Kopiereg: Oppas vir skending én slenters

(Foto: iStock)

Om skeppend en kreatief te wees, strek veel verder as stokperdjie, spesiale talent of sielsverrykende tydverdryf. Vir die meerderheid kunstenaars soos beeldhouers, skilders, fotograwe, musikante en kleinsakelui wat unieke produkte bedink en vervaardig, is skepping hul wérk en enigste inkomstestroom. ’n Kwessie van kreatiwiteit om den brode.

Tog gebeur dit dikwels dat vreemdelinge sonder skroom met ander se kreatiewe kallers boer, terwyl ander hulself weer met slim slenters kopiereg toeëien. Hoe werk intellektuele eiendom en kopiereg, wanneer word iets as skending geag, en waar kom al die kopieregboelies vandaan?

Kat in die sak

Shannon McLaughlin, kleinsake-eienaar van Ubuntu Baba, het in 2018 die skok van haar lewe gekry met haar ontdekking dat Woolworths babadraers met dieselfde kleurskema en ontwerp as haar produk verkoop.

Die middellyf- en skouerbande was identies en die patroon was eenders, tog vereenvoudig. Shannon se babadraers word met die hand van plaaslike organiese materiaal vervaardig deur 12 werknemers. Die suurroom op die koek was dat Woolworths se babadraers glo goedkoper as McLaughlin se organiese eweknie te koop aangebied is.

Om só iets te ontdek, is nie net genoeg om enige kleinsake-eienaar se spoed te breek nie, maar geld vir enigeen wat op hul kreatiewe vermoë en talent staatmaak om te oorleef.

“Goeie kunstenaars kopieer; groot kunstenaars steel,” het wyle Steve Jobs, medestigter van Apple, vir Pablo Picasso in 1996 aangehaal en kantlangs bygevoeg: “… en ons was nog nooit skaam om goeie idees te steel nie”. Die vraag is: Waar trek ’n mens die streep? Wat is jou regte, wat is aanvaarbaar en wat is oneties? Hoe beskerm die wet intellektuele eiendom en al die idees wat met soveel bloed, sweet, trane én geld geskep is? Waarheen wend ’n mens jou as só iets jóú tref?

Intellektuele eiendom

Dié pad lei na die hooggeregshof, want in Suid-Afrika het ons nie ’n hof wat hom uitsluitlik op intellektuele eiendomsreg toespits nie.

In Ubuntu Baba se geval was dit egter nie só eenvoudig nie. McLaughlin het nooit die intellektuele eiendomsreg van haar babadraer-ontwerp geregistreer nie. Intellektuele eiendom is die breë versamelnaam vir alles wat deur middel van wetgewing beskerm word, en sluit in:

  • Patente (Wet op Patente, no. 57 van 1978).
  • Ontwerpe (Wet op Modelle, no. 195 van 1993).
  • Handelsmerke (Wet op Handelsmerke, no. 194 van 1993).
  • Kopiereg (Outeursregwet, no. 98 van 1978).

Met die uitsondering van kopiereg, moet intellektuele eiendomsreg geregistreer word alvorens dit beskerming geniet. As jou patent of ontwerp nie geregistreer is nie, is daar absoluut niks wat jy kan doen as iemand dit naboots en van die hand sit nie. Dit het McLaughlin egter nie gekeer om iets daaraan te doen nie.

Haar bloginskrywing van 2 000 woorde, waarin sy met die hele sak patats vorendag gekom het, het ’n sosialemediaberoering veroorsaak. Ten spyte daarvan dat Woolworths regstegnies geen oortreding begaan het nie, het ’n horde mense saamgestem dat die winkelgroep oneties gehandel het.

Woolworths het in reaksie hierop die produkte van hul rakke verwyder en met Ubuntu Baba in gesprek getree. Hulle het onder meer onderneem om die opbrengs uit verkope aan te wend om kleinsakeondernemings te ondersteun, en om opleiding in intellektuele eiendom op bestuursvlak in die maatskappy te implementeer.

(Foto: iStock)

Waarop bestaan kopiereg?

Jy kan nie op kopiereg aanspraak maak vir enige idee wat jy bloot hardop sê of bedink nie. Om vir beskerming te kwalifiseer, moet jou werk of idee in ’n tasbare vorm bestaan: geskrewe, gekomponeer of uitgesaai.

Kopiereg word in Suid-Afrika toegepas ingevolge die Outeursregwet (no. 98 van 1978), sowel as die Outeursregregulasies van 2019. Die wetsbedeling bied beskerming aan skeppers van oorspronklike werke in die volgende kategorieë:

  • Literêre werke, soos boeke en geskrewe komposisies.
  • Musikale werke, byvoorbeeld sang en musikale komposisies.
  • Artistieke werke, insluitend beelde en skilderye.
  • Kinematografiese films, soos rolprente en digitale films.
  • Klankopnames – byvoorbeeld podsendings en onderhoude
  • Klank- en televisie-uitsendings, programme en reekse.
  • Programdraende seine via, byvoorbeeld, satelliete.
  • Rekenaarprogramme, soos die bronkode van sagteware.

