Ontwurm jou troeteldier gereeld

Troeteldiere wat ontwurm is, is beslis gelukkiger diere. (Foto verskaf)

Gereelde ontwurming is deel van enige vierpotige vriend se roetinesorg, juis omdat dit nie altyd maklik is om te sien wanneer hulle wurms het nie en dit byna amper onmoontlik is om dit heeltemal te voorkom.

Hoekom moet ek my troeteldier ontwurm?

Parasiete soos wurms voed op die voedingstowwe in hul gashere, wat kan lei tot wanvoeding, gewigsverlies en ʼn verswakte immuunstelsel. Langdurige besmettings kan tot meer ernstige komplikasies lei, wat verskeie organe en stelsels in jou troeteldier se liggaam kan aftakel.

Gereelde ontwurming is van kardinale belang om jou troeteldier se gesondheid te beskerm deur parasiete uit te skakel en hul liggame toe te laat om voedingstowwe behoorlik te absorbeer. Dit help om hul lewenskragtigheid, eetlus en energievlakke te handhaaf, wat ʼn gelukkige en aktiewe leefstyl bevorder. Dit beskerm ook jou en jou gesin teen enige besmetting.

Tekens en simptome van besmetting

Voorkoming is altyd beter as genesing, maar dit is ʼn goeie idee om die simptome van ʼn wurmbesmetting te ken sodat jy jou troeteldiere die behandeling kan kry wat hulle nodig het.

Rondewurms is een van die mees algemene soort wurms by troeteldiere, veral klein hondjies en katjies. Simptome van rondewurmbesmetting kan ʼn verlengde buik (potpens), swak pelsgesondheid eetlusverlies, donker teeragtige diarree en braking insluit. Jou troeteldiere kan ook sukkel om enige gewig op te tel. Ascaris-rondewurm kom gewoonlik in klein hondjies voor en in sekere gevalle sal ʼn mens die wurms sien uitkom uit die hondjie.

Haakwurms is bloedsuiende parasiete wat bloedarmoede en bloedverlies by troeteldiere kan veroorsaak. Simptome kan bleek tandvleis, swakheid, moegheid en donker, teeragtige diarree insluit. In ernstige gevalle kan haakwurms tot lewensgevaarlike komplikasies lei, veral by jong of verswakte diere.

Simptome van lintwurmbesmetting kan swak pelsgesondheid, velletsels, honde wat hulle agterente oor vloer of gras skuif, oormatige lek rondom die anale area en, soms, gewigsverlies insluit.

Sweepwurms raak hoofsaaklik honde en kan gastro-intestinale probleme veroorsaak. Simptome kan chroniese diarree insluit, soms met slym of bloed, gewigsverlies en moegheid.

Wat moet ek gebruik, en wanneer?

Wurmbesmettings by troeteldiere kan verskeie spesies betrek en elke tipe wurm vereis ʼn spesifieke behandeling of kombinasie van behandelings om dit doeltreffend uit te skakel. Dr. Jan Mol, Bob Martin’s se veeartsenykundige konsultant, beveel aan dat die korrekte produk op die regte tyd gebruik moet word om die korrekte dekking op die regte tyd te verskaf. Dit hang af van die ouderdom en grootte van die troeteldier, sowel as die tyd van die jaar.

By baie jong hondjies en katjies kan sleg ʼn rondewurm- en haakwurmproduk gebruik word. Hierdie produkte is veiliger vir kleiner diere en op hierdie jong ouderdom was daar nog nie tyd vir ʼn lintwurm- of sweepwurmbesmetting nie. Soos hulle ouer word, moet ʼn behandeling teen lintwurms ook ingesluit word, en op ʼn veilige ouderdom moet ʼn volspektrumproduk gebruik word.

Oor die algemeen moet katjies en hondjies maandeliks ontwurm word vanaf vier tot agt weke, tot op die ouderdom van ses maande.

Ontwurming by volwasse diere moet ten minste vier keer per jaar met ʼn breëspektrum ontwurmingsmiddel gedoen word – veral as jy jou troeteldier uitneem vir ʼn wandeling in parke en oop ruimtes aangesien hulle dikwels die wurmeiers daar optel. Dit is belangrik om te verstaan dat selfs binnenshuise troeteldiere aan wurmeiers blootgestel kan word, aangesien dit deur eienaars self op hul skoene ingebring kan word, en ander diere in jou omgewing soos ander troeteldiere, akkedisse, voëls, knaagdiere en vlooie kan ook wurms oordra.

Verder is dit van kardinale belang om te verstaan wat gebruik moet word wanneer jy jou troeteldier wil behandel, aangesien daar baie produkte op die mark is. Sommige breëspektrumprodukte vir alle wurms behandel dikwels nie lintwurms nie en troeteldiereienaars moet bedag wees hierop.

Lintwurms is ʼn besonder algemene en aanhoudende probleem by troeteldiere. Hulle word opgetel deur die inname van vlooie en word dus ook meestal gesien gedurende die warmer maande wanneer vlooie meer dikwels voorkom. Daarom is behandeling met ʼn breëspektrumproduk veral belangrik gedurende hierdie tyd van die jaar.

Bob Martin het ʼn reeks ontwurmtablette vir katte en honde van alle ouderdomme en groottes. Om die mees geskikte ontwurmmetode vir jou troeteldier te bepaal, is dit altyd raadsaam om ʼn veearts te raadpleeg. ʼn Veearts kan jou troeteldier se spesifieke behoeftes evalueer, hul mediese geskiedenis oorweeg en pasgemaakte aanbevelings verskaf.

Maak dit ʼn lekker bederfie

Die toediening van ontwurmingsbehandelings aan ons troeteldiere kan soms ʼn uitdagende taak wees. Tablette bied die voordeel van gerief en gemak van administrasie. Hulle kan maklik in ʼn lekkerny versteek word of in ʼn klein hoeveelheid kos toegedraai word, wat hulle smaakliker maak en makliker vir jou troeteldier om te eet. Baie ontwurmingstablette is geformuleer om smaaklik te wees en proe soos ʼn lekkerny. Bob Martin het ook ʼn ontwurmingspoeier wat jy eenvoudig in jou troeteldier se gunstelingkos meng as jy dit te moeilik vind om die tablette te gee – so voila! Dit help om te verseker dat die hele dosis ingeneem word, wat die doeltreffendheid van die behandeling verhoog.

Ontwurmde troeteldiere is natuurlik gelukkige troeteldiere. Om jou troeteldier te ontwurm is ʼn fundamentele stap in die handhawing van die gesondheid en welstand van jou geliefde harige vriende. Dit is ʼn bekostigbare en maklike stap in jou troeteldier se gesondheidsorgroetine en een wat hulle die beste kans op ʼn gesonde lewe sal gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Jy moet ook die ontwurming medikasie afwissel. Nie elke keer dieselfde nie. En al die diere moet gelyk ontwurm word. En moennie van die mens vergeet nie. As jy troeteldiere het, moet almal in die gesin ook ontwurm word elke 6 maande. En dis nie ‘n skande nie. Tot die babas moet ontwurm word. Ons doen dit al vir baie jare. Onthou ons kinders loop kaalvoet en trap ook in allerhande goed. So, hou die hele huishouding gesond en geniet ons troeteldiere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.