkels helder krismisrose en reusebome, sy laaste buiging maak voor die misgordyn sak. En met ʼn glimlag weet ek met sekerheid dat as ek terugkom vir die encore, die vertoning nog beter gaan wees as my herinneringe van die vorige een…

*Marianne se verblyf is geborg deur Walkersons Hotel en Spa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leon ·

En dan is daar sommige van ons wat nie so gelukkig was om ryk ouers te hê wat ons na sulke romantiese plekke kon neem nie. Ons het nie die mooi herrineringe nie. Ons sit net met die pyn en seer van plekke waar jy geboelie is, waar jy moes vêr loop toilet toe. Waar jy nie ‘n badkamer gehad het in die huis. Jy nie al die wondelike plekke kon sien want die vakansies is net by een of twee familielede spandeer.

Ek is bly julle het so ‘n wondelike kinderjare gehad. Koester dit en dink aan die wat dit nie gehad het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.