Motorfietsklub se wiele draai om mishandelde honde warm te hou

Die motorfietsklub MAC’S MCC is SAD-ambassadeurs. (Foto: Verskaf)

Lede van die Mac’s-motorfietsklub het die afgelope naweek gehelp om sowat 600 kg se kos en komberse vir die Soldiers Against Dogfighting (SAD) in te samel en sodoende te help dat mishandelde honde wat deur dié unieke diereskuiling versorg word, hierdie winter warm bly.

Maroela Media het vroeër berig dat dié motorfietsklub, wat deurlopend by verskeie liefdadigheidsprojekte by kinder- en ouetehuise betrokke is, sedert verlede jaar amptelike SAD-ambassadeurs is en hul platforms gebruik om dié skuiling te ondersteun deur bewusmaking te skep oor die belangrike werk wat gedoen word.

SAD sien slegs om na diere wat slagoffers van mishandeling was en spesiale versorging en rehabilitasie vereis. Dié niewinsgewende organisasie word deur Michael Costa en sy span bestuur en vat gereeld hande met ander instansies om bewusmaking oor hondegevegte onder die publiek te kweek.

Sowat 600kg se kos en komberse is ingesamel. (Foto: Verskaf)

Charles Smidt, sanger van die Beeskraal-musiekgroep en ʼn Mac’s-lid, beskryf hondegevegte as “’n dobbelary met weerlose dierelewens” en meen skuilings soos SAD sukkel om skenkings van die publiek in te samel, veral omdat hulle nie noodwendig so groot en gewild soos meer gevestigde skuilings is wat ‘gewone’ diere versorg nie.

“Ons as Mac’s-motorfietsklub se Pretoria Thunder 1313 ‘chapter’ ondersteun daarom elke jaar graag hierdie merkwaardige skuiling vir die onbaatsugtige werk wat hulle doen. Danksy ʼn ongelooflike borg van Madelein May Marais van Premier Mats & Accessories en DNS Hardeware in Pretoria, kon ons nagenoeg 600 kg se kos en komberse vir hulle insamel,” verduidelik Smidt.

SAD sien om na diere wat slagoffers van mishandeling was. (Foto: Verskaf)

“Mense soos SAD stel hulle lewens in gevaar om hierdie tipe reddings- en rehabilitasiewerk te doen.”

Maroela Media het ook vroeër berig dat hondegevegte aan die toeneem is en dikwels ook verbind word met ander misdadige bedrywighede soos die besit van onwettige vuurwapens, dwelms, onwettige dobbelary en gesinsgeweld.

Hondegevegte is ʼn onwettige praktyk in Suid-Afrika en diegene wat daaraan skuldig bevind word, kan ʼn boete van tot R80 000 of tronkstraf opgelê word.

  • Mense wat SAD wil ondersteun kan Savanna Costa by 072 567 5199 skakel of die skuiling se Facebook-blad besoek.
  • Lees die DBV se wenke om hondegevegte te erken en te rapporteer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Baie dankie Mac s en ook al die ander klub ryers wat so mildelik bydra tot liefdadigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.