Nuwe navorsing toon dat die aanwesigheid van suurstof op ’n ander planeet nie noodwendig sou beteken dat daar lewe op die planeet is of was, wat suurstof deur fotosintese geskep het nie.
Navorsers van die onlangs geskepte Astrobiologiesentrum van die National Institutes of Natural Sciences het bevind suurstof kan ook op ’n nie-biologiese wyse geskep word, veral deur ’n fotokatalistiese proses op titatanium-oksiede wat algemeen op ander hemelliggame voorkom. Hul bevindings, wat as hipotese beskryf word, is pas in die vaktydskrif Scientific Reports gepubliseer. Volgens hul navorsing hoef net ’n half persent van ’n planeet soos die aarde met titanium-oksiede bedek te wees om ’n soortgelyke a-biotiese suurstoflesing te lewer as wat nou biologies gelewer word. Op ’n baie koue planeet sou ’n drie persent bedekking genoeg wees.
Die navorsers meen wetenskaplikes wat lewe op ander planete soek sal ander biomerkers moet vind om seker te maak hulle beoordeling of daar lewe aanwesig is, is nie moontlik vals nie.
Bron: EurekAlert