Dit gee aan eienaars die eksklusiewe reg om oor die gebruik daarvan te besluit, en verbied enige gebruik, reproduksie, verspreiding of aanpassing sonder die eienaar se toestemming. Hierdie reg duur oor die algemeen vir die leeftyd van die outeur, plus 50 jaar.

Wanneer word kopiereg geskend?

Kopiereg word geskend wanneer iemand jou materiaal, of namaaksels daarvan, sonder jou toestemming vir kommersiële gewin gebruik. Om byvoorbeeld fotostate te maak, is nié op sigself ’n skending van kopiereg nie.

Kopiereg hoef nie soos die ander intellektuele eiendomsregte soos patente en handelsmerke geregistreer te word om te bestaan nie. Dit ontstaan in die skeppingsdaad van ’n oorspronklike werk in ’n tasbare vorm, en behoort aan die skepper van die werk. Hierdie reg ontstaan sonder enige papierwerk of formele registrasie, en is outomaties geldig in alle lande wat soos Suid-Afrika ʼn lid van die Bern-konvensie is.

Die Bern-konvensie bevorder literêre en artistieke eiendomsreg sedert 1886, en stippel grondreëls uit vir die beskerming daarvan oor landsgrense heen, sonder om formele registrasie en deposito’s te vereis. Dit dien as vertrekpunt vir kopieregwetgewing in 179 lande.

Nog ’n voorbeeld

Die Suid-Afrikaanse musikant Daniel Baron het in 2018 een van sy melodieë op die album, Guetta Light Headed (2018), gehoor. Baron het sy treffer “Children of the Sun” reeds in 2016 by die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie (Samro) geregistreer, en hy beskuldig Guetta, ’n superberoemde internasionale dansmusiekster, van plagiaat. Sy dispuut, wat nog hangende is en waaroor Guetta nog geen woord gerep het nie, is op die bepalings van die Bern-konvensie gegrond. Intussen het Samro alle tantieme gevries wat dié betrokke snit in Suid-Afrika kan oplewer.

Die Outeursregwet maak egter ook voorsiening vir vryskelding van kopieregskending, mits dit vergesel word van ’n gepaste erkenning, vir die doeleindes van:

  • navorsing of studie,
  • kritiek of ’n resensie,
  • verslaggewing,
  • geregtelike verrigtinge,
  • aanhaling,
  • opvoedkundige illustrasies, en
  • tydelike rugsteun, ens.

Skending gedy

Al is daar geen amptelike statistiek oor die aantal kopieregskendings wat jaarliks in Suid-Afrika voorkom nie, gedy dit ongetwyfeld. Volgens die Internasionale Intellektuele Eiendomalliansie (IIPA) is kopieregskending ’n wesenlike probleem wat wyd voorkom, veral in die kuberruim.

Die IIPA se 2022-verslag meld spesifiek dat die Suid-Afrikaanse owerhede min erns toon oor die roofkopiëring van musiek, rolprente en televisieinhoud, en dat wetstoepassing hiér ver tekort skiet in vergelyking met internasionale standaarde.

Tot ’n paar jaar gelede kon jy maklik foto’s en illustrasies direk uit Google se soekresultate na enige ander platform pos. Intussen is dié funksie verwyder en ’n bykomende stap ingestel om foto’s en illustrasies wat die soekenjin oplewer, te stoor of elders te pos. Internetgebruikers het natuurlik gal gebraak, maar vir Google was dit belangrik om bykomende beskerming aan die skeppers van kopieregdraende grafika in hul databasis te bied. Dit was ’n beduidende beleidsverandering, gerig op soekenjingebruikers wat vryelik daarmee omgegaan het, sonder enige kommer oor kopieregbeskerming.

Luidens ’n verslag van Copytrack word sowat 3 miljard foto’s en illustrasies daagliks op die internet gelaai, waarvan tot 85% kopieregskendings kan wees. Die meeste van hierdie oortredings word as onbenullig geag en nie vervolg nie, omdat die waarde daarvan nie opweeg teen ’n duur en uitgerekte hofproses nie.

Dit is egter ’n heel ander storie wanneer kopieregbeskermde grafika sonder toestemming gebruik word vir enigiets wat direkte of indirekte inkomste genereer. Dan mag kopiereghouers dagvaardigings op oortreders bestel, om te eis vir skadevergoeding of verliese weens onreëlmatige gebruik van hul intellektuele eiendom.

As jou rugsakfabriek byvoorbeeld ’n kopieregbeskermde prent sonder toestemming of geldige lisensie op ’n rugsak druk, maak elke rugsak wat jy verkoop bykomende inbreuk op die kopiereghouer se regte en word jou aanspreeklikheid meer. Selfs al genereer die prent nie regstreeks vir jou ’n wins nie, kan jy aanspreeklik gehou word vir skade en verliese van verlore webverkeer wat na jou toe kom, of vir die advertensie-inkomste van die webblad waarop die kopieregbeskermde prent verskyn.

Die hele punt van kopieregwetgewing is om kreatiwiteit aan te moedig, sonder om afbreuk te maak aan die regte en vryhede van nóg die skepper van oorspronklike werk, nóg die algemene publiek.

(Foto: iStock)

Kopieregboelies of -trolle

Boonop steek splinternuwe skelmstreke al meer kop uit: Kopieregtrolle wat van groot mediahuise tot individue met regsaksie oor beweerde kopieregskending dreig. Die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies (no. 25 van 2002) skep ’n manier om inbreukmakende materiaal op die internet vinnig te laat verwyder met behulp van kennisgewings (sogenaamde “Take-down Notices”) aan kopieregskenders. Die internet is egter ook ’n verraderlike ruimte waar gewetenlose skurke helder oordag strikke stel om niksvermoedende slagoffers te beroof.

Kopieregtrolle of -boelies is “entrepreneuriese” individue wat die regsbedeling misbruik om munt uit kopieregskendings te slaan. Hoewel die verskynsel reeds lankal in die Amerikaanse en Europese kopiereglandskap voorkom, is dit relatief onbekend in Suid-Afrika. Dit is moeilik om uit te vind presies hoeveel keer dit al hier gebeur het omdat die meeste slagoffers waarskynlik vinnig skik.

Kopieregtrolle verkry, op welke wyse ook al, ’n pasgemaakte belang in ’n kopieregdraende werk met die uitsluitlike doel om eise op daardie kopiereg af te dwing teen mense of instansies wat uitgevang word dat hulle daardie kopiereg skend, of dit nou doelbewus was of nie. Hulle teiken soms honderde of duisende mense op een slag met dreigbriewe wat “kopieregskenders” boelie om vinnig te skik teen bedrae wat net-net goedkoper is as om die eis teen te staan. Hierdie briewe voer min of geen bewyse aan nie, maar die meeste mense skrik só groot dat hulle dit betaal sonder om hul regte ten volle te verstaan.

Een voorbeeld van ʼn metode wat houers van kopiereg op pornografiese materiaal gebruik, is om internetverskaffers te dagvaar om die anonimiteit van spesifieke IP-adresse te verbreek. Só verkry hulle die identiteit van die persoon wat die pornografie van daardie IP-adres af afgelaai het. Hierdie mense kry dan elkeen prokureursbriewe wat enorme bedrae eis, met die opsie om onmiddellik teen ’n laer bedrag te skik. Die slenter word nou ook wêreldwyd gebruik om kopiereg op ander materiaal te ontgin, soos “stockphotos” waarvan die kopiereg nie duidelik gemerk is nie.

Stuit kopieregboelies só

  • Maak seker hulle is na jou op soek, want hulle eis dikwels van die verkeerde mense.
  • Bepaal of die boelie die werklike houer van die kopiereg is en kry bewyse.
  • As jy wel uitgevang is, weeg die koste van die eis teen die koste van ’n regsgeding op.
  • Moenie dat dreigemente vir skadevergoeding jou dwing om onredelik te skik nie.
  • Dieselfde geld vir prokureursfooie, moenie jou laat boelie nie.
  • As jy moet, skik so gou moontlik vir ’n redelike bedrag.

As jy in ’n bedryf werk wat op die gebruik en verspreiding van foto’s en prente op die internet (en selfs in gedrukte formaat) staatmaak, moet jy jou vooraf van kopieregbepalings vergewis. Regsadvies is deesdae dikwels nodig én noodsaaklik om jou pad deur die toenemende digitale landmyne te navigeer.

Dink ook twee keer voordat jy daardie reeks, rolprent of trefferliedjie van ’n onregmatige platform aflaai, veral dié wat onbeperkte, lidmaatskapvrye stroming beloof. Onthou, jou IP-adres is soos jou digitale vingerafdruk, en die vooruitsig van die beloofde, eindelose gratis vermaak is heel moontlik ’n sponsdoring waaragter ’n kopieregtrol lê en loer.

Bykomende bronne: Lexology, Schindlers, Peacock Law, Dunner Law,  Smit & van Wyk, Werksmans, Thomson Reuters Practical Law.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marthinus W ·

n Hele rukkie gelede het ons regering ontdek dat Helmut Lotti ons volkslied opgeneem, en onder sy naam geregistreer het; hy het dus die tantieme ontvang. Hulle het die saak aangevat, maar wat daaevan geword het, weet ek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.