Meer hommeltuie beteken nog uitdagings vir wetgewing

(Foto: David Henrichs/Unsplash)

Waarneming met behulp van hommeltuie is vinnig besig om ʼn algemene verskynsel te word. Dit het by militêre gevegte begin, maar het reeds na ander afdelings van wetstoepassing en immigrasiebeheer versprei.

“Dit skep nuwe uitdagings vir internasionale menseregtewetgewing en internasionale humanitêre wetgewing, want ons burgerlike vryheid kan ingedoen word soos wat hommeltuie gebruik word om ons aktiwiteite en bewegings te monitor,” sê ʼn kenner van internasionale betrekkinge, dr. Raenette Taljaard.

Taljaard het onlangs haar doktorsgraad in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf.

Taljaard het ’n versameling toesprake van belangrike beleidmakers in die Obama-administrasie oor die gebruik van hommeltuie ontleed. Hierdie toesprake is gelewer in ’n tyd toe die gebruik van hommeltuie meer algemeen en sigbaar geword het.

Sy het ook ondersoek ingestel na hoe hommeltuie in rolprente uitgebeeld en gebruik word, en hoe sulke uitbeeldings die publiek se mening oor die gebruik daarvan, regverdig. In teenstelling hiermee het sy ’n ontleding gedoen oor die weerstand van sodanige normalisering deur, onder meer, die Verenigde Nasies (VN) se spesiale rapporteur, en transnasionale globale menseregteorganisasies soos CODEPINK en die Campaign to Stop Killer Robots.

Taljaard het belanggestel in hoe daar wêreldwyd oor hommeltuie gepraat word, hoe mag en geteikende doodmaak gebruik word, en hoe dit genormaliseer word. Boonop wou sy uitvind wat die geopolitieke en geostrategiese implikasies hiervan kan wees.

“Die studie het bevind dat die gebruik van hommeltuie deur politici, beleidmakers en die populêre kultuur deur middel van rolprente genormaliseer word,” sê Taljaard.

Sy voeg by dat sulke normalisering ’n “fundamentele uitdaging vir die kernbeginsels van internasionale wetgewing, internasionale menseregtewetgewing en internasionale humanitêre wetgewing inhou.”

“Die studie merk bekommernisse oor wat sodanige normalisering vir sowel toekomstige oorloë waar dodelike outomatiese wapens gebruik word, inhou, as die geopolitieke gevolge van hierdie oorloë as die vasgestelde bepalings van internasionale wetgewing oorskry word.

“Twee spesifieke insidente, naamlik Iran wat ’n VSA-hommeltuig in sy lugruimte afgeskiet het, en ’n hommeltuigaanval op Saoedi se olievelde, het gewys hoe verskriklik ’n hommeltuigoorlog in ’n plek soos die Midde-Ooste kan wees.”

Dit is dus nie ’n verrassing dat internasionale menseregtegroepe en die VN se spesiale rapporteur die normalisering van hommeltuiggebruik teenstaan nie, sê Taljaard.

“In die konteks van die VN se ontwapening-gesprekke rakende die Konvensie oor konvensionele wapens, is kennergroepe oor dodelike outomatiese wapenstelsels, die Campaign to Stop Killer Robots en ander soortgelyke burgerlike samelewingsgroepe, besig om vordering te maak in hul soeke na ’n beleid om dodelike outomatiese kernwapenstelsels te verban.”

hommeltuig-hommeltuie-tegnologie

(Foto: George Kroeker/Unsplash)

Volgens Taljaard is daar ’n behoefte aan groter openbare bewusmaking aangaande die beduidendheid van sekere breë veranderinge in die samelewing wat deur hierdie nuwe stelsels voorgestel word.

“Ons het ’n behoefte aan meer duidelikheid en deursigtigheid, en meer omvattende samewerking tussen akademici, die burgerlike samelewing, steunwerwers en multilaterale en regionale liggame. Dit sal help om ’n beter diskoers en beleidsproses oor hommeltuie te verseker, wat weer ruimte sal skep vir produktiewe invloed tot voordeel van die mensdom. Dit sal wyer strek as die binêre gesprekke wat tans heers oor of hommeltuie ‘goed’ of ‘sleg’ is.”

Nog ’n saak waaraan Taljaard voel daar moet aandag gegee word, is die “eindelose kloof tussen tegnologies gedrewe oorlogvoering-besluite wat gesetel is in die kern van die owerheid se uitvoerende mag en die uitgebreide uitvoerende mag in die konteks van oorloë of publieke noodgevalle, en die kapasiteit van wetgewers en wetgewende liggame om by te bly en behoorlike toesig te handhaaf.”

Taljaard sê dat selfs al het die gebruik van hommeltuie in gevegte meesal in Irak, Afghanistan, Pakistan, Jemen en Somalië plaasgevind, is daar in baie state wêreldwyd ʼn vinnige toename in die ontwikkeling van hommeltuig- en hommeltuigswermtegnologie.

“Ons is reeds op ’n plek waar die toename in hommeltuie wêreldwyd plaasvind. Daar is geen twyfel dat hommeltuie en hommeltuigtoename, en die samelopende en voortslepende waarneming globale onstabiliteit, dramaties sal verhoog nie.”

Volgens Taljaard sal haar bevindinge, onder meer, beleidmakers, wetgewers en navorsers help wat op die toename van die toesighoudende staat, die gebruik en vermeerdering van hommeltuie, en die toenemende globale geopolitieke spanning en konflik fokus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

Is dit nie maar net soos atoombomme nie? As een land een het word hulle gevrees, as alle lande een het, word dit gerespekteer?

Wynand ·

Sulke dinge maak my net vies. Dit bewys net die wat by die reëls bly word net meer gestraf as die wat dit breek.
As entrepeneur het ek in 2015 toerusting aangeskaf om ‘n ingenieurs en siviele diens te verskaf. Nou word ek gestraf met ekstra reëls en regulasies omdat ander aanjaag, en dit raak net erger. Die massiewe hoeveelheid geld wat ek moet betaal, buiten die onderhoud, maak dit amper onmoontlik om met groter maatskappye te kompeteer. Ek het self voorstelle aan SAMAA gemaak vir die ontwikkeling van tegnologie wat lankal in ander lande gebruik word vir die monitering van hommeltuie maar geen antwoord gekry nie. Dit wil voorkom dat die geld in iemand se sak gaan i.p.v. ontwikkeling.
‘n Motor kan ‘n baie meer plofstof dra met gewapende personeel, maar tog word dit nie onder dieselfde regulasies gedwing nie.
Daar was nog geen hommeltuig aanval in SA nie.

Suzette ·

Ek sal graag wil weet hoe wettig is dit as ‘n persoon in ‘n woonbuurt ‘n hommeltuig rondvlieg – wat van inwoners in die ander huise se privaatheid – dit word mos geskend. Het onlangs so voorval in Bloemfontein noordelike area beleef.

koos10 ·

Suzette, daar is wette daaroor, maar soos alle wette in SA word dit nie gerespeteer, deur sommige mense, nie. Dan is die moeilikste deel om dit te polisieër. As die SAPS nie toevallig die persoon sien of kry nie, sal hulle niks kan doen nie. Kry vir jou ‘n goeie windbuks!

Die Wolf ·

Sterk voorstander vir georganiseerde wetstoepassing en landelike sekerheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.