ToekomsVenster: Jou uitgebreide familie

(Foto: Tyler Nix/Unsplash.)

“You don’t live in a world all alone. Your brothers are here too.” – Albert Schweitzer

Die tyd van afsondering het ʼn mens baie bewus gemaak van ons interafhanklikheid. Die wêreld het inderdaad baie klein geword en ʼn gevoel van verbondenheid met die lotgevalle van mense wêreldwyd word beleef. Die groot getalle mense wat in lande soos Spanje, Italië en die VSA deur Covid-19 geïnfekteer is, is nie bloot interessante syfers nie. Mens ervaar iets van die seer en trauma van mense wat uiteindelik sterf en in besonder met die wat agterbly.

Jy hou met arendsoë die ontwikkeling van ʼn teenmiddel dop en bid hopelik daarvoor. Ons beleef plaaslik ons medeverantwoordelikheid teenoor mekaar wat ons hopelik motiveer om tuis te bly. Dit is veral die swaarkry en ontbering van ʼn groot aantal mense in ons land wat vanweë armoede, werkloosheid en ander faktore nou dubbel so swaar kry. So kan ʼn mens aangaan.

Albert Schweitzer kon nie voorsien het hoe waar en van toepassing sy woorde eendag sou wees nie. Ons het deel aan een mensheid, deel een spasie (die bewoonbare aarde) met mekaar, stuur produkte oor en weer, ervaar tekorte in een land ook hier ter plaatse.

Die wisselende en nou onder druk olie prys is ʼn uitstekende voorbeeld van hoe verwikkeling in een deel van die wêreld, ander wêrelddele ook raak. Mediese voorraad wat nodig is om toetse te onderneem, voorkoming te tref en behandeling te verskaf is nog ʼn voorbeeld van ons interafhanklikheid. Ons leer by lande soos China watter strategieë die beste is om die virus aanslag by ons te minimaliseer.

Ons is deel van een wêreld, die wêreld vir wie God so lief gehad het dat Hy sy seun, sy enigste gegee het. (Joh.3:16) Jesus se opdrag het met alle volke en nasies, van Jerusalem, deur Judea, Samaria, tot aan die eindes van die wêreld te doen. Ons is meer daar, die uithoeke van die aarde, as ooit van te vore.

Hoe dra ons die belange van ander op die hart?

Ek in my klein hoekie en jy in joune is volstruispolitiek wat lank nie meer werk nie. God is lief vir alle mense en het met elkeen se lewe ʼn plan. Beleef vandag met verwondering jou deel wees van ʼn groter werklikheid as die onmiddellike omgewing waarvan jy deel is.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.