Staak dié slegte gewoontes vir jou selfoonbatterylewe

Argieffoto. (Foto: Karolina Gabowska/Pexels)

Selfone word lankal nie meer net vir oproepe en kort boodskappe gebruik nie, maar is vandag eerder ʼn alles-in-een vermaaktoestel waarsonder ons byna magteloos voel.

Daarom is dit vir die meeste van ons nie ongewoon om ons selfone twee of selfs drie keer ʼn dag te probeer laai nie, maar tegnologie-kenners meen slegte laaigewoontes kan jou slimfoon se batterylewe verkort of ontwrig as jy nie versigtig is nie.

Wanneer en hoe vol moet ʼn selfoon gelaai word?

Tech Advisor verduidelik dat ʼn selfoonbattery se lewensduur tussen 500 en 1 000 “goeie laaisiklusse” insluit en daarna mettertyd swakker raak.

Hulle lys die aantal laaisiklusse, selfoontemperatuur en ouderdom as die drie grootste sondaars vir verswakte selfoonbatterylewe.

Argieffoto. (Foto: Steve Johnson/Pexels)

Daarom is die goue reël om jou battery iewers tussen 30% en 90% vol te hou om sodoende te keer dat sy litiumioonbattery vinniger verouder. Terselfdertyd moet jy nie jou foon herhaaldelik laat leegloop nie om te keer dat sy algehele kapasiteit verminder.

Om dié rede sal jy dit dalk wil heroorweeg om jou foon oornag ingeprop te laat. Samsung stel voor dat selfone eerder soggens voor werk of by die werk gelaai moet word.

Trouens, ʼn volledige siklus (van 0 tot 100%) word maandeliks aanbeveel net om die battery van tyd tot tyd ʼn hupstoot te gee, sonder om die optimale funksionering daarvan te beïnvloed.

Party slimfone laat gebruikers selfs toe om ʼn kennisgewing op hul foon te stel wat die batteryvlak net tot ʼn sekere persentasie laai.

Vermy goedkoop laaiers

Omdat hitte jou battery se grootste vyand is, het die meeste moderne hoëgehalte-selfoonlaaiers stroombane binne-in wat outomaties afskakel wanneer daar te veel kragverbruik is. Dít verhoed dus dat jou foon oorlaai of oorverhit.

Sommige goedkoop laaiers en kabels bied egter nie hierdie soort beskerming nie en kan jou foon se battery in die lange duur beskadig.

Wees versigtig met kragbanke (power banks)

Wees versigtig met kragbanke (power banks). (Foto: Karolina Gabowska/Pexels)

Net soos met goedkoop laaiers, kan goedkoop kragbanke jou battery mettertyd verwoes. Maak seker dat enige kragbank wat jy gebruik oorlaaibeskerming het.

Indien nie, kan jy dit steeds gebruik, maar ontkoppel dit voor dit 100% bereik het.

Moenie jou foon gebruik terwyl dit laai nie

Hoewel dit nie altyd moontlik is, stel kenners voor dat jy jou foon los terwyl dit gelaai word. Die foon se temperatuur styg dan maklik en meer druk word op die battery geplaas.

Jy kan egter jou foon se laaityd versnel deur dit op “airplane mode” te stel terwyl dit gelaai word. Dit bespaar battery omdat die foon se mobiele data outomaties afgeskakel is.

Nog ʼn manier om jou foon vinniger te laai is om dit op ʼn kragbesparingstelling (power saver) te sit.

Moenie jou selfoon in sy kassie laai nie

Appel Suid-Afrika stel voor dat slimfone nie in hul kassie gelaai moet word nie omdat dit ook dikwels oortollige hitte genereer, wat die batterykapasiteit kan beïnvloed.

Bronne: USA Today, Tech Advisor, Apple.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sterling ·

Meeste nuwe slimfone het tegnologie in om te keer dat die foon verder laai wanneer dit vol is. So om dit oornag te laai is nie meer ‘n probleem nie.

Doen ordentlik navorsing en lees die vervaardiger se notas ipv om te glo wat meningvormers of altans ‘influencers’ kwyt raak.

Die belangrikste ding om in ag te neem is daai laai siklus van ‘n battery.
Littium batterye het meer siklusse as lood batterye voor hulle kaput is. So al gee die batterye soortgelyke ampere of volts, die leeftyd is afhanklik van die siklusse, wat afhanklik is van die material wat gebruik is om die battery te vervaardig.

Dan ook, as jy jou foon inprop en jy laai hom net 30% en gebruik hom, dan laai jy hom weer 30% – daai is 2 laai siklusse. Noodgeval is ‘n noodgeval, maar om gou jou foon te ontkoppel om iets te wys en dan weer op laai te sit, mors ‘n laai siklus

Pierre ·

Ek verskil oor die laai siklus, Lithium batterye se laai siklus word nie gebaseer op die hoeveel kere jy dit aan krag koppel nie, n siklus bestaan uit die hoeveelheid wat gelaai kan word, 30 + 30 = 60% wat nog n siklus is nie daar is vele faktore soos diepte van discharge ens wat n impak het maar n siklus behoort tussen 85% en 90% laai wees.

Tannie Sannie ·

Ek stem saam met Pierre,
mens tel beslis nie ‘n vinnige inprop en uitprop as ‘n laaisiklus nie.
‘n laaisiklus is ‘n beduidende verandering in kapasiteit, gewoonlik van leeg na vol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.