Gedagte vir die dag: Jy weet net nie

Natuur_sonstrale_wolke_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie! Sy beslissings gaan ons begrip te bowe; sy manier van doen kan ons nie deurvors nie (Romeine 11:33)

Eeue gelede is ’n sekere man wat as sendeling China toe gegaan het as ’n volkome mislukking beskou. Nie een mens het tot bekering gekom terwyl hy daar was nie. Hy is vervolg en verwerp. Sy vrou en al ses sy kinders het in China gesterf. Al wat hy daar kon doen, was om ’n klein stukkie grond te koop sodat hy sy geliefdes daar kon begrawe. Toe het hy ook gesterf. Die titelakte van die stuk grond is nagelaat aan ’n familielid in Engeland en daarna van die een geslag ná die ander oorgegee. Honderd jaar later het ’n ander sendeling China toe vertrek. Teen hierdie tyd was China nie meer toeganklik vir buitelanders nie, tensy jy grond besit het. Maar hierdie man het die titelakte van ’n klein stukkie grond geërf …

Jy weet nie waar en hoe God jou lewe inweef in die tapisserie van ’n baie groter storie nie. Dit moes so sleg gewees het om daardie eerste man te wees wat saam met sy gesin in ’n toestand van algehele teleurstelling gesterf het. Maar as hy tot aan die einde sy geloof behou het – en sy hoop geplaas het in die voltooide werk van Christus en die ewige heerlikheid – sou hy tevrede gesterf het, met ’n groot beloning.

Wanneer alles tevergeefs lyk, maar God sê: Hou aan, beplan Hy iets wat groter is as jy en jou lewe.

Here, ek is opgewonde om die eindproduk te sien van wat U met my gaan doen! Amen.

Bron: Reis lig deur die lewe deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Von ·

Dankie Here dat ek vanmore weer deur n ander bril kan kyk na U wonderlike wil vir n mensekind….U genade is vir my genoeg

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge Here. Amen !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.