Is sjokolade regtig giftig vir honde?

(Foto: iStock)

Ja, sjokolade is werklik nie goed vir honde se gesondheid nie, en alhoewel dit gelukkig selde dodelik is vir jou vierpotige vriend, kan sjokolade jou hond vreeslik siek maak. Dit hang ook natuurlik af van die grote van jou hond, hoe gesond jou troeteldier is en hoeveel hy van die lekkerny verorber het, maar sjokolade in groot hoeveelhede kan wel dodelik wees vir troeteldiere.

Volgens die Johannesburgse Dierebeskermingsvereniging (DBV) is sjokolade giftig omdat dit ʼn chemiese komponent genaamd teobromien bevat, sowel as kafeïen. Mense kan maklik teobromien metaboliseer, maar ʼn hond se gestel sukkel om dit te verwerk, wat beteken dat dit tot toksiese vlakke kan opbou.

Volgens die DBV is sjokolade net so gevaarlik vir jou kat.

“Hoe donkerder die sjokolade, hoe gevaarliker is dit. Die chemiese komponente is stimulante en ouer diere, of troeteldier met hartkwale, loop ʼn groter risiko om van sjokoladevergiftiging dood te gaan,” sê dié organisasie.

Donkersjokolade, kooksjokolade en kakao bevat hoër vlakke van teobromien; net 25 g kan genoeg wees om ʼn hond van 20 kg te vergiftig.

Tekens van sjokoladevergiftiging kan gewoonlik binne 6 tot 12 uur verskyn nadat jou troeteldier dit ingeneem het en die simptome kan tot 72 uur duur.

Volgens die kenners by Hills Pet sal ʼn klein hoeveelheid sjokolade jou hond waarskynlik net ʼn omgekrapte maag gee. Hy kan ook opgooi of diarree hê. Groot hoeveelhede sjokolade sal egter ʼn ernstiger effek hê, wat kan lei tot onreëlmatige hartkloppings, inwendige bloeding of ʼn hartaanval.

Waarna om op te let:

Foto ter illustrasie. (Foto:
Marliese Streefland/Unsplash)

Die aanvang van teobromienvergiftiging word gewoonlik gekenmerk deur erge hiperaktiwiteit.

Jy hoef jouself darem nie te veel te bekommer as jou hond ʼn enkele sjokoladeblokkie geëet het nie, maar ʼn klein hondjie wat ʼn hele boks sjokolade verorber het moet dadelik by die veearts uitkom.

Simptome van sjokoladevergiftiging:

  • Braking
  • Diarree
  • Rusteloosheid
  • Verhoogde urinering
  • Verhoogde liggaamstemperatuur
  • Verhoogde refleksreaksies
  • Spierstyfheid
  • Vinnige asemhaling of hyg (gewoonlik nie by katte nie, wat nie hyg om hulself af te koel soos honde doen nie)
  • Verhoogde hartklop
  • Lae bloeddruk
  • Toevalle
  • Gevorderde tekens is hartversaking, swakheid en ʼn koma

Beide organisasies beveel aan dat jy jou troeteldier by die veearts kry as jy vermoed die dier het ʼn groot hoeveelheid sjokolade gevreet.

“As jou troeteldier die sjokolade minder as twee uur vantevore verteer het, kan jou veearts braking veroorsaak en vir hulle verskeie dosisse geaktiveerde houtskool gee, wat werk om die gifstowwe uit die liggaam te beweeg sonder om in die bloedstroom opgeneem te word.

“Vir meer ernstige gevalle kan veeartsenykundige ingryping nodig wees om aanvullende behandeling te verskaf, soos medikasie of binneaarse vloeistowwe, om die gevolge van die vergiftiging op te los.

“Honde wat aan aanvalle ly, moet dalk oornag gemonitor word,” het die DBV gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